Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hierin lê daar hoop vir die DA
Leopold Scholtz
Leopold Scholtz.

Kort ná die eeuwisseling het die bemarkingsdeskundige Bertie du Plessis (intussen oorlede) die hoofredaksie van Die Burger toegespreek. Dit het gegaan oor hoe om die koerant se sirkulasie te verhoog (destyds het alles nog om gedrukte koerante gedraai; die internet was ’n bysaak).

Du Plessis het ’n treffende metafoor gebruik: As jy ’n halfvol bad vol wil laat loop, het hy gesê, help dit nie om die prop uit te trek wanneer jy die kraan oopdraai nie.

Dus, behou jou ou markaandeel, maar kry nuwe verbruikers by. Moenie die noodsaaklike vernuwing van jou produk só aanpak dat jy die gevestigde groep verbruikers verloor nie. Dit geld ook die politiek. Politiek is immers in ’n sekere sin die bemarking van ’n beleid, van beginsels en van ’n ideaal.

Dit is waaraan ek gedink het toe ek lees dat Helen Zille tot voorsitter van die DA se federale raad verkies is.

Zille is ’n veteraanpolitikus wat baie van politieke bemarking verstaan, maar dit sal nog moet blyk of sy die DA kan genees van die wonde wat hy homself toegedien het.

Zille is ’n veteraanpolitikus wat baie van politieke bemarking verstaan, maar dit sal nog moet blyk of sy die DA kan genees van die wonde wat hy homself toegedien het.

Dat die DA ná Zille se aftrede as leier moes vernuwe, spreek vanself. As die party ooit wil hoop om ’n geloofwaardige regeringsalternatief vir die ANC te word, vereis die demografiese werklikheid onherroeplik van hom dat hy veel meer swart steun moet trek.

Die vorige verkiesing het egter gewys dat die DA die bad se prop uitgetrek het. Verskeie partywoordvoerders het flaters begaan deur op verskeie terreine agter die ANC-narratief in te val.

Die gevolg was dat die DA veral wit en bruin Afrikaanssprekendes verloor het. Bowendien was die kraan wat swart kiesers moes bytap, vasgeroes, want die party kon geen deurbraak na die swart stem bewerkstellig nie.

Sedertdien wys peilings dat die DA se steun onder alle bevolkingsgroepe verder afgeneem het. Die verkiesing van Zille moet dus gesien word as ’n wanhoopspoging om die bloeding te keer.

Uiteraard het die DA te make gekry met sekere feite wat hy nie kon verander nie. Die eerste is die kwessie van ras – die olifant in die vertrek waaroor die DA met sy liberale agtergrond liefs nie wil praat nie.

Mmusi Maimane en ander swart DA-leiers het elke keer byna outomaties, sy dit enigsins halfhartig, agter die ANC se swart politieke narratief aangeloop.

Mmusi Maimane en ander swart DA-leiers het elke keer byna outomaties, sy dit enigsins halfhartig, agter die ANC se swart politieke narratief aangeloop.
Leopold Scholtz
Leopold Scholtz.

Omdat die party dit nie entoesiasties genoeg gedoen het nie, het Herman Mashaba nou as burgemeester van Johannesburg bedank. En nog prominente swart mense kan die DA verlaat, het politieke waarnemers gewaarsku.

Nog iets wat die DA nie kon beïnvloed nie, is die feit dat pres. Cyril Ramaphosa duidelik sy bes probeer om die vervloekte erfenis van Jacob Zuma te beredder.

Dit lyk of hy in staat is om – in elk geval in genoeg swart kiesers se oë – die swart ANC-narratief met die indruk van bekwame en doeltreffende staatsbeheer te kombineer.

Vir die DA voorspel dit niks goeds nie, al moet onmiddellik bygevoeg word dat níks in die lewe so onvoorspelbaar soos die politiek is nie.

Wat nou? Wel, ten eerste moet die DA vrede maak met die feit dat hy, in elk geval op kort termyn, nie die ANC op nasionale vlak gaan ondersit nie. Die beste waarop die party kan hoop, is om die Wes-Kaap en ’n paar van die land se metropole te regeer.

Dáár lê egter sy hoop. Die DA is strate beter in regering as die ANC, selfs onder Ramaphosa.

Hy moet eenvoudig die gebiede onder sy beheer só goed regeer dat selfs die mees verstokte ANC-politikus dit nie kan ontken nie.

Dit sal ook help as Zille van Twitter kan wegbly!

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Helen Zille  |  Partypolitiek  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.