SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Hier is Afrikaans en sy digkuns nog ’n sondebok

Dit is ’n opdraande stryd om Nederlanders te oortuig dat almal wat Afrikaans is, nie rassiste is nie, skryf Andries Bezuidenhout ná ’n besoek daar.

Die Vrijdagmarkt met die Poëziecentrum in Gent. Foto: Andries Bezuidenhout

Die gebou waarin een van die beste versamelings Afrikaanse poësie gehuisves word, is ouer as die taal self. Ek verwys hier na die Poëziecentrum in Gent, een van België se oudste stede.

Die sentrum word sedert 2003 in, wat as die Toreken bekendstaan, gehuisves. Die Toreken is deur die leerlooiersgilde (of “huidenvetters” in Vlaams) van weleer in die middel-1500’s langs Gent se Vrijdagmarkt, 'n tipe plein, as hul hoofkantoor opgerig.

Die naam Toreken, neem ek aan, verwys na die gildehuis se kenmerkende toring. Die gebou het in die 1900’s in onbruik verval, maar is later weer gerestoureer. Dis werklik mooi – die restoureerders het moeite gedoen om die oorspronklike Middeleeuse konstruksie te bewaar. Dis van growwe stene gebou en die houtvloere tussen die vier verdiepings word deur dik houtbalke ondersteun.

Op die grondvloer is daar ’n boekwinkel. Hier word meestal Nederlandstalige digbundels verkoop, wat Afrikaanse digkuns, wat in Nederlands vertaal is, insluit.

Ek is verstom dat België plek het vir ’n hele sentrum wat aan die bevordering van poësie moet aandag gee en ’n hele erfenisgebou het wat aan die aktiwiteite daarvan afgestaan word.

Op die eerste vloer is ’n biblioteek. Dis hiér waar die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie gehuisves word. Die versameling is met die dood van Van Heerden aan die instansie geskenk en is sedertdien ruimskoots aangevul. Dit bevat van klassieke werke tot hedendaagse poësie.

Die dakbalke van die eerste vloer, wat dan ook die vloer van die tweede verdieping is, word deur klippe en verdere houtwigte ondersteun.

In die steenstutte is figure uit die Ou Testament uitgekap en in die houtwigte is figure uit die Nuwe Testament gekerf. Die leerlooiersgilde wou wys dat die Nuwe Testament op die grondslag van die Ou Testament gebou is.

Die tweede vloer bevat ’n dokumentesentrum; ’n tipe argief waar ook ’n aantal Afrikaanstalige dokumente en koerantknipsels bewaar word.

Die vierde vloer, die dakkamer, is ’n tipe teater waar poësievoorlesings plaasvind en leeskringe gehou word. Die dakbalke word nog deur houtpenne aanmekaargehou. Dis ’n besonder mooi vertrek met sagte lig.

Ek is verstom dat België plek het vir ’n hele sentrum wat aan die bevordering van poësie moet aandag gee en ’n hele erfenisgebou het wat aan die aktiwiteite daarvan afgestaan word.

In hierdie huis het die Afrikaanse digkuns dan ook ’n woning gevind.

Om jou boodskap oor te dra

Ek toer op die oomblik deur Nederland en België as deel van die “Week van de Afrikaanse roman”, ’n inisiatief wat poog om ’n groter mark en ontvanklikheid vir Afrikaanse boeke in die Lae Lande te vestig.

Saam met my toer Ingrid Winterbach en Willem Anker, albei Hertzog-pryswenners, van wie se werk reeds in Nederlands vertaal is en hier beskikbaar is. Dan is daar die bekroonde dramaturg Amy Jephta, asook die misdaadskrywer Rudie van Rensburg.

In die voorgrond is die skrywers Ingrid Winterbach en Willem Anker en Jente Rhebergen, 'n vertaler en een van die organiseerders van die Week van de Afrikaanse roman. Foto: Andries Bezuidenhout

Verder het Suzie Matlhola en Karien Brits saamgekom om te praat oor hul projekte wat Afrikaans in Soweto bevorder, veral deur middel van ondersteuning vir skoolkinders wat Afrikaans as vak het.

