Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hier maak die MRK droog
Julius Malema, EFF-leier. Foto: Tebogo Letsie / City Press

Ek het respek vir die hoofstuk 9-instellings wat deur die Grondwet geskep is om ons, die gewone burgers, teen grondwetlike vergrype te beskerm.

Dit sluit in die openbare beskermer, die Kommissie vir Geslagsgelykheid, die ouditeur-generaal en, les bes, die instelling waaroor ek vandag skryf, die Menseregtekommissie (MRK).

Oor die MRK se doelwitte sê die Grondwet: Die kommissie moet “respek vir menseregte en ’n kultuur van menseregte bevorder”, dit moet die “beskerming, ontwikkeling en verwesenliking van menseregte bevorder” en dit moet die “handhawing van menseregte in die Republiek . . . monitor en assesseer”.

Die MRK se jongste bevinding is nou wyd bekend.

Julius Malema het volgens die kommissie nie haatspraak gepleeg nie toe hy op ’n politieke vergadering smalend vir sy gehoor gesê het: “Ek vra nie dat julle wit mense voor die voet slag nie – in elk geval nog nie nou al nie”.

Hierdie woorde is volgens adv. André Gaum, ’n MRK-kommissaris, nie haatspraak nie.

Die rede? “Die historiese, maatskaplike en feitelike konteks moet in ag geneem word.” Met groot respek teenoor die MRK en Gaum: Moet asseblief nie knolle vir sitroene aan ons probeer verkoop nie.

Dis ’n enorme teleurstelling dat die MRK kans sien om hier ’n semantiese speletjie te speel.

Wat Malema in hierdie uitspraak doen, kom vir alle praktiese doeleindes daarop neer dat hy vra dat wit mense “geslag” moet word.

Volgens die kommissie “red” hy homself van haatspraak deur bloot die (myns insiens verswarende) kwalifikasie by te voeg: “nog nie nou al nie”. Daarmee sê hy inderwaarheid: “Wag tot ek die teken gee”! (Dit herinner aan nog ’n fanatikus van die 1980’s, A.P. Treurnicht, wat ook ’n keer gesê het: “Don’t jump the gun”!)

Dis ’n enorme teleurstelling dat die MRK kans sien om hier ’n semantiese speletjie te speel.

Malema het sonder die geringste twyfel in hierdie toespraak stemming gemaak vir geweldpleging teen wit mense. Hy doen myns insiens presies alles wat iemand wat geweldpleging wil bevorder, behoort te doen, sonder om die heel laaste tree te gee, naamlik om te sê: “Sa, vat hulle!”

Gaum en die kommissie deel ons ewe vroom mee dat sy uitspraak gelees moet word “binne ’n konteks”.

Maar wat hulle gerieflik nie in ag neem nie, is dat Malema hier nie alleen sy eie konteks skep nie, maar inderdaad uitbou, gegee die talle kere dat hy al in die verlede dade van geweld en gronddiefstal aangemoedig het.

Toe gebeur iets onvoorsiens: Pres. Juvénal Habyarimana se vliegtuig word neergeskiet, en skielik is die vet in die vuur.

Die vergiftigende konteks en stemming wat Malema met hierdie soort taal bevorder, moenie onderskat word nie. Dit verbaas my van harte dat die MRK dit skynbaar nie verstaan nie.

Dink vir ’n oomblik aan die 1994-tragedie in Rwanda – ’n verhaal wat, terloops, deel is van die konteks waarop Malema sou kon steun as hy wou.

Prof. Anton van Niekerk

Wat het die Rwandese tragedie veroorsaak? Niemand weet presies nie: Daar was die algemene wantroue teenoor die Tutsi’s; daar was ’n ekonomiese krisis (soos ons s’n tans!); daar was desondanks ’n ongekende toevloei van wapens.

Toe gebeur iets onvoorsiens: Pres. Juvénal Habyarimana se vliegtuig word neergeskiet, en skielik is die vet in die vuur. In Rwanda was dit boonop nie so maklik om Hutu’s en Tutsi’s uiterlik te herken nie; in Suid-Afrika verval daardie probleem: dis bloot swart teenoor (onmiskenbaar) wit.

Die fanatisme en populisme van ’n Malema kan dinge in ’n baie kort tydjie erg skeef laat loop in hierdie land, nes in Rwanda.

Het die MRK met sy Malema-bevinding “respek vir menseregte en ’n kultuur van menseregte” bevorder? Ek dink nie so nie.

Hy behoort meer oortuigend te keer dat daar met vuur in hierdie land gespeel word.

Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Haatspraak  |  Rassisme  |  Mrk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.