Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe kan ons anders dink oor vakansie?

Bo al die klatergoud en die aankoop en verorbering van verbruikersgoedere moet ons ook dink wat die dieper betekenis van vakansie is, skryf Nico Botha.

Desember, die eintlike vakansiemaand in die land, is op sigself ’n komplekse maand waar ’n aantal redelike ernstige dinge saamloop.Foto: Vusi Mthalane

Meestal is Suid-Afrikaners hierdie tyd van die jaar so gedaan van werk dat niemand wil dink oor of daar miskien ’n dieper betekenis aan vakansie en ontspanning is nie. En tog moet ’n mens dalk juis as deel van die vakansieseisoen net vir ’n oomblik nadink oor die vraag: Wat is hierdie wonderlike ding wat bekend staan as vakansie?

Ons moet ’n manier vind om bo al die klatergoud en die aankoop en verorbering van verbruikersgoedere vir onsself die vraag te probeer beantwoord. Want in hul stamme dra albei woorde eintlik betekenisse wat ons kan help om nie aan die einde van nóg ’n vakansieseisoen te wonder waaroor dit nou eintlik gegaan het nie. Die stam van vakansie dra op ’n interessante wyse die betekenis van “leeg”. Waarop ’n mens sou kon reageer met “nou toe nou”.

Dit behoort eintlik elke vakansie in ons lewe te wees.

En as die verbeelding ’n bietjie ingespan word kan vakansie die betekenis van ontlediging kry: Om ons leeg te maak van die dinge van die afgelope jaar, maar ook in die sin van selfontlediging. Om onsself te ontledig van grootheidswaan, van die gevoel van uitsonderlikheid en meerderwaardigheid, maar ook van die tendens om soms neerhalend van onsself te praat en te dink ons is minderwaardig. Selfs al sou vakansie net verlangs hierdie betekenis hê, behoort dit eintlik elke dag vakansie in ons lewe te wees. Omdat hierdie duiweltjies ons elke dag teister.

Maar juis daarom is die fokus op ontspanning ewe belangrik. Ontspanning, wat met vakansie gepaardgaan, beteken veral om te ontspan en te speel. Is dit die neo-Marxis Herbert Marcuse wat gesê het die mens is eintlik veronderstel om ’n homo ludens, ’n spelende mens, te wees – maar toe gaan hy heen en skep vir hom ’n wêreld waar mense mekaar se keel moet afsny om bo uit te kom en om te wys wie die fiksste en die geskikste is vir die lewe.

Skepping uit niks

Nico BothaFoto: Deaan Vivier

Genadiglik dra die woord ontspanning ook die betekenis van herskepping. Is daar ’n manier waarop ons herskep kan word terwyl ons onsself gate uit geniet deur te ontspan tydens die vakansie? Is so ’n vraag ernstig genoeg om ons ook te laat nadink oor die Advent, oor die koms van dié Een wat ter wille van die ontspanning sy verskyning in die wêreld sou maak?

Het ons dalk nou weer soos heel aan die begin ’n skepping uit niks nodig? Want dit lyk dan al asof ons eie pogings om ’n ander soort mensheid daar te stel nie alte geslaagd is nie. Ons kloof nog steeds hare en verguis mekaar en die gekoesterde ideaal van versoening met geregtigheid wag op verwesenliking.

Of moet ons nou net eers afskakel om die vakansie op ’n manier te benut waar ons net eers tot stilstand kom, lekker ontspan, lekker speel, lekker eet en lekker drink sodat ons kragte herstel kan word vir die uitdagings van die nuwe jaar? Suid-Afrikaners se lewe is egter te kompleks om bloot net van die ernstiger dinge te vergeet. Desember, die eintlike vakansiemaand in die land, is op sigself ’n komplekse maand waar ’n aantal redelike ernstige dinge saamloop. Terwyl ons vakansie hou is daar die universele Menseregtedag en ons eie Versoeningsdag en so ’n stukkie van die 16 dae-veldtog teen geweld teen vroue en kinders.

Die werklikheid is dat versoening tussen Suid-Afrikaners nou amper verder weg is as toe ons in 1994 'gered' is.

Maar dis ook goed so, want dit voorkom dat ons met vakansietyd op ’n geluksalige wyse in ’n gekkeparadys leef. Terwyl ons eet en drink en speel dink ons uit genade dalk na oor talle Suid-Afrikaners wat nog nie eens die mees basiese menseregte van voedselsekerheid en ’n dak oor die kop geniet nie. Of ons staan vir ’n oomblik stil by die werklikheid dat versoening tussen Suid-Afrikaners nou amper verder weg is as toe ons in 1994 “gered” is.

En die vlek op ons samelewing van die voortslepende geweld teen vroue en kinders waardeur hulle óf vermink óf gedood word, wat maar net nie uitgewis kan word nie. Dit alles maak dit duidelik dat vakansie nie maar net vakansie is nie, maar dat die land en sy mense leeg gestroop moet word van alles wat ’n rustige, vreedsame, versoenende, voorspoedige en vol lewe onmoontlik maak. En dat ontspanning nie maar net ontspanning en spel behels nie, maar ook diepgaande menslike transformasie. Amper soos toe Jesus Christus sy lekkerte, sy vakansie, sy rus en vrede prysgegee het om in die geroesemoes van die wêreld in te dons en dit te herskep.

*Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nico Botha  |  Vakansie  |  Versoening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.