Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hierdie boeke moet in jou Kerskous land

Dit gebeur nie elke jaar dat ’n mens in ’n jaareindrubriek soos hierdie Afrikaanse taal(kunde)boeke as Kersinkopievoorstelle kan voorhou nie. Daarvoor is die jaarlikse oes helaas dikwels te skraal . . .

Maar 2017 was ’n vet jaar! Ek kan daarom met genoeë ’n lys van my persoonlike aanbevelings hier aanbied.

Gerhard van Huyssteen

In geen voorkeurvolgorde nie en insluitend ’n paar 2016-laatlammers:

  • Afrikaanse woordelys en spelreëls (Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) (Pharos; 11de uitgawe): Dié outjie, al moet ek dit self sê, mag maar boaan die lys staan – nie net omdat hy 100 jaar oud is nie, maar ook omdat hy met sy rooi omslag selfs fraai op ’n Kerstafel sal staan;
  • Afrikaanse woordelijs en spelreëls (Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) (Pharos; eerste uitgawe, faksimileedruk): Vir die deurwinterde aficionado is hierdie faksimileeuitgawe van die eerste AWS (2017) ’n kleinood. Koop hom definitief saam met die nuwe AWS;
  • Verklarende politieke woordeboek: Tweetalige kernterme en -definisies in politieke wetenskap (Albert Venter, Susan ­Botha, Louis du Plessis en ­Mariëtta Alberts) (Juta): Die ideale geskenk saam met ­Jacques Pauw se The President’s Keepers – om deur al die politieke terme te kan waad;
  • Die storie van Afrikaans: Uit Europa en van Afrika – Deel 1 (Wannie Carstens en Edith Raidt) (Protea Boekhuis): ’n Splinternuwe toevoeging tot die lys van boeke oor die geskiedenis van Afrikaans. In hierdie ene gaan haal die skrywers die geskiedenis eeue ver terug; dus nie net interessant vir Afrikaans se geskiedenis nie, maar eintlik ook oor die herkoms van taal;
  • Ons kom van vêr: Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans (saamgestel deur Michael le Cordeur en Wannie Carstens) (Naledi): ’n Pragtige boek wat lankal gepubliseer moes gewees het. Boeiende en aangrypende bydraes deur bekende en minder bekende skrywers uit die bruin gemeenskap;
  • Kaaps in fokus (onder redaksie van Frank Hendricks en Charlyn Dyers) (African SUN MeDIA): Vooraanstaande taalkundiges verskaf verskillende perspektiewe oor Kaaps: eienskappe van die taal/variëteit, die geskiedenis daarvan, asook sy plek in die Suid-Afrikaanse maatskaplik-ekonomiese konteks; en
  • Afrikaans-Japannese woordeboek (Ernst Kotzé) (ILCAA): Gaan jy binnekort Japan toe of ontvang jy besoek uit Japan? Hierdie bieliewoordeboek is nie net ’n aanwins vir reisigers nie, maar ook ’n simbool van die internasionalisering van Afrikaans.

Dalk is jy meer byderwets en wil jy iemand ’n digitale geskenk gee. Wat kan dan tog ’n beter geskenk én belegging in iemand se toekoms wees as om namens hom/haar op ’n versameling aanlyn woordeboeke in te teken! Benewens toegang tot meer as 40 gratis woordeboeke, kan jy op VivA se webwerf ­(viva-afrikaans.org) inteken op die vertroude HAT, WAT en ander woordeboeke, soos die Longman Dictionary of ­Contemporary English. By ­pharosaanlyn.co.za kan jy ­inteken op soveel as 31 aan- lyn woordeboeke, asook op die digitale weergawe van die AWS.

  • As jy jou sente omdraai, kan jy namens elke familie- of ­gesinslid ’n woord wat by hom/haar pas, borg. Besoek wat.co.za om dié unieke geskenk te koop.
Meer oor:  2017
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.