Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hieroor hou die ANC nog biduur

Daar is ’n menigte van diskoerse, soos byvoorbeeld radikale ekonomiese transformasie, waaroor die ANC sonder om doekies om te draai sy hand wys. Maar daar is ook diskoerse waar hulle eerder deur hul tande sis en daardie diskoerse eerder na die periferie skuif.

Een van daardie diskoerse is die nasionale vraagstuk en spesifiek die subafdeling wat handel oor die rol van die sogenaamde bruin mense in die bevrydingsbeweging.

Die raadplegende konferensie van die ANC in 1969 by Morogoro was baie duidelik oor die rol van die sogenaamde bruin gemeenskappe: hulle word onder die breë definisie van swart gedek en as minderheidsgroep as sodanig onder die ANC-kombers toegemaak.

Maar net eers ’n vrywaring: ek is geen apologeet vir bruin nasionalisme nie. Ek beskou my eerstens as ’n Suid-Afrikaner en indien dit moet, ’n swart Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner. Niks minder en niks meer nie, maak nie saak wat die kleurpalet van Suid-Afrika se bevolkingsregister sê nie.

Die afgelope week het die ANC weer kleigetrap en weer impetus gegee aan die siening dat die ANC nie ’n duit omgee vir die wel en weë van die sogenaamde bruin gemeenskap nie.

’n Opkomende (bruin) boer, Ivan Cloete, moet nou van sy plaas wat die regering aan hom gegee het, sy goedjies oppak en trek.

’n Opkomende (bruin) boer, Ivan Cloete, moet nou van sy plaas wat die regering aan hom gegee het, sy goedjies oppak en trek. Die plaas is geoormerk vir MK-veterane. Een van die nuwe eienaars is Lerumo Kalako, ANC-indoena in die Wes-Kaap en ’n voormalige ANC-LP. Dít is die DA se weergawe en dit het soos verwag rimpelings op die water gemaak.

Die ANC se weergawe is egter dat Cloete nooit geregtig was op die plaas in die Swartland-omgewing nie en dat hy tydelik daarheen geskuif is omdat hy nie saam met ander eienaars op ’n ander plaas wat aan hom toegeken is, saam kan werk nie. Dit was net ’n tydelike vergunning en die huidige plaas waarop Cloete boer, is nie vir 30 jaar aan hom toegeken nie.

Dit is egter die reaksie van die adjunkminister van grondhervorming en landelike ontwikkeling, Mcebisi Skwatsha, wat die oë verder laat rek het. Hy het nie ontken dat die plaas vir MK-veterane geoormerk is nie, maar as die regering nie eers ordentlik een plaas se hervorming behoorlik kan bestuur en oplos nie, hoe gaan hulle maak met die swetterjoel plase wat die regering wil onteien?

Vir bruin nasionaliste (aangeblaas deur die opposisie) was die plaaspetalje van Cloete net op olie op die vuur. Weer is ras gebruik as handige sambok, maar die ANC het ook net weer gewys hoe gediskonnekteer hy is van die leefwyse van die gewone sogenaamde bruin mense wat versink is tot ’n magtelose minderheid.

Dit het net weer eens onderstreep die land is nog steeds op soek na nuwe maniere om verskillende rasgroepe te versoen en terselfdertyd die wanbalanse van die verlede te herstel en die jong demokrasie te versterk.

In Die opkoms van die derde stand verwoord NP van Wyk Louw dit só: Ons het verkeerd gehandel teenoor die Bruinmense (sic); ons het hulle verwaarloos en afgestoot.

Daar gaan ’n tyd kom waar die ANC gerus die woorde van NP van Wyk Louw ter harte kan neem.

Hoe onregverdig en regverdig dit ook al mag klink teenoor die ANC, daar is ’n persepsie dat die ANC die sogenaamde bruin mense versaak het, hulle misken vir die groep se rol in die bevrydingstryd. Die ANC sal moet wakker skrik en gou ook. Maar die pleidooi vandag is: maak werk van NP van Wyk Louw se woorde. Moenie nog biduur hieroor hou nie. Doen net.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Ivan Cloete  |  Johann Maarman  |  Grondonteiening  |  Anc  |  Diskoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.