Ek is hier as musikant, om gehore aan Afrikaanse musiek voor te stel so tussendeur gesprekke oor boeke. In Brussel het ek en Jannie du Toit, wat ook op die oomblik hier op toer is, die gehoor aan die musiek van Johannes Kerkorrel, Koos du Plessis en Lukas Maree voorgestel.

Ten spyte van die literêre groot kanonne wat saamtoer, kom ’n mens onder die indruk van hoe moeilik dit is om jou boodskap oor te dra, iets wat ek reeds besef het met ’n vorige besoek, toe ek ter ondersteuning van die bekendstelling van ’n versamelalbum van Afrikaanse musiek Nederland toe gekom het.

Daar is ’n aantal faktore wat die werk moeilik maak, maar wat dalk ook in geleenthede omskep kan word.

Net ’n vae besef

Eerstens kompeteer Afrikaanse boeke en musiek met die hele wêreld se aandag in Nederland en België. Ten spyte van die historiese bande tussen die tale, vind Nederlandstaliges (en ek sluit Vlaminge hierby in) dit moeilik om Afrikaans in geskrewe of gesproke vorm te volg.

Ons maak ’n punt daarvan om Afrikaans te praat by die geleenthede hier, maar ons praat stadig en Nederlanders wat albei tale verstaan moet deurlopend ingryp met die skets van sowel konteks as die verklaar van betekenis.

Mense hier sal Afrikaanse boeke eerder lees as dit in Nederlands vertaal is, iets waarmee daar ongelukkig beperkte vordering gemaak is.

Nederlanders is kranige vertalers en kan groot dele van die hele wêreld se letterkunde in hul eie taal lees. Afrikaanse boeke het met ander woorde geen spesiale status nie – dit sal nie verkoop en gelees word net omdat dit Afrikaans is nie.

Mense soos Hemelbesem, wat al voorheen hier kom toer het, doen ongelooflik belangrike werk om die wanvoorstellings oor Afrikaans uit die weg te ruim.

Om die waarheid te sê, Suid-Afrika en ons geskiedenis is so onbelangrik hier dat die meeste van die inwoners van Culemborg nie eens weet wie Jan van Riebeeck was nie, wat immers daar gebore is.

Nederlanders het in die algemeen dus ’n vae besef dat hulle geskiedenis iets met Suid-Afrika uit te waai het, maar slegs bolangse kennis van onlangse gebeure anders as ’n kennis van Nelson Mandela as positiewe figuur.

Dis deels hoekom die werk wat die vrywilligers wat die “Week van de Afrikaanse roman” organiseer – Nederlanders en Belge met ’n belangstelling in Afrikaans – so belangrik is.

Ek dink egter daar is ook ’n geleentheid vir ons Afrikaanstaliges om die moeite te doen om Nederlands meer geredelik te lees. Daar is ’n hele letterkundige wêreld wat nie in Engels beskikbaar is nie waartoe ons sodoende kan toegang kry.

Nouer bande tussen Suid-Afrikaanse en Nederlandse uitgewers en boekhandelaars is dus ook belangrik, alhoewel die beskikbaarheid van e-boeke sekere van die probleme kan hanteer.

Opgewonde oor diversiteit

’n Tweede uitdaging is die feit dat soveel van die mense in die Lae Lande nog met verouderde idees oor Afrikaans sit. Hulle weet nie dat die meerderheid van die taal se sprekers nie wit is nie en sit nog met idees wat uit die tyd van die stryd teen apartheid kom.

Dit neem intensiewe gesprekke om mense hiervan in te lig en die werk word verder bemoeilik deur regse groeperinge uit Suid-Afrika wat sélf met verouderde idees sit.

