Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe kan skool se slimkop nou op straat bedel?
Ivor Price

By die verkeerslig naby my ouerhuis staan ’n man met ’n opgeskote meisiekind neffens hom. Hy lyk vaagweg bekend. My aanvanklike reaksie was dat hy dalk saam met my op skool was, maar hy lyk aansienlik ouer; sy plooie lê te diep vir ’n man wat, soos ek, 20 jaar gelede in matriek was.

Toe hy bakhand nader staan, herken ek hom egter. Dis wragtig hy: ’n redelike slimkop wie se huiswerk ons dikwels skelmpies afgeskryf het. ’n Ou wat met gemak oor als van die politiek tot maatskaplike kwessies kon mondeling doen. Terwyl die res van ons nog skamerig rondgekyk het, het hy al voorgevat wanneer iemand ’n gebed moes doen of by ’n skoolbyeenkoms iets moes sê. Hy’t die gebed van Jabes so goed soos sy langvrae in aardrykskunde geken.

Hy maak nie regtig oogkontak nie, en dit lyk nie of hy my herken nie – al het hy etlike jare lank in die skoolbank net voor my gesit.

“Net ’n tweerandjie,” sê hy. Die dogtertjie hou sy hand styf vas. Haar gesig is verbasend skoon al verwyl sy haar dae op straat, maar dit lyk tog of haar vel in die son seerkry.

“Moet sy nie in die skool wees nie?” vra ek. “Ja, meneer,” antwoord hy verleë.

Hulle soek net ’n tweerandjie, seblief, om ’n blikkie vis te koop. Sy hand is vol kleingeld – ’n paar verdwaalde munte wat mense die betrokke oggend vir hom gegee het. Sodra hulle genoeg geld bymekaar gemaak het, sal die twee van hulle huiswaarts keer en ’n pot kos aanmekaar slaan. Elke dag sorg vir homself, en môreoggend vroeg sal hulle na dieselfde bedelplek terugkeer.

Later, in my komvandaanplek, sien ek ook ander bekendes wat redelik doelloos op die straathoeke ronddwaal.

Koes-koes, daar hol hulle . . .

Dit sluit ’n hele paar in wie se arms by prysuitdelingsgeleenthede te klein was vir al die bekers, diplomas en geite wat hulle huis toe moes dra. Ander het atletiekrekords gebreek terwyl ons hul name van die paviljoene af uitgebasuin het. Koes-koes, daar hol hulle . . .

Sedertien wonder ek die heeltyd wat in hul lewe skeefgeloop het. Die man wat by die verkeerslig saam met sy kind bedel, het destyds vertel dat sy ouers nie die geld kon bymekaar kry om hom verder te laat leer nie. Dit is ’n redelik aanvaarbare verskoning, want tersiêre studies in hierdie land is onbekostigbaar duur – en studiehulp was nie in daardie jare so geredelik beskikbaar nie.

Maar hoewel ek met hulle simpatie het, kan ek nie help om te wonder of daar nie tog iewers ’n werkgeleentheid beskikbaar sou kon wees nie. Dit gee immers jou selfbeeld ’n knou as jy nie die vermoë het om vir jouself en jou geliefdes te kan sorg nie.

Hoe gebeur dit dat mense met bewese potensiaal langs die pad verlore gaan? Duidelik is potensiaal sonder dryfkrag nutteloos. My pa was reg toe hy gesê het daar is net twee verkeerde keuses tussen ’n lewe van sukses en die eensame pad van ’n lewe op straat.

  • Volg Price op Twitter by @ivorprice
Meer oor:  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.