Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het skape ook regte?

Het skape regte? Skaapagtige mense het natuurlik regte, insluitend die reg om soos ’n skaap op te tree. Maar het regte skape regte? vra regter Johann van der Westhuizen.

Sket: Hanlie Malan

Ons Grondwet erken alle fundamentele menseregte, maar sê niks van diereregte nie. Tog protesteer “diereregteaktiviste” teen wreedheid teenoor diere; asook wanneer ’n jagter uitspattig spog langs ’n dooie olifant of toe ’n kameelperd by ’n dorpsfees op ’n spit gebraai sou word.

Al oorweldig my liefde vir koedoebiltong my bedenkinge oor jag, pla dit my dat “geblikte” leeus deur ryk Amerikaanse grootbekke geskiet word vir ’n foto wat versigtig die draadheining van die klein kampie uit die agtergrond sny. Die eens manjifieke maanhaarkop word dan seker met dooie glasoë uitgestal in ’n vals Afrika vertrek in ’n huis in die Trump-styl.

Die Grondwet erken in art. 24 die reg op ’n gesonde omgewing en bewaring van die natuur vir ons nageslag. Daarom beheer wette die vang en doodmaak van wilde diere.

Hoekom pla geblikte leeus?

Waarom pla die jag van geblikte leeus ons? Is dit onregverdig omdat ’n vasgekeerde, makkerige leeu geen billike kans het nie? Probeer ons vasklou aan die romantiese beeld van die heldhaftige jagter wat groot gevaar trotseer deur ’n leeu aan te durf? Hoeveel kans het ’n vryer leeu om homself teen ’n moderne jaggeweer met ’n langafstandvisier in ’n Hilux te verdedig?

Ons praat nie van Simson wat die leeu se kake met kaal hande oopskeur, Tarzan wat in ’n Speedo ongediertes met sy mes doodsteek, of ’n indoena in ’n luiperdvel wat ’n maanhaar met sy assegaai aandurf nie.

Hierbenewens sê die eienaar van die leeu dat hy met sy eiendom mag doen soos hy wil – en juis die dier vir jag geteel het.

Dit is mense se menswaardigheid en ordentlikheidsgevoel wat aangetas word wanneer diere mishandel word, lyk dit my.

Waarom bekommer wreedheid teenoor diere ons en bestraf die reg dieremishandeling? Is dit ’n walglike psigopatiese daad om ’n hoender se oë vir pure plesier met ’n sigaret uit te brand, maar aanvaarbaar om daagliks duisende hoenderkoppe af te kap? Darem wil ons die hoender op een slag dood hê en sal ons nie daarvan hou as iemand oor ’n paar dae een vir een vlerkie en boudjie van die lewende hoender amputeer en onder ’n kruiesousie op die kole gooi nie.

’n Mens mag ’n skaap slag en verorber, maar bestialiteit is ’n misdaad. Strafregboeke het dit saam met sodomie as ’n “onnatuurlike geslagsmisdaad” beskryf en as een van die “misdade teen die sedes” gekategoriseer.

Sedertdien het die konstitusionele hof sodomie as misdaad afgeskaf, omdat dit op grond van seksuele oriëntasie gediskrimineer het.

Ons vermink vlieë met ’n plak en vergiftig goggas wat ons blomme vreet. Dit skeel die meeste mense min as ’n kind ’n skadelose spinnekop se beentjies een vir een aftrek. Maar ’n mishandelde hond se pyn sien ons in sy gevoelvolle oë en ons word kwaad vir gevoelloses wat hul diere afskeep. Ons identifiseer meer met “die mens se beste vriend” as met ’n spinnekop in wie se veelvuldige ogies ons nie emosie sien nie.

Dit is mense se menswaardigheid en ordentlikheidsgevoel wat aangetas word wanneer diere mishandel word, lyk dit my. Die reg beskerm ons sedes. Sedes verander egter, vanweë vooruitgang . . . of sommer losgeit. ’n Grondwet, of ’n verkiesing waarin almal mag stem, kan ons ook skielik laat besef dat ons moraliteit eintlik al die tyd sleg immoreel was.

Mag ons vir Robert McBride wat amnestie ontvang het nadat hy mense met ’n bom gedood het ’n 'moordenaar' noem?

‘Beskaafdheid’

Hoe diere behandel word, hou verband met wat ons “beskaafdheid” noem. Ons dink die eienaar van ’n donkiekar wat sy donkies slaan of hul velle rou laat skaaf, is barbaars.

Maar sosio-ekonomiese status het iets met ’n mens se siening van diere te doen. Miljoene het nie geld om in Londen se Harrods goue beddens, oorgetrek in fluweel wat by diamanthalsbandjies pas, vir skoothondjies te koop nie.

In sommige Wes-Kaapse woonbuurte soek ’n menigte rasgemengde uitgeteerde honde in die stofstrate saam met rasgemengde maer kinders na kos en gawes.

Vir die werklose pa van ’n honger gesin in Mpumalanga is ’n skaars wildsbok nie iets wat vir besigtiging deur toekomstige mense bewaar moet word nie, maar ’n maand se kos.

Sonder ’n jaggeweer is die doodmaakinstrument onbelangrik en ’n doringdraadstrik en skerp klip voldoende. Almal kan nie beskaafdheid bekostig nie.

Diere moet menslik behandel word. Ons behoefte aan harmonie, teerheid en liefde noop ons om lewe te respekteer, pyn te vermy en wreedheid te verafsku. Sielsiekes wat diere folter, haat dikwels ook mense.

Regtens is diere eiendom wat geteel, verkoop en geëet mag word en wat nie regte het nie. Dit help egter om van diereregte te praat.

In die volksmond beteken taal dikwels iets anders as in die reg.

Mag ons vir Robert McBride wat amnestie ontvang het nadat hy mense met ’n bom gedood het ’n “moordenaar” noem?

En vir Zuma wat nooit aan diefstal skuldig bevind is nie ’n “dief”?

Hieroor later meer.

Meer oor:  Johann Van Der Westhuizen  |  Grondwet  |  Rubrieke  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.