Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hiér’s bitterals in die heuningwals

Bitterals is ’n groentjie-demoon, ’n leerling-temptasiekweker. Sy oom-en-vegknoper is hogerig op in die Onderplek se burokrasie – om die minste te sê ’n helse sekretariaat.

Om die jongeling touwys te maak in hoe om met welslae dieselfde beroepsleer te bestyg deur siele vir Onse Vader Benede te werf, skryf oom-goed al om die hawerklap vir Bitterals ’n brief.

Die bose vyand is God, en die bebriefde raad is daarop gerig om die jongelied in die baie en fyn kunsies van die verderf te onderlê. Om sy kennis van die pasiënt – die mens – se brooshede te verskerp sodat hy met vaart en vernuf die een ná die ander mensesiel in die ewige Hellevuur kan laat kantel.

Hieruit groei ’n werklik donker en argetipies-demoniese dialoog wat van boosheid, selfsug en wellus ’n deugdeboog maak. Wat ligte uitdoof en sodoende die duisternis bietjie vir bietjie meer na ’n tuiste laat voel.

Kortom, as die Bitterals-briewe in 2019 aan die KwaZulu-Natalse kus rugbaar geword het, sou die wêreld terstond, heelhuids en Middeleeus in die Vagevuur getuimel het.

In die vroeë deel van die Tweede Wêreldoorlog het al 31 dié briewe, vreemd genoeg, in die destydse The Guardian verskyn (van alle dinge ’n Engelse Anglikaanse tydskrif). Skok en ontnugtering. Meteoriete en brandende boorde.

’n Ontstoke dominee staak terstond sy intekening op die tydskrif. Egter nie voordat hy self ’n brief aan die redakteur afbulder nie: “Baie van die raad wat in hierdie briewe uitgeloof word, blyk nie net verkeerd te wees nie, maar inderdaad onteenseglik diabolies.”

Wat, wonder ’n mens, sou C.S. Lewis, een van die 20ste eeu se grootste Christelike skrywers, van dié reaksie gemaak het? The Screwtape Letters (1942) – in Afrikaans deur Eddie de Waal vertaal as Briewe aan Bitterals (1993) – is immers een van sy vernaamste, mees geliefde boeke. Ironies, gesien die kwaai dominee se reaksie, is dit ’n vernuftige satire wat juis Christelike waardes onderskryf.

Dalk sou Lewis, ’n Oxford-professor, sy skouers opgehaal en gesug het dat ’n mens juis van dominees ’n skeut subtiliteit en oordenking verwag. Dat pastore, as uitlegkunstenaars van seker een van die mees komplekse en gevarieerde tekste van alle tye, darem matig vertroud met literêre genres en konvensies moet wees. Met ironie en pastiche.

Ook met allegorieë en legendes. Sodat hulle van alomverwoestende vloede sin kan maak, en van walvisse wat ná dae se herberg wees mense lewend uitspuug. Met simboliek en satire.

Maar wat vasstaan, is dat die hele hel los sou gewees het as Lewis se uitdagende briewe in 2019 in ’n Richardbaaise hoërskool se jaarblad verskyn het.

Onder uitroepe dat die leerling Lewis ’n ketter en ’n booswig is, sou ’n pastoor kiekies van die bladproewe rondswaai. Hy sou weeklaag dat die skoolleuse onder die ganse onderwyserskorps se oë verloën is.

Aan die vooraand van die eindeksamen sou die leerling Lewis getreiter en verguis word. Die leerling se uitroepe van “Daar’s ’n boodskap hier, maak jul oë oop en gebruik jul godgegewe verstand om dit te probeer snap!” sou deur die gekners van tande uitgedoof word.

Kortom, as die Bitterals-briewe in 2019 aan die KwaZulu-Natalse kus rugbaar geword het, sou die wêreld terstond, heelhuids en Middeleeus in die Vagevuur getuimel het.

Natuurlik is dit egter nie net Christene, soos Lewis, wat die reg – en plig – het om krities met die Christelike dogma, soos deur mense uitgelê, en die veruiterliking daarvan in ons pluralistiese samelewing om te gaan nie.

Die groot gevaar is immers juis die kunsgreep van die Christen-fundamentalisme, wat nou in Richardsbaai kop uitsteek, dat sekere sekerhede bo bevraagtekening verhewe is. ’n Sekerheid soos die destydse Bybelse begronding van apartheid dalk?

Op Richardsbaai is daar sonder twyfel bitterals in die heuningwals.

Meer oor:  Jean Meiring  |  Godsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.