Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe kan ’n voël janfiskaal én laksman heet?
Gerhard van Huyssteen

Die voëlghoeroe-koekeloerder Sam de Beer vra per e-pos: “Ek is op soek na die herkoms van ’n klompie Afrikaanse ­voëlname, spesifiek kemphaan, laksman, katakoeroe, nuwe- jaars­voël en nimmersat. Party name lyk logies, maar is nie; ander name lyk maklik, maar ek is nie seker oor die Hollandse herkoms nie.”

Die standaardwerk oor die herkoms van Afrikaanse plant- en diername is J. du P. Scholtz se Uit die geskiedenis van die naamgewing aan plante en diere in Afrikaans. Hiermee saam moet ’n mens Afrikaanse etimologieë van S.P.E. Boshoff en G.S. Nienaber raadpleeg, asook die Etimologiewoordeboek van Afrikaans onder redaksie van Gerhard van Wyk. Al hierdie bronne is digitaal beskikbaar.

Op grond van Scholtz se onderskeid tussen erfgoed, leengoed en eiegoed kan ons Sam se lysie name in oënskou neem:

  • Die naam van die kemphaan (Philomachus pugnax) is oorgeërf uit Nederlands, waar “kemp” verband hou met die woord “kamp”, wat “geveg; wedstryd” beteken (soos ons ook kry in die woord “kam­pioen”). Volgens die Nederlandse Wikipedia ding die mannetjies op “stoeiplekke” (!) teen mekaar mee om die vlerke van die toekykende wyfies – vandaar die “kemp” in “kemphaan”.
  • Die laksman staan ook bekend as (jan)fiskaal. Waarom twee sulke uiteenlopende ­name vir dieselfde voël? Een van die vaders van die etnobiologiese nomenklatuur, Carl Linnaeus, het dié voël benoem as óf Fiscus collaris óf Lanius collaris. Eersgenoemde dui op die feit dat hierdie voël goed versamel, net soos wat die fiskus (of ’n fiskaal) ons belasting insamel; daarom dus die voëlnaam (jan)fiskaal. Die Latynse woord “lanius” beteken “slagter” en die naam Lanius collaris dui op die feit dat hierdie voël kleiner voëlsoorte vang en verskeur; vandaar dan ook die verband met “laksman” – iemand wat ander mense teregstel. Die woord “laksman” het ons uit Maleis (laksamana) loop staan leen en op hul beurt het die Maleisiërs weer die woord uit die Hindoe-epos ­Ramajana gepik: Lakshmana/Laxman/Lakhan is die bekende prins Rama se jonger broer.
In Kaapse Khoi sou dit moontlik “duiwelsvoël” kon beteken.

Hoewel niemand 100% seker van die herkoms van die woord is nie, is katakoeroe ­(familie Campephagidae) na ­alle waarskynlikheid ’n leenwoord. In Kaapse Khoi sou dit moontlik “duiwelsvoël” kon beteken, maar dit is meer waarskynlik dat die naam verband hou met die woorde ­goura-p en t’2guraa-b, wat “kraai” beteken het.

  • Die nuwejaarsvoël (Clamator serratus) se naam is eg Afrikaans en tussen 1715 en 1785 hier ter plaatse geskep. Ek kon helaas geen inligting opspoor waarom dit die naam van die voël is nie – anders as die nuwejaarsafrikaner (Gla­diolus cardinalis), wat in Desember/Januarie blom.
  • Op Flickr beweer die fotograaf Johan van Rensburg dat die naam nimmersat (Mycteria ibis) uit Duits geërf is, maar behalwe dat dié ­voël se naam in Duits nimmersatt is, kon ek die oorsprong nie verder verifieer nie. Die naam is waarskynlik gegrond op die feit dat dit lyk asof hulle die heeldag na kos op soek is: Hulle is dus nimmer sat (oftewel versadig). Ander soortgelyke samestellings in Afrikaans is “flapuit” (iemand wat alles uit (f)lap), “bemoeial” (iemand wat hom met alles bemoei), “weetal” (iemand wat alles weet) en “deugniet” (iemand wat nie deug nie).

As jy dalk oor meer inligting beskik, laat hoor gerus van jou.

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.