Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe laer hoe onveiliger?

Waarom is die Covid-19-sterftekoers in die Wes-Kaap soveel hoër as in die res van die land? Meer as 60% van die provinsie se inwoners woon by seevlak. Dra hierdie lae ligging dalk by tot die sterftekoers in die provinsie? Danie Uys en SW van der Merwe bespreek.

Theuns Kruger.Grafika24
Theuns Kruger.Grafika24

Sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie aan die einde van 2019 is baie bespiegel of die impak van die virus by verskillende hoogtes bo seevlak varieer.

Tans is die Covid-19-sterftekoers per miljoen mense in die Wes-Kaap 279,5. Dit is 19 keer hoër as die sterftekoers per miljoen mense in Gauteng. Wat is die moontlike redes hiervoor?

Een teorie is dat die verhouding van mense met MIV/vigs of TB in die Wes-Kaap meer is as in die res van die land. Of dit kan wees dat die provinsie se ouderdomsverspreiding met dié van ander provinsies verskil.

Maar volgens die 2018 General Household Survey (GHS) is daar egter nie wesenlike verskille nie (sien die grafika’s vir die persentasie van mense 60 jaar en ouer, mense met MIV/vigs, en mense met TB vir die nege provinsies hiernaas).

Meer as 60% van die Wes-Kaap se inwoners woon in Kaapstad, wat beteken dat ’n groot hoeveelheid mense in die provinsie by seevlak woon.

Dra hierdie lae ligging dalk by tot die sterftekoers in die provinsie?

Hoogte bo seevlak

’n Epidemiologiese ontleding van die Covid-19-pandemie deur Arias-Reyes et al (2020) toon ’n afname in die voorkoms en impak van die virus in bevolkings wat hoër as 2 500 m bo seevlak woon.

In hierdie studie word die voorkoms van Covid-19 in China, Bolivië en Ecuador ontleed, en tot die slotsom gekom dat die Covid-19-sterftekoers per capita afneem soos wat hoogte bo seevlak toeneem.

Amerika is tans een van die lande wat die swaarste onder die Covid-19-pandemie gebuk gaan. Die meeste groot stede in Amerika is by seevlak of naby bevaarbare riviere.

Indien die gemiddelde hoogte bo seevlak vir die grootste vyf stede in elk van die 52 deelstate (of ses indien die deelstaat se hoofstad nie een van die grootste vyf stede is nie) vergelyk word met die sterftesyfer per 100 000 mense in elk van die deelstate, is dit duidelik dat die sterftekoers aansienlik laer is indien die hoogte bo seevlak hoër as 300 m is.

Hoewel hierdie aanvanklike resultate nog verfyn moet word, wil dit voorkom asof Covid-19 ’n kleiner impak het op deelstate waarvan die groot stede hoogliggend is.

Ultravioletbestraling

Hoe word hierdie verhouding tussen sterftekoers en hoogte bo seevlak verduidelik?

Met ’n toename in hoogte bo seevlak is daar ook ’n toename in die son se ultravioletbestraling (UV-bestraling) (Blumthaler et al, 1996).

Hoogte bo seevlak is egter nie die enigste faktor wat UV-bestraling beïnvloed nie. Van die ander faktore is afstand van die ewenaar (hoe nader aan die ewenaar, hoe hoër is die UV-bestraling), wolkbedekking (UV-bestraling is die hoogste in wolklose toestande), besoedelingsvlak en die osoonvlak (die UV-bestraling wat andersins die aardoppervlak sou bereik, word gedeeltelik deur die osoonlaag geabsorbeer).

In ’n akademiese navorsingsartikel wat deur Bäcker (2020) vir publikasie voorgelê is, toon hy aan dat Covid-19 ’n stadiger sterfte- en siektekoers tot gevolg het by hoër sonbe-straling en ’n kleiner afstand van die ewenaar.

Sy resultate suggereer dat afstand van die ewenaar in ag geneem behoort te word in oordragmodelle, en dat die impak van UV-bestraling op individuele morbiditeit en mortaliteit getoets behoort te word.

Die laer UV-bestraling by seevlak, sowel as die groot hoeveelheid wolkbedekking in die winter, kan verder bydra tot die hoë sterftekoers in die Wes-Kaap.

Sonnige wintersdae – tipies in Gauteng en ander binnelandse provinsies hierdie tyd van die jaar – mag daartoe bydra dat die verspreiding van die virus in hierdie provinsies beperk word.

’n Epidemiologiese ontleding van die Covid-19-pandemie toon ’n afname in die voorkoms en impak van die virus in bevolkings wat hoër as 2 500 m bo seevlak woon.

