Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe gaan ek al die wedstryde kyk én werk?
Blouwillem
Blouwillem

Ek vra hierdie week hier tussen die allemooiste Bolandse berge vir ’n Steellenboscher: “As dit dan so lekker hier is, hoekom glimlag en groet julle mense nie?”

“Nee, dis die inkommers wat so onvriendelik is,” moet ek toe hoor. Maar eeeek weet darem nie so mooi nie.

Een so ’n inkommer vertel toe dat sy pa, wat daar in Senekal se wêreld boer, by hulle kuier. Die ou het ’n pragtige nuwe huis daar naby ou Jan Boland se Vriesenhof, so reg in die armholte van die Stellenboschberg.

En so stap hy saam met sy pa op die agterstoep uit

Hy vra trots: “Nou Pa, hoe lyk dié vir ’n uitsig?”

Die oom het die dinge so staan en bekyk en antwoord toe: “Ou seun, ’n mens sou darem van hier af lekker ver kon sien as dit nie vir dié berg was nie.”

Nou ja, so voel dit vir my as ek oor die volgende ses weke dink. ’n Berg wat reg voor my lê en ek weet nie hoe ek gaan oor nie.

Hoe gaan ek al daai wedstryde elke dag kan kyk en dan nog werk én vroulief tevrede hou?

Hoe gaan ek al daai wedstryde elke dag kan kyk en dan nog werk én vroulief tevrede hou? Maar iemand moet dit seker doen.

Iemand sal mos darem moet kyk as Rusland volgende Dinsdag teen Samoa speel, of as Georgië op ’n Donderdagmiddag teen Uruguay opdraf.

Daardie arme manne het mos nie vyf jaar geoefen om voor leë TV-kamers te moet speel nie, of hoe?

Ek sal maar net eenvoudig afleidings soos gras sny, blare hark, mure verf, takke saag en geselsies met my Pop tot die minimum moet beperk en saam met my ou maters my plig voor die groot (of liewers groterige) skerm moet doen.

Wat reg is, is mos net eenvoudig reg.

Wat reg is, is mos net eenvoudig reg.

Met die meeste wedstryde wat reg in babas se bad- en bottietyd val, is ek ook dankbaar dat ek nie meer ’n jong pappie is nie.

En nog meer dankbaar dat ek nie ’n ou-nuwe pappie is nie.

Dik Daan vertel ons van die 74-jarige Indiese vrou wat hierdie week geboorte aan ’n tweeling geskenk het, wat daartoe gelei het dat haar 82-jarige ou man terstond die volgende dag ’n beroerte gekry het.

Ai, my oom, en dit nog voordat jy die eerste groot doek moes afhaal of jou eerste koliek-nag moes deursien.

Daan sê hy wonder of die ou oom bewus was van die komende bevalling en of sy tannie-mammie hom nie dalk met ’n slap riem gevang het nie.

Soos die 90-jarige oom wat by ’n ander oom gespog het dat sy 25-jarige bruidjie swanger is. Dié vertel hom toe van die grootwildjagter wat deur ’n leeu bestorm is, maar toe net ’n sambreel by hom het.

Hy rig die sambreel op die leeu en skree “boem, boem, boem”, en die leeu val dood neer.

“Maar dis tog onmoontlik!” sê die eerste oom. Roep oom twee uit: “Juis, my ou maat, juis!”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.