Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hiér sal jy my en my radio kry tot ná 8 Mei
Johan van Wyk

Hoe kon ek dit vergeet! Natuurlik moet daar ’n radio’tjie op jou bedtafeltjie wees. En soos sekerlik die meeste Afrikaanssprekendes is myne ook min of meer permanent op RSG ingestel.

Dit verhoed egter nie dat ek hom vinnig na FMR (Fine Music Radio in Kaapstad) draai nie. Jy kan net soveel swak taalgebruik, oppervlakkige Afrikaanse musiek, Engelse insetsels deur arrogante politici (asof ons nie dag en nag elders genoeg daarvan kry nie) en die eindelose insigte van opgeblase politieke kommentators wat na nêrens lei, niks oplos nie en aan wie die politici hulle afvee, verduur.

Om hierdie bestraffing in die aanloop tot die verkiesing vry te spring, is ek van plan om soos die Roggeveldse skaapboere tot ná 8 Mei in my modderhuisie in die warmer Ceres-Karoo, die Tankwa-Karoo (hoewel Calvinianers dit nooit so genoem het nie en dit steeds nie doen nie), te oorwinter. Jy ry wel oor die Tankwarivier deur die Ceres-Karoo, maar dit sê niks.

Wat wel belangrik is, is om die Here te dank as jy nie daar ’n pap wiel kry nie. Jy kan natuurlik vooraf daarvoor bid. Lewies Mollie van Draaikraal se gebed voor hy die Ceres-Karoo op pad Kaap toe in sy Ford Custom aangevat het, was: “Here, hou asseblief die skerp, blou leiklip by Stompiesfontein uit my pad, ek het net een spaarwiel en nie patch en solution en ook nie gaiters nie”. Hy het dit merendeels gemaak. Wys jou die krag van gebed.

Hy het drie pap wiele gekry. Hy het verskriklik gevloek. Hy het wel patch en solution gehad, maar nie ’n gaiter nie.

Maar nie altyd nie. Toe nuwe karre gedurende die Tweede Wêreldoorlog onverkrygbaar was en hy vir ’n Ford by die Helfet-Jode op Calvinia moes wag, koop hy ’n tweedehandse Dodge by ’n skelm smous in die Kaap. ’n Vale met ’n “custom-built” radio en “white wall” bande, Kelly’s.

Wintie, maar al wat tussen Gansfontein en Stompiesfontein van die Kelly’s oorgebly het, was die wit randjie. Hy het drie pap wiele gekry. Hy het verskriklik gevloek. Hy het wel patch en solution gehad, maar nie ’n gaiter nie.

Hoewel die ontvangs in die Ceres-Karoo swak is, vat ek my draadlosie saam. Nie om te luister na al die neerdrukkende nuus, nee, die skokkende gemors wat politici daagliks van Suid-Afrika maak nie, maar om Saterdagaande op U eie Keuse op RSG en Sondagmiddae na Rick Everett se versoekprogram op FMR in te skakel.

Soos sekerlik baie ander luisteraars verval ek soms in nostalgiese droefgeestigheid oor wat verby is en nie weer sal kom nie wanneer die klanke van gewilde, ligte klassieke werke en strelende, romantiese liedjies uit beter dae krakerig deur die modderhuis vloei.

Soos Vera Lynn se “Somewhere in France with You”, Nat King Cole se “Unforgettable” en ou gunstelinge van sangers soos Matt Monroe, Frank Sinatra, Tony Bennett en talle ander.

Dis wanneer die groot, heilige verlatenheid van die Ceres-Karoo my opnuut aangryp, bekoor en ek, soos in die Cordettes se “Mr. Sandman” (Klaasvakie), nie uit my drome wakker gemaak wil word nie.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Radio  |  Verkiesing 2019  |  Wiele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.