Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hitte laat hom (ekstra stadig) op swaard val

Die een goeie ding van die laaste tyd se versengende hitte is dat dit toe gelukkig ook sommer te warm geword het vir die lagbare minister van binnelandse slape, Malusi Siesgabba, en hy op sy gloeiende swaard geval het.

Bygesê, die vallery was ook so in ekstra sta­dige “slow motion” en nie baie geesdriftig of baie jammer nie, want hy sien nog steeds ander magte as die oorsaak van sy klaaglike situasie.

Blouwillem

Amper soos deesdae se kinders.

Dis mos die onnie se skuld as hy 10% kry vir lewensoriëntering, die afrigter s’n as hy ’n skop reg voor die pale mis en sy ma s’n as sy hemp by die skool skeur.

Wat baie interessant gaan wees, is in watter ou joppie hy nou deur sy paartie herontplooi gaan word.

Ek en my ou maters het nogal Saterdagaand met nóg ’n laat rugbybraai by die vuur sit en bespiegel oor ou Gabba se loopbaanmoontlikhede (terloops, sou dit die laat braaiery of die rugbyspanning wees wat mens so sooibrand gee?).

Hy wat Siesgabba is, het natuurlik soveel snyerspakke en puntskoene dat dit ’n verrassing sal wees as hy nie êrens as ambassadeur aangestel gaan word nie.

En dan nie in die een of ander agtertangse landjie soos Oosbekkiestaan of Guinea Bissau nie. Nee, dit sal Londen, Washington of die IMF moet wees.

Of dalk by Standard en Poor (ag, ek bedoel Poor Standard). Ja-nee, daar’s nie ’n manier dat hy bestuurder van Ace se melkplaas in Vrede, rioolbestuurder in Koppies, vlughawebestuurder by Waterkloof of hoendervanger by Nskandalig gaan word nie. Die man het mos darem sy standaarde, of hoe?!

Maar dalk kry hy tog die vlughawejoppie, want hy het mos een jaar met daai “pilot”-uniform van hom by die parlement aangekom toe hy nog minister van “pubic enterprises” was. En ja, dan kan die Guptas sommer weer op Waterkloof land as hulle uitgelewer word.

Ouboet Tom daar in die Kaap sê hy is baie trots op klein Aamborstig Papier se vertoning Saterdag in die Boktrui.

“Ek hou hom al van laerskooldae af dop toe hy nog Flentertjie Papier was en toe die Bulle laas jaar ’n nuwe blaadjie omslaan en Paige deur ’n bloedjong Snipper Papier vervang, het ek geweet dié mannetjie is definitief nie net op papier ’n aanwins nie, maar op die veld ook.

Voorheen het Rassie en die keurders hulle afgevee aan Papier en gedink dat teenstanders hom soos ’n boek sal lees, maar kyk net hoe het hy op Murrayfield vlamgevat! reken ’n trotse Tom, wat nog altyd ’n oog vir rugbytalent en ’n goeie boek gehad het. “As Lood de Jager nou ook in die beginspan kan kom, draf Potlood en Papier eersdaags saam op. En dan het hy nogal sulke lekker bakbeentjies waarmee hy sommer albei kante gelyk om ’n teenstander ‘sidestep’. ’n Papiertier? Nooit as te nimmer nie!”

Ja, en so mooi die foto waar Papier ná die wedstryd bladskud met die Skotte.

Meer oor:  Blouwillem  |  Politiek  |  Hittegolf  |  Rubriek  |  Oos-Kaap Naweek  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.