Soos by ons is daar natuurlik ook ultra-regse groeperings hier in Nederland en België, waarby ons eie randfigure aanklank vind. Vir die saak van Afrikaans en die moontlikheid om welwillendheid teenoor die taal te bevorder is hierdie regse skakeling die dood in die pot.

Elkeen van hulle daag mense hier op ander maniere uit, wat tóg aan Suid-Afrikaners ’n unieke stem gee.

Al is dit ’n plat land hierdie, een waar fietsry makliker as by ons is, is dit ’n opdraande stryd om Nederlanders te oortuig dat almal wat Afrikaans en Afrikaanse boeke wil bevorder nie rassiste is nie.

Ek moet noem dat van die deelnemers aan die “Week van de Afrikaanse roman” wél openlik praat oor Suid-Afrika se problematiek, asook die druk waaronder Afrikaans verkeer. Dit word egter gedoen vanuit ’n perspektief waar dit oor die taal en ál haar sprekers gaan.

Weer is daar ’n geleentheid hier. Mense soos Hemelbesem, wat al voorheen hier kom toer het, doen ongelooflik belangrike werk om die wanvoorstellings oor Afrikaans uit die weg te ruim.

Die Nederlanders met wie ons te doen kry raak baie opgewonde oor die diversiteit van Afrikaans wat hulle hoor.

In poësiekringe hier is my indruk dat daar amper ’n groter waardering is vir digterstemme soos Ronelda Kamfer as wat daar in Suid-Afrika is – albei haar bundels is reeds in Nederlands vertaal en is hier beskikbaar.

Digbundels is nou welsyn

Stefaan Goossens neem ons op ’n toer van die Poëziecentrum in Gent. Met die klein brilletjie op sy neus lyk hy soos ’n regte digter, maar hy praat vinnig en ek moet mooi luister om te volg – Vlaams is effe makliker om te volg as Amsterdamse Nederlands.

Hy praat oor hoe die digkuns minder as 1% van die Nederlandse en Belgiese boekmark uitmaak. Ook oor hoe kinders hier al hoe minder Nederlandstalige TV kyk. Min van hulle stel in digkuns belang.

Hy praat oor hoe moeilik dit is vir jonger digters om gepubliseer te word, veral as hulle skugter is en nie bereid is om op verhoë te klim nie.

Andries Bezuidenhout.

In die verlede het uitgewers die publikasie van digbundels as ’n tipe prestige gesien. Nou sien hulle dit as welsyn of gemeenskapsdiens.

Aan die ander kant is daar opwinding oor podiumdigkuns en hiphop, iets waarby jonger mense meer aanklank vind.

Ek voel soms die Nederlanders kla met die goue lepel in die mond. Ons kan maar net droom van ’n hele gebou wat aan die bewaring van digkuns afgestaan word.

Aan die ander kant, as ek dink aan die aantal nuwe stemme wat by ons gepubliseer word, voel ek minder negatief oor Afrikaans. Die jong digters is besig met die gesprekke oor identiteit en die toekoms op maniere wat ’n uitdaging vir die digkuns in die gevestigde wêreld hier is.

Ek kyk maar hoe mense hier reageer op Ingrid Winterbach, Willem Anker, Amy Jephta en Rudi van Rensburg. Elkeen van hulle daag mense hier op ander maniere uit, wat tóg aan Suid-Afrikaners ’n unieke stem gee.

In elkeen van hulle werk is daar ’n bemoeienis met Suid-Afrika se ongelooflik komplekse situasie. Nie een van hulle gee aan Nederlandse lesers ’n gesaniteerde of politiek korrekte weergawe van ons werklikhede nie.

Ek vra of Bibi Slippers se nuwe bundel al aangekom het.

“Natuurlik,” antwoord Goossens.

Een van ons jongste digbundels het reeds ’n plek op ’n rak in ’n gebou wat ouer as die Afrikaanse taal is.

* Prof. Bezuidenhout is ’n sosioloog verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Andries Bezuidenhout  |  Amsterdam  |  Gent  |  België  |  Nederland  |  Poësie  |  Afrikaans  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.