Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe kry jy winterure om?

Met die winter hier (die elektriese kombers is gisteraand uitgerol) is die vraag nou: Hoe kry jy die lang, koue, donker ure om as jy in die nanag uitgeslaap ontwaak en dagbreek nog ver lê? Wat doen jy “to make it through the night” (myKris Kristofferson)?

Johan van Wyk

Dalk soos die ou pioniersboere? Hulle het soggens vieruur, selfs vroeër, opgestaan, die houtstoof aan die gang gekry, godsdiens gehou en dan met ’n beker soet, swart koffie by die kombuistafel sit en wag dat dit lig word, sodat hulle die koeie kan gaan melk. Dis wat jy doen as jy saam met die hoenders gaan slaap.

Wanneer ’n werfhaan met ’n kam so rooi soos ’n stuk ryp waatlemoenkroon, en spore soos die sabel van ’n Pruisiese veggeneraal, teen sononder tussen sy henne op sy stellasie geklim het, was dit slaaptyd op eensame plase. Die nag kon so lank word dat jy teen ligdag seer gelê is. Jy kon nie wag dat die rooidag breek, sodat jy die onderdeur kon oopstoot om die oggendstond tegemoet te stap nie. In die winter knarsend op n witgerypte klipwerf. Of in die winterreënstreke van die noordwestelike Karoo soos in NP Van Wyk Louw se winter uit “Vier gebede by jaargetye in die Boland”. Met “die aarde nagtelang (ge)week in die donker stil genade van die reën . . .” Te hope die Boland en Karoo se voorland hierdie winter.

Wel, ek het nie meer ’n melkkoei of ’n rooibontwerfhaan waar ek woon nie, maar die mag van die gewoonte, neergelê in my kinderjare, dryf my steeds vroegaand vere toe. Wanneer ek uitgeslaap in die nanag wakker word, ontstaan die vraag: Wat nou? Nog ’n slaappil?

Moet jy lees? Of by die yskas in die spens inbreek vir gisteraand se laaste koue frikkadel, in kinderlike verwondering dat daar ’n liggie aankom as jy die deur oopmaak? Rooibostee en beskuit? Sjokolade, Milo? ’n Biltongbroodjie?

Maar doen dit stil soos ’n muis. Jy wil nie jou vrou, op ’n dieet van Provitas met Marmite en blaarslaai, in die versoeking van ’n middernagfees soos in koshuisdae bring nie.

Wat van om jou begroting te hersien? Nie dat ek dit aanbeveel nie. Nadat ek myne drie-uur in die oggend gedoen het, het ek met wydoop oë soos ’n springhaas wat in ’n jaglamp kyk tot ligdag toe wakker gelê. Moet ook nie na die heruitsendings van verkiesingsdebatte luister nie, in gebrekkige Afrikaans op die radio gevoer deur “politiekkuste” wat almal aan verbale diarree ly.

Dit het my, vir berusting, Totius se gedig, “Nag op die see” (naby Aden tydens sy vaart langs die kus van Noord-Afrika) laat opsoek: “. . . dis alles see en alles donkerheid, tog vaar hy immer voort, op die kompas alleen val bundels lig . . .” Te hope.

Sy sal meedoen, maar jou dit die volgende oggend verwyt dat jy haar verlei het.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Rubriek  |  Menings  |  Winter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.