Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Het Suid-Afrika ’n kultuur van geweld?

Die gebeure in Senekal speel af terwyl die land steier onder deurlopende voorvalle van geslagsgeweld en geweld teen kinders.

Beteken dit Suid-Afrika het ’n kultuur van geweld? Kultuur word dikwels gebruik (en misbruik) om na ’n verskeidenheid van ander dinge te verwys. Vir sommige is dit waarneembare en kenmerkende eienskappe van ’n bepaalde groep, soos kleredrag, kos of tegnologie. Vir ander verwys dit na meer abstrakte eienskappe, soos taal, geloof of gewoontes en tradisies. Vir nog ander is kultuur ’n waardering van menslike uitdrukking deur kuns en musiek. Kultuur is al dié dinge, maar dit is ook meer as dit.

Theodore Petrus
Theodore Petrus.

Antropologies help kultuur ons om menslike maatskaplike dinamika en gedrag oor tye en plekke heen te verstaan. Dis ’n komplekse stelsel wat mense binne spesifieke kontekste vorm en daardeur gevorm word. Kultuur het drie belangrike kenmerke, naamlik dat dit gedeel word, aangeleer word en simbolies is.

As ’n land deel ons inderdaad ’n geskiedenis van geweld, waaronder strukturele, politieke, ekonomiese, maatskaplike en selfs kulturele geweld. Ons deel ook in die massamedia-verbruik van geweld, deur byvoorbeeld flieks of nuusberigte oor geweld in ons samelewing.

’n Kultuur oorleef oor tyd heen omdat dit deur opeenvolgende geslagte aangeleer word. Waardes, geloof, gebruike, praktyke, taal en talle ander simbole van kultuur word van geslag tot geslag oorgedra. Ervarings van geweld, hetsy as oortreders of slagoffers of albei, word deur opeenvolgende geslagte oorgeërf.

Dit is waarom ons sien dat die geskiedenis homself herhaal in byvoorbeeld gewelddadige betogings, oormatige geweld deur die polisie of gewaande geweld wat retoriek aanwakker. Niks daarvan is nuut nie. Daar is verskeie voorbeelde daarvan in ons geskiedenis.

Geweld het simboliese waarde in Suid-Afrika se historiese en hedendaagse konteks omdat dit soos ’n taal geword het. Dit is ’n vorm van kommunikasie of die uitdrukking van ’n reeks negatiewe emosies en houdings, waaronder woede, frustrasie, vrees, angs, onverdraagsaamheid en die minagting van basiese menseregte.

Om die kultuur van geweld te verander moet ons die omgewing van geweld verander.

Dit word steeds deur baie mense as ’n geldige simbool van weerstand beskou en kan op grond daarvan geregverdig word. Hoe dikwels hoor ons: “Geweld is die enigste taal wat die regering verstaan!”

Hieruit is dit dus duidelik dat ons wel ’n kultuur van geweld het, maar wat kan ons daaromtrent doen?

As ’n mens die kultuur in enige samelewing wil verander, moet jy by die jeug begin. Kulturele waardes word makliker in die jeug gevorm en aanvaar as deur ouer generasies, wat meer gevestig is in hul manier van dink en optrede.

As ons die kultuur van geweld wil verander, moet ons begin om die waardes, houdings en eienskappe te verander wat geweld onder die jeug kan ontketen.

Hoe kry ons dit reg? Deur behoorlike leierskap aan die dag te lê en deur die voorbeelde te wees wat ons wil hê die jeug moet navolg. Ons kan nie verwag om die kultuur van geweld af te breek as ons leiers het wat – opsetlik al dan nie – oënskynlik die einste waardes aanmoedig wat geweld en anargie bevorder nie.

Ons moet bereid wees om meer produktiewe en konstruktiewe maniere te gebruik om verskille of konflik op te los eerder as om ons te wend tot die vernietiging van eiendom of om ander kwaad aan te doen.

Laastens is dit noodsaaklik dat ons die strukturele geweld van ’n blywende maatskaplike en ekonomiese stelsel aanpak wat voortgaan om talle mense te viktimiseer en te marginaliseer.

Kultuur en omgewing is onderling verbind. Om die kultuur van geweld te verander moet ons die omgewing van geweld verander.

  • Petrus is ’n medeprofessor in antropologie aan die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Saterdag Brandpunt  |  Kultuur  |  Geweld  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.