Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het ons nou moordboelies?
Barnard Beukman

Alweer ’n boelievoorval in ’n Gautengse laerskool, alweer ’n kind oorlede.

Nog vars in Johannesburg se geheue is die skietselfdood van die 12-jarige Anneke Mostert net meer as twee jaar gelede. Daar is destyds vinnig na depressie verwys, al was daar volgens maats talle voorvalle van ’n gespottery en afknouery.

Dié keer is dit die 13-jarige Louis de Jonge van die Noorderlig Gekombineerde Skool in Benoni. Hy is vermoedelik deur boelies by die skool seergemaak en het gesterf. Ondersoeke word nog gedoen, maar ook hy en sy 14-jarige broer was aan etlike boelievoorvalle onderwerp.

In sy geval het hy daaroor gekla en sy ma, Elmarie, het sy saak probeer opneem: “Ons het nie ’n voertuig nie, so ons het aan die skool briewe gestuur waarin ek verduidelik wat die boelies aan my kinders doen. Ek was ook al in die hoof se kantoor daaroor en ek het al met die beheerliggaam gepraat. Hulle het daarvan geweet.”

Intussen swyg die skool in opdrag van die onderwysdepartement. Maar die gemeenskap kan nie toelaat dat dit daar gelaat en mettertyd agter die skerms uitgesorteer word sodat daar net aanbeweeg kan word nie.

In dié geval is dit nodig om te weet presies wat die oorsaak van sy dood was, of daar gemene spel was en of strafregtelike vervolging nodig is.

Die ongelooflike geweten-loosheid waarmee boelies altyd deur sommige beskerm word, kan nie meer geduld word nie

Maar net so belangrik – wat het die skoolhoof en beheerliggaam gedoen nadat hulle sulke klagtes ontvang het? Of het hulle bloot hul gang gegaan? Dit moet volledig openbaar word. Hopelik doen die departement sy deel in dié verband – Beeld sal beslis.

Die ongelooflike gewetenloosheid waarmee boelies altyd as eerste reaksie deur sommige beskerm word, kan nie meer geduld word nie. Soms weens die invloedryke rol van die boelies se ouers by die skool.

Die goeie nuus is dat daar heelwat skole en veral ook laerskole is wat uitstekende werk doen met programme om boeliegedrag teen te werk en ’n veilige ruimte vir leerlinge te skep.

Dit is nodig dat dit steeds verder bevorder word. Skoolgrondgeweld moet ongenadig gestuit word. Die regte van slagoffers moet vir eens sterker vestig as die regte van oortreders.

Die gebruik van die woord “moordboelies” in die opskrif is nie ligtelik gedoen nie, maar is dwingend metafories van wat die slagoffers van enige vorm van afknouery aangedoen word – selfs al is dit nie fisiek nie.

Ons mag ook nooit dat Louis, Anneke en ander se name ooit vergeet of deel van die stiltes in ons gesprekke word nie.

Hulle is die gesig van ons innerlike stryd oor wie ons as mensdom en gemeenskap is.

(Kontak Beeld gerus oor enige voorvalle.)

Meer oor:  Barnard Beukman  |  Leerlinge  |  Onderwys  |  Boelies  |  Skoolkinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.