Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe het alles dan so verkeerd gegaan?

Daar was geen wenners met die betoging teen geslagsgeweld wat verlede Saterdag in chaos in Kaapstad geëindig het nie. Of was daar? vra Marzahn Botha.

Stortreën kon hulle nie warm onder ’n kombers en met ’n glas wyn by die huis hou nie. Foto: Marzahn Botha

Van die betogers wat in Kaapstad vir ’n optog teen vrouegeweld en vir geslagsgelykheid byeengekom het, se plakkate het onder meer gelui: “Dear men, do it better”; “In my country it’s easier to get raped than to get a job”; “Same s$#t different year”.

Stortreën kon hulle nie warm onder ’n kombers en met ’n glas wyn by die huis hou nie.

Die meeste was jong mense en studente. Hulle is siek en sat vir die monster wat dreig om ons vroue, ons ma’s en ons susters lewend in te sluk. Jong mans het ook saam met hul susters, vriendinne en ma’s kom standpunt inneem.

“Ons was verlede jaar ook hier, maar dit lyk of dit nie gehelp het nie,” sê die tiener Aslam Liebenberg, wat oorkant die Kimberley-hotel na die groep betogers kyk.

Maar alles lyk nie pluis nie; dis asof die driftige gemoed van die skare nie tuishoort in die kalm omgewing nie – so asof iets wag om te gebeur.

Almal juig luidkeels vir die klomp motorfietse wat verbybrom om geraas teen plaasaanvalle en rassisme te maak. Dit lyk of almal uiteindelik kan saamstaan teen die grumisdade wat lot is van vroue, kinders, boere, mense van kleur en mense wie se seksuele oriëntasies ander nie aanstaan nie.

Ek stap weg, op in Roelandstraat om deur my kamera ’n geheelprentjie te probeer vasvang van die koue misreën, die grys Kimberley-hotel en die veelkleurige betogers in hul reënjasse.

Maar alles lyk nie pluis nie; dis asof die driftige gemoed van die skare nie tuishoort in die kalm omgewing nie – so asof iets wag om te gebeur.

My vermoede word bevestig toe ek ’n uur lank iets anders gaan doen en weer terugkeer: Dinge het heeltemal verander.

Dit lyk of almal uiteindelik kan saamstaan teen die grumisdade wat lot is van vroue, kinders, boere, mense van kleur en mense wie se seksuele oriëntasies ander nie aanstaan nie. Foto: Marzahn Botha

Traanrook hang in die lug, jong mense wat daarvan probeer vlug, hardloop verby. Waar die betogers vroeër was, staan ’n muur van polisiemanne met maskers oor hul gesigte en skilde voor hulle uitgestrek.

Jong vroue en mans met wit, groen, pienk en geel hare daag die polisie uit. Hulle skel nie net nie. Hulle huil. Onbeheers.

Hulle huil van skok, maar hul trane loop oor meer as dít. Hulle ween vir elke slagoffer wat al die prooi was van ’n pedofiel of seksmisdadiger wat nie “nee” vir ’n antwoord wou aanvaar nie.

Dalk was van hulle ook slagoffers, gelukkig genoeg om daar te mag staan en te mag huil.

Meisies omhels mekaar terwyl hulle woordpyle van woede in die rigting van die polisie stuur: “We will not be silenced. You are doing it again.”

Jy, jy moet stilbly. Jy is media. Die media moet stilbly.

Dan is daar ’n knal. My ore suis. Ek sien die rook van ’n skokgranaat wat 3 m van my af geval het. Jong mense hardloop soos verwilderde diere verder op in Roelandstraat. Alarms gaan af. Meisies skree. Meisies val. Die polisie storm.

Alles só onnodig.

Ek voel ek kan nie stilbly nie en wys ’n polisieman daarop dat daar net ’n paar jong meisies in die straat is wat niemand bedreig nie.

“Jy, jy moet stilbly. Jy is media. Die media moet stilbly.”

Nog skokgranate gaan af. Nog jong mense hardloop weg, maar ander bly staan.

Dit lyk of almal uiteindelik kan saamstaan teen die grumisdade wat lot is van vroue, kinders, boere, mense van kleur en mense wie se seksuele oriëntasies ander nie aanstaan nie. Foto: Marzahn Botha

Later hoor ek dat ’n saak van poging tot moord ondersoek word en dat 18 betogers in hegtenis geneem is weens openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging en die oortreding van die Rampbestuurswet.

Hoe kon alles só verkeerd gegaan het?

Niemand het gewen nie.

Was dit omdat ’n motorfietsryer deur die versperringslinte na die parlement wou ry en deur die polisie grond toe gesleep is en hy hom na bewering met ’n vuishou verset het? Was dit omdat betogers ’n minuut van stilte by die parlement wou uitroep vir slagoffers en die geluid van ’n skokgranaat toe gehoor is?

Verskeie beskuldigings word rondgeslinger. Vrouedrukgroepe sê die motorfietsryers moet die skuld kry vir die polisie se optrede. Almal is kwaad vir die polisie.

Niemand het gewen nie. Behalwe miskien die seksmisdadigers, want met die geweld was die aandag nie meer op hulle nie. Dit was asof hulle weer weggekom het . . .

* Botha is 'n vryskutjoernalis van Kaapstad. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 

Meer oor:  Marzahn Botha  |  Kaapstad  |  Gendergeweld  |  Betoging  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.