Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hiér lê die kiem vir misdaad
Alida Kok

Tussen 2015 en 2016 was daar 18 673 moorde in Suid-Afrika. Dit is 51,2 moorde per dag. En moord het tussen 2015-’16 en 2014-’15 landwyd met 4,5% gestyg.

Syfers van 2013-’14 toon dat die polisie 194 852 personeellede het. Hiervan neem 103 746 deel aan sigbare polisiëring en 6 331 werk in die beskermings- en veiligheidsdienste. In vergelyking hiermee (ook volgens die 2013-’14-statistieke) is daar 1 868 398 private sekerheidslede in die land waarvan 487 058 aktief is.

Ons private sekerheidsbedryf is dus heelwat groter as die polisie. Die aktiewe lede alleen is al rondom 290 000 meer as die bestaande polisielede. Die staat kan dus nie die veiligheid van sy burgers verseker nie, en mense met geld kan stappe doen om hul veiligheid te bevorder. Diegene wat dit nie kan bekostig nie, is meestal onveilig.

In bogenoemde groter prentjie is ook plaasmoorde vervat. Die kanse dat mense wat op plase woon en werk, vermoor word, is vier keer groter as dié van die gewone Suid-Afrikaner.

Volgens ’n verslag wat in 2015 uitgereik is, is meer as 1 700 plaasmoorde sedert 1990 gepleeg. Plaasmoorde is ’n sandkorrel in vergelyking met die land se moordstatistieke in geheel, maar omdat dit meestal plaasvind in ’n spesifieke kulturele groep – “boere” (tradisioneel gesien as wit en Afrikaanssprekend) – is die moorde ’n legitieme bron van woede vir dié mense. Hiermee saam weet ons dat plaasmoorde ons voedselsekerheid en landelike ekonomieë bedreig.

In die afwesigheid van ’n toereikende polisiemag, die afskaffing van die kommando’s in 2003 en die polisie se beskermingsplanne vir die platteland wat nie suksesvol ingestel word nie, is plaasgemeenskappe geïsoleerd. Hulle is ’n ideale teiken vir misdadigheid. Omdat plase afgesonderd is, het oortreders meer tyd om ’n misdaad te pleeg.

Die boere is ’n simbool van die misdaad wat gepleeg is teen swart Suid-Afrikaners.

Terselfdertyd is grondhervorming ’n hoogs verpolitiseerde saak wat steeds onafgehandel is, en die ANC het homself opnuut daartoe verbind om dit op ’n radikale wyse aan te pak. Die EFF en Black First Land First wil dit op ’n nog drastieser wyse as die ANC doen.

Boere word gesien as ’n bastion van die Afrikanergemeenskap en die teenoorgestelde van geregtigheid wat die grondkwessie betref. Die boere is ’n simbool van die misdaad wat gepleeg is teen swart Suid-Afrikaners “toe die land deur wit hande gesteel is”.

Onderhoude wat gevoer is met plaasmoordenaars dui daarop dat die gewelddadige aard daarvan gemotiveer was deur rassisme wat die moordenaars glo vooraf van wit boere en wit moordslagoffers ervaar het.

Die driedubbele bedreiging deur armoede, ongelykheid en werkloosheid is ook ’n realiteit. Boere het grond, werk, besittings, terwyl diegene wat moorde pleeg in armoede lewe en deur politieke rolspelers gesosialiseer word om grond, werk en toegang tot hulpbronne te verwag. Al hierdie faktore vorm dus die “perfekte storm” vir misdaad op die platteland.

Ek weet ek loop die risiko om as ’n Steve- en Trump-ondersteuner, ’n AfriForum-lid, en sommer ook ’n rassis beskou te word as ek plaasmoorde noem (en, volgens die algemene persepsies, sal ek verwelkom word in sekere Afrikanergeledere en in verligte geledere opsy geskuif en geminag word).

Hierdie onmiddellike kategorisering lei daartoe dat die kompleksiteit en gevolglik ook ’n oplossing vir die probleem van misdaad in ons plattelandse ekonomieë misgekyk word.

In die grotere werklike demokratisering van ons land, sal dit ons baat as ons ophou om maatskaplike probleme in breë populêre kategorieë te plaas. Só sal ons na die hart van die saak kan deurdring en vorentoe beweeg.

  • Kok is ’n dosent in politieke wetenskap aan Unisa.
Meer oor:  Rubriek  |  Misdaad  |  Mening  |  Alida Kok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.