Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hieroor is die adjunk-president wel duidelik
Philda Essop

Adj.pres. David Mabuza se antwoorde verlede week in mondelinge vraetyd in die Nasionale Vergadering het die wenkbroue by tye laat lig.

Sy opmerking, byvoorbeeld, dat die tekort aan elektrisiteit in die land die gevolg van groei is (“Gister is elektrisiteit slegs aan ’n paar gegee; deesdae word dit aan miljoene verskaf. Dis ’n teken van groei.”) het veral sosiale media aan die gons gehad en sommige verstom gelaat.

Later in die sessie het hy ook erg rondgetas toe hy uit die DA-banke gepols is oor sy definisie van die vierde nywerheidsrevolusie. Hy het eers probeer om die vraag te systap, maar hy was verplig om dit te beantwoord. Sy antwoord was maar bra vaag en onoortuigend.

Dalk moet ons hom ’n kans gee, want dalk is hy verroes. Dit was immers sy eerste antwoordsessie in ’n baie lang tyd.

Hy het drie vorige sessies misgeloop omdat hy onder meer in Rusland was vir mediese behandeling, met ander staatshoofde moes vergader oor die vredesgesprekke in Suid-Soedan, en omdat die president hom versoek het om die Duitse president te ontvang met dié se staatsbesoek aan Suid-Afrika.

Hoewel die meeste van Mabuza se antwoorde nie die wêreld se vertroue ingeboesem het nie, was hy baie beslis in sy antwoord op ’n spesifieke vraag ...

Hoewel die meeste van Mabuza se antwoorde nie die wêreld se vertroue ingeboesem het nie, was hy baie beslis in sy antwoord op ’n spesifieke vraag: Wanneer gaan die ANC teen sy lede optree wat by onder meer die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping geïmpliseer word?

Volgens Mabuza moet die kommissies toegelaat word om hul werksaamhede te voltooi en moet die prosesse nie vooruitgeloop word nie.

“Die regter sal besluit en almal van ons moet die uitspraak van die voorsitter aanvaar,” het hy gesê. As daar mense is wat vervolg moet word weens die kommissies van ondersoek, dan moet dit gebeur, het hy bygevoeg, maar sonder om die prosesse vooruit te loop.

Hy is sekerlik reg. Alle getuienis voor die kommissie – en daar was al heelwat opspraakwekkende en ontstellende getuienis – moet tog eers getoets word voordat daar op grond daarvan opgetree word.

Maar wat gebeur in die tussentyd? Maande, selfs jare, kan verloop voordat daar ’n bevinding gaan wees deur adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die gelyknamige kommissie van ondersoek.

Pres. Cyril Ramaphosa en Mabuza praat uit een mond oor die kwessie, blyk uit ’n antwoord wat die president Vrydag op ’n soortgelyke geskrewe parlementêre vraag verskaf het. Daarin wys hy daarop dat wanneer die kommissie sy ondersoek afgehandel het, dit bevindings sal maak en aanbevelings aan hom as die staatshoof sal doen.

Ramaphosa gaan egter verder en stel dit duidelik dat niks die relevante afdelings van die nasionale vervolgingsgesag intussen verhinder om dadelik te begin om bewerings voor die Zondo-kommissie te ondersoek nie.

Dit is bemoedigend, want as daar klinkklare bewyse van ongerymdhede teenoor hooggeplaastes is, moet stappe dadelik volg.

Om jou kop in die sand te steek en nie op te tree nie, is ewe onregverdig teenoor die persoon wat geïmpliseer word as teenoor die Suid-Afrikaners aan wie hierdie persoon verantwoordbaar is.

Meer oor:  Philda Essop  |  Parlement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.