Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hier vind werkskepping natuurlik plaas

Beleggers behoort nie afgeskrik te word deur die onrus in die Hermanus-omgewing nie omdat werk op ’n 24/7-grondslag geskep is, skryf MC Botha.

Swaargewapende polisielede het in Julie nog die ou stortingsterrein, nou bekend as Marikana, teen die grondbesetters verdedig . . . Foto: MC Botha

Terwyl die agbare president links en regs beleggings probeer lok om die onaanvaarbare hoë werkloosheidskoers af te bring, vind werkskepping op ’n heel natuurlike wyse hier in die Overstrand – ’n bykans vergete stukkie aarde aan die suidpunt van ons sonnige kontinent – plaas.

Kyk byvoorbeeld na die ernstige oproer die afgelope maande in Zwelihle, een van die armste en kleinste townships in die land, maar geleë op die grens van Hermanus, wat helaas nie as arm beskou kan word nie. Hoeveel spesiaal opgeleide polisiemanne en -vroue van reg oor die Boland moes nie ingeroep word om die opstand te kom onderdruk nie? Om nie eens te praat van verkeersbeamptes wat moes kom help red wat te redde is nie. Daar was selfs een van die Kaap Agulhas-munisipaliteit – om te wys dat hy nie net ’n vuurtoring hoef op te pas nie.

Aanhouers wen . . . Foto: MC Botha

Werk is dus op ’n 24/7-grondslag geskep, en moenie sê daardie befaamde katswaaier het nie tekens van entrepreneurskap getoon nie. Toe die stof in die laaste ronde van die geveg gaan lê, het die skade wat aangerig is meer as R40 miljoen beloop – ’n druppel aan die emmer van al die nuwe geleenthede wat geskep is: gebrande bande, klippe en rotse moes van paaie verwyder word, terwyl ’n nuwe biblioteek, polisiekantoor, swembad-kompleks, behuisingskantore en herwinningsaanleg wat in puin gelê is, herbou moet word.

Die munisipale swembad-kompleks wat in puin gelê is. Foto: MC Botha
Nes die swembad-kompleks wat in puin gelê is, bied die afgebrande biblioteek ruim geleenthede aan beleggers om met ’n heropbouprogram te begin. Foto: MC Botha

Hierdie heropbouprogram kan klaarblyklik nie sonder nuwe beleggings en gepaardgaande werkskepping gedoen word nie.

Daarna is die Rooi Miere ingeroep om onwettige strukture af te breek wat oornag op verowerde grond verrys het. Sodoende is R4 miljoen se werk geskep – laat staan maar dat dié bedrag vir die rekening van wetsgehoorsame belastingbetalers is.

Toe die Rooi Miere soos vlieënde miere ná ’n donderstorm van die toneel af verdwyn, is strukture oral op Marikana en aanliggende oop stukke grond opgerig. Mense het tot lank ná kantoorure gewerk om te wys hoe dankbaar hulle is om uiteindelik werk te hê.

Nuwe grondverskuiwers, skrynwerkers en loodgieters is gebore, smouse het hul ondernemings uitgebrei en selfs ’n nuwe slagtery het by wyse van spreke uit die as van die vorige stortingsterrein opgestaan. Niemand durf in die stryd om vooruitgang kosbare tyd te mors met formaliteite soos titelaktes, oordragkostes, bouplanne of omgewingsimpakstudies nie.

Moeilik om te glo dat die polisie twee weke lank geveg het om besit van daardie koppie namens die eienaar, die munisipaliteit, te behou. Gelukkig het politici en behoudende inwoners se oproepe dat die weermag ingeroep word, nooit ’n werklikheid geword nie, anders was ons vandag nog in ’n oorlogsone.

MC Botha

Nadat ’n brose vrede weer oor die gekwelde gebied kom hang het soos ’n mistigheidjie wat van die see af instoot, kon die Overstrand se munisipale raad weer al sy aandag aan agtergeblewe sake skenk. Die jongste raadsnotules weerspieël die gewigte toedrag van sake: eindelose verslae en beraadslagings van amptenare en raadslede wat jaloers waak dat die boulyn van hierdie huis in Voëlklip of die hoogte van daardie grensmuur in Gansbaai nié oorskry sal word nie.

Slegs diegene wat ordentlike huisvesting kan bekostig, moet die ergste van burokrate verskans in hul ordentlike poste verduur.

En steeds kring die moontlikhede uit. Die onrus wat in Mount Pleasant bokant Zwelihle in Mei onderdruk is, het Vrydag weer opgevlam. Paaie is versper, inwoners met rubberkoeëls en skokgranate uiteengedryf en die teeroppervlak wat in die laaste onluste beskadig is en vroeër die week herstel is, is opnuut deur brandende buitebande en rotse beskadig.

Beleggers behoort nie afgeskrik te word nie, solank iets oorbly om herbou te word.

* MC Botha is ’n skrywer wat op Hermanus woon.

Meer oor:  Mc Botha  |  Hermanus  |  Zwelihle  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.