Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe hoër ’n mens vlieg, hoe harder kan jy val
Annelie Botes

Saam met die koronavirus het wydstrekkende lewenslesse gekom.

Nie stadigaan en oor jare heen ondervinding nie. Nee, dit het op die mensdom neergeduik soos ’n lammervanger wat op kuikens afpyl en plotseling sy prooi opraap en wegvlieg.

Ineens moet ons vaskyk in ons afhanklikheid, smagting en verslawing aan drank, sigarette, sport, sosiale saampakkery, vergaderings en wegneemetes. Die lys is lank.

Tog dink ek die moeilikste om te hanteer is die knop op die lewer oor werksaflegging en die meegaande salarisverlies. Hoe gaan jy jou huisverband, motor en mediese fonds betaal? Wat as daar nie ’n pennie op jou kredietkaart beskikbaar is vir kos op die aandtafel nie?

Boonop kry jy kennis dat die rente jou oor jou limiet gestoot het en die bank verwag ’n spoedige herstel van die situasie.

Die les wat ons hieruit moet leer, is: “Save for a rainy day.” Of die klinkende Afrikaanse eweknie: ’n Appeltjie spaar vir die dors.

Dis maklik om te sê jy hét nie ’n appeltjie om maandeliks te spaar nie, jy oorleef al jare lank op ’n hondehaar se dikte. Die antwoord dáárop is doodgewoon: Jy vlieg te hoog. Al werk ek tot my rug aan ’n seninkie hang, sal ek nooit met Anton Rupert en sy kalibers kan saamvlieg nie, al wil ek ook hoe graag.

As jy R4 000 per maand verdien, moet jy daarvolgens vlieg.

As jy R4 000 per maand verdien, moet jy daarvolgens vlieg. Dit móét tot jou daag dat jy nie DStv kan bekostig nie. Ook nie elke naweek skaaptjops braai en brandewyn drink nie.

Want om vir ’n hele gesin huishuur en elektrisiteit te betaal, bruinbrood, laevet-margarien en konfyt op die tafel te sit, met koffie en suiker, gaan bars. Wat nog van toiletpapier, toiletgoedjies, kinderklere, skoolfonds, brandstof?

Selfs al verdien jy R40 000 of R100 000 per maand, moet jy in gedagte hou dís waar jou vlieggrense lê. Ons ken die cliché wat sê hoe hoër jy vlieg, hoe harder kan jy val.

Almal van ons weet daar sal die een of ander tyd in die lewe ’n krisis opduik. Dan sal ons ’n appeltjie vir die dors nodig hê. Maar ons bestee en jol asof die dors ons nooit sal oorval nie.

Op ’n dag kom blaas die koronavirus ons kaartehuis onderstebo, en is ons in bruisende modderwaters. Dit geld nie net huisgesinne nie, maar ook alle ondernemings.

As daar geen reserwefonds is nie, en boonop bankskuld wat afbetaal moet word, kan die lammervanger uit die bloute op jou toesak.

Om van die hand na die tand te leef, is om voortdurend met ’n draaiende maag in onderliggende vrees te leef. En dít is mos geen florerende lewe nie.

Eendag as die koronavirus-brander stil raak, is dit ons plig om appeltjies te bêre vir die dag van dors. Dis nie só moeilik nie. Vlieg net laer.

Aanvaar jy is nie een van die spreekwoordelike Joneses nie. En hê die sekerheid dat ’n spaarplan jou gaan help om nie die grond so hard te tref soos wat die Joneses dit gaan tref nie.

Simplisiteit was nog nooit ’n skande nie.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Brandewyn  |  Koronavirus  |  Lesse  |  Vlieg  |  Val
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.