Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe kaler hoe dronker in kaalbaskroeg

Die idee van ’n kaalbaskroeg staan haar nie juis aan nie, want nudisme is nie sexy nie, skryf Erla-Mari Diedericks.

nudiste

Daar is nou ’n kaalbaskroeg. Of daar geen een kom, as die Coach & Horses-kroeg in Londen sy sin kry.

Die gedagte vervul my met afgryse.

Op die foto’s wat die berig van die kaalbaskroeg vergesel, is almal kaal. Dis nie ’n mooi gesig nie. Daar is ’n kaal klavierspeler, ’n kaal kroegman, en natuurlik ’n kaal kelnerin.

Dit klink dalk plesierig totdat jy besef dat dit nie gaan oor seks nie, maar wel oor nudisme. Die verskil tussen sexy-kaal en nudisme-kaal is eenvoudig. Die een is mooi, die ander een lelik. Die een is ’n lusmakertjie, die ander een is net plein grillerig.

Kaal vir seks gebruik mooi en maer mense om produkte of drank in ’n kroeg te verkoop. Dink maar aan ontkleeklubs.

Nudisme is nie sexy nie. Want nudisme beteken gewone mense doen hul gewone ding – net sonder klere. So is die kelnerin in die foto ouer met selluliet net waar jy kyk. Die klavierspeler lyk of hy ’n effense magie kan hê.

Ek was al in ’n nagklub waar kaalborsvroue drankies bedien en gespierde kroegmanne kaalbors op toonbanke gaan lê vir body shots. Ek vermoed die Coach & Horses gaan nie heeltemal dieselfde wees nie.

Vir baie is die doel van ’n kroeg nie net om te drink nie, maar om hul inhibisies te verloor en mense te ontmoet. Hoe gou sal jy jou inhibisies verloor as jy reeds van jou klere ontslae geraak het? En is dit nie juis deel van die opwinding om iemand sonder hul klere aan te verbeel en daaroor te fantaseer nie?

Stel jou voor. Jy stap die kroeg binne. Volgens die mediaverklaring kan jy nie sommer net kaalgat daar opdaag nie. Jy sal dus klere aanhê. Sal daar ’n uittrekkamer wees? Of gaan jy in jou Evasgewaad en gooi net ’n lang, groot jas bo-oor?

Maar kom ons veronderstel jy het in jou jas by die kroeg opgedaag. Die jas word uitgetrek, die effense briesie in die kroeg tref jou kaal rug en jy gaan sit kaalbas op ’n kroegstoel.

Wat van higiëne? Ek gril juis al klaar vir ’n taai, vuil kroegtafeltjie, wat nog van ’n nat, taai kroegstoel!

Gaan almal na jou lyf staar? Gaan party mense se borste en boepies op die tafel rus? Maar kom ons sê almal kry hul kyk in en jou kelner daag op om jou bestelling te neem.

Jou kaal kelner . . .

Nou gewoonlik merk jy nie op dat wanneer jy sit en jou kelner langs jou staan, sy middellyf en jou gesig om en by op dieselfde hoogte is nie. Maar jy sal gou besef dat dit moeilik is om bier en pork belly te bestel as ’n harige naeltjie jou reg in die gesig staar. En wat gaan gebeur as hy of sy oorbuk om die skinkbord op die tafel te plaas? Wat gaan alles op die tafel beland?

Vir baie is die doel van ’n kroeg nie net om te drink nie, maar om hul inhibisies te verloor en mense te ontmoet. Hoe gou sal jy jou inhibisies verloor as jy reeds van jou klere ontslae geraak het? En is dit nie juis deel van die opwinding om iemand sonder hul klere aan te verbeel en daaroor te fantaseer nie?

Erla-Mari Diedericks

Dan weer – dit kan ’n mens latere teleurstelling spaar as jy sommer op die eerste oogopslag kan sien of die man wat vir jou ’n drankie gekoop het, die paal gaan haal of nie.

Daar is al vantevore restaurante geopen vir nudiste, maar die jongste een sluit nou sy deure omdat daar nie genoeg belangstelling was nie. Dis ironies dat kaalheid seker die mens se natuurlike toestand is, maar deesdae is daar eintlik niks meer natuurliks daaromtrent nie.

Want klere bied beskerming. Nie net teen taai, vuil stoele en kosspatsels nie, maar ook teen die beoordelende blik van jou medemens.

Klere kan jou beeld verander, jou selfvertroue gee en jou foute verbloem. Sonder klere is jy kaalgestroop van als.

Waaragter sal jy dan skuil? ’n Harde lag? Te veel glase whisky? Of sal jy vir die eerste keer vry voel om net jouself te wees en kaalbors en oopmond saam met almal in die kroeg te sing en te fuif?

Ek weet dit sal nie vir my werk nie. My onooglike maagrol sal my so pla dat ek nie my sit sal kan kry nie en ek sal niemand in die oë kan kyk nie.

Ek verkies eerder die outydse manier van doen: Ontmoet, drink hulle mooi, sleep hulle huis toe – en dan eers waai die klere.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Nudisme  |  Kaalbaskroeg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.