Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hierdie lewens maak werklik saak

Die lewe self maak dit duidelik dat alle lewens nie saak maak nie, skryf Nico Botha.

’n Black Lives Matter-betoging in Portland in die Amerikaanse deelstaat Oregon. Foto: AP

Met my bietjie kennis van Duits, het ek tydens my studiejare met hartstog begeer om naas teologiese werke ook nog Das Kapital van Karl Marx te lees in die taal waarin dit vir die eerste keer verskyn het.

Toe hy van my passie hoor om Marx in Duits te lees, het Theo Witvliet van die Gemeente Universiteit in Amsterdam heel lakonies gevra: “Waarom? Waarom wil jy dit doen?” Die vraag was heeltemal onverstaanbaar vir iemand wat toe nog gedink het dat ’n mens slegs deur die Marxistiese lens regtig kan begin verstaan hoe die wêreld inmekaar steek en waarom daar soveel onreg en sulke groot ongelykhede tussen mense bestaan.

As uiters radikale en progressiewe teoloog was Witvliet se verduideliking van sy vraag soos volg: ’n Mens het nie gesofistikeerde instrumente nodig om die konteks van die lewe te ontleed nie omdat die lewe self die uitmuntendste en betroubaarste ontleder is.

Dié vertelling is miskien ’n ietwat omslagtige manier om by ’n radikale ontmaskering uit te kom van die gedagte dat alle lewens saak maak.

Die lewe self maak dit duidelik dat alle lewens nie saak maak nie.

Dalk sou dit eerliker wees om iets soos die volgende te sê: 'Alle lewens maak saak, maar sommige lewens tel meer as ander.'

Die verfoeilikste element in die slagspreuk dat alle lewens saak maak, is om daarmee die Godskreiende verarming, verwaarlosing, uitmergeling en agtergeblewendheid van mense te probeer verdoesel – om dit weg te wens en weg te praat en weg te huigel.

’n Mens moet miskien aan almal wat die slagspreuk so kwistig aanwend en rondgooi en soveel medemenslikheid vertoon, die volgende uitdaging stel.

Vaar ’n bietjie die plekke in waar armoede, werkloosheid en honger heers en sê vir daai mense terwyl jy hulle in die oë kyk: “Toemaar, jy sit hier in k*kstraat, jy’s arm, jy’s werkloos en jy’s honger, maar hou een ding in gedagte: Alle lewens maak saak, ons is gelyk.”

In Suid-Afrika was dit in eeue nooit waar dat alle lewens saak maak nie anders sou ons samelewing tog heel anders daar uitgesien het.

Dalk sou dit eerliker wees om iets soos die volgende te sê: “Alle lewens maak saak, maar sommige lewens tel meer as ander.” Of jy kan dit ook só stel: “Ons is almal gelyk, maar sommige van ons is gelyker as ander.”

Hierdie lewens maak saak

Een van die min betogings wat in Suid-Afrika gehou is om geregtigheid te vra vir die familie van Collins Khoza wat tydens die staat van inperking deur soldate en polisiemanne doodgeslaan is. Foto: Gallo Images

Ek moet my onmiddellik haas om die aanname dat hier weer met ’n swart-wit-konstruksie gewerk word, nek om te draai. Ons situasie in Suid-Afrika is gans en al te kompleks om steeds met sulke oorvereenvoudigings te werk.

Die wyse waarop die swart elite deur toegang tot bronne ’n feitlik onoorbrugbare sosiale afstand tussen hulself en die res van die swart bevolking geskep het, dui op ’n onuitgesproke en ongeskrewe manier daarop dat hul lewens meer saak maak as ander s’n.

Maar daar is meer.

Die afstand wat deur die optrede van die swart elite geskep word, is nie slegs ten aansien van ander swart mense nie, maar ook heelwat wit mense. En daarom moet daar in ’n land soos Suid-Afrika baie krities omgegaan word met ’n slagspreuk soos Black Lives Matter.

Nie omdat dit wesenlik op ’n ernstige denkfout neerkom nie, want in Amerika is dit dalk sinvol om aan só ’n beweging ’n sterk profiel te gee.

Nico Botha

Tog kan die swart en die wit elite daar én hier daaragter skuil. Deur steeds die rassekaart te speel, probeer die swart elite die skreiende klasse-onderskeid onder swart mense verdoesel. En die wit elite kan maklik dink dat dit daarom nie nodig is om om te sien na wit mense wat swaarkry en in armoede verval het nie.

Dit is daarom miskien nie al te waansinnig om met konstruksies soos die volgende te werk nie: Alle arm mense se lewens maak saak, alle werkersklasmense se lewens maak saak, alle mense wat die swaarste gebuk gaan onder die heersende sosio-ekonomiese ongelykhede se lewens maak saak, vroue wat die slagoffers van gendergebaseerde geweld is se lewens maak saak, ensovoorts.

Die vraag kan natuurlik tereg gevra word of dit nie maar dieselfde is soos om te sê dat alle lewens saak maak nie. Daar is egter ’n uiters belangrike en strategiese klemverskuiwing. Die kategorieë van mense wat hier genoem word se lewens kan uiteindelik net saak maak as hul armoede opgehef word, regverdige en leefbare lone en salarisse betaal word, die ongelykhede noemenswaardig verminder word en die geweld teen vroue as ’n uitvloeisel van die patriargale stelsel stopgesit word.

Hierdie mense het niemand wat vir hul saak opkom nie, behalwe as die geloofsgemeenskappe weer soos in die stryd teen apartheid na vore tree om opofferend en moedig aan die kant te gaan staan van diegene wie se lewens voor God eintlik ook saak behoort te maak, terwyl dit lank nie die geval is nie.

Die lewe lieg nie. Die geskiedenis ook nie.

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Amerika  |  Suid-Afrika  |  Armoede  |  Gendergeweld  |  Black Lives Matter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.