Baie Kapenaars by seevlak

In Suid-Afrika is daar aansienlike wisseling in die hoogte bo seevlak van bewoonde gebiede. Volgens die 2018 GHS woon 58% van die bevolking in die binnelandse provinsies, en 42% in kusgebiede.

As ons die hipotese oor hoogte bo seevlak en UV-bestraling aanvaar, sou ons verwag dat die sterfte- en siektekoers in al drie kusprovinsies soortgelyk sou wees.

Die Wes-Kaap is egter aansienlik slegter af as gevolg van meer wolkbedekking en ’n groter afstand van die ewenaar.

’n Groter persentasie mense in die Wes-Kaap woon ook by seevlak in vergelyking met byvoorbeeld die Oos-Kaap (29% van dié provinsie se bevolking woon in die Nelson Mandelabaai- en Buffalo City-distrikte) en KwaZulu-Natal (34% van die bevolking woon in die eThekwini Metropolitaanse distrik).

Hoogte bo seevlak en UV-bestraling is natuurlik nie die enigste faktore wat die sterftesyfer beïnvloed nie, maar in die Suid-Afrikaanse konteks kan dit verklaar hoekom die Wes-Kaap tot nou ’n hoër siektekoers het as in die res van die land.

Daar word algemeen aanvaar dat die sterftekoers in die Wes-Kaap hoër is omdat hy “voor” die ander provinsies is ten opsigte van die onvermydelike styging in infeksies.

Dít impliseer dat die ander provinsies nog in die komende maande sal inhaal wat sterftekoers betref.

As hoogte bo seevlak en UV-bestraling egter wel ’n rol speel, mag dit wees dat die sterftekoers in die binnelandse provinsies steeds laer sal bly as dié van kusprovinsies.

Vyf implikasies

Bäcker (2020) voer aan dat die beduidende stadiger groei van die epidemie in hoërliggende gebiede regerings kan help om hul reaksie op die epidemie te beplan.

Verder stel hy voor dat indien sonlig beter weerstand teen Covid-19 sou gee, die korrekte beleid een sou wees waarin sosiale distansiëring toegepas word sonder dat mense tot hul huise beperk word.

Wat is die implikasies van hoogte bo seevlak en UV-bestraling vir Suid-Afrika se binnelandse provinsies in die stryd teen die Covid-19-pandemie?

  • Die staat van inperking in die binnelandse provinsies kan baie vinniger opgehef word.
  • Alhoewel dit moeilik haalbaar sal wees, kan veral kwesbare en ouer mense aangemoedig word om in die winter na hoërliggende areas met meer winterson en meer UV-bestraling te verhuis.
  • Prioriteit kan verleen word aan mediese hulpbronne in die Wes- en Oos-Kaap.
  • Nuwe metodes kan ondersoek word om die verspreiding van die virus te bekamp indien bepaal kan word of die UV-bestraling wel aansteeklikheid verminder.
  • Aangesien die gebruik van UV as kiemdoder reeds ’n standaardpraktyk in sterilisasieprotokolle is, kan UV-lig gebruik word om oppervlakke en goedere te ontsmet.

Meer navorsing nodig

As die epidemie nie so ernstig in die binnelandse provinsies is nie, sal dit buitelandse belegging ’n hupstoot gee. Dit sal veral in die komende lente en somer ook voordelig vir toerisme wees.

Die strewe na minder lugbesoedeling en hoër UV-bestraling is ’n verdienstelike saak, dus kan hernubare energie-inisiatiewe verder bevorder word aangesien daar minder lugbesoedeling ter sprake is as by steenkoolkragstasies.

Die sterftesyfer in talle ander Suider Afrikaanse lande, soos Namibië, Angola, Botswana, Zambië en Zimbabwe, is baie laag (toegegee, hierdie syfers is nie altyd heeltemal betroubaar nie).

Hierdie lande kry hoofsaaklik somerreën en is nader aan die ewenaar as Suid-Afrika, en die grootste deel van die bevolking woon in hoërliggende dele. Aanbevelings wat vir ons binnelandse provinsies gemaak word, sou dus ook in hierdie lande geïmplementeer kon word.

Daar is steeds baie onbekende faktore wat Covid-19 betref.

As bogenoemde teorie waar is, is meer navorsing nodig om presies die redes te verstaan waarom hoër UV-bestraling en hoogte bo seevlak die verspreiding van die virus en die sterftekoers beïnvloed.

Verwysings:

  • Arias-Reyesa, C. et al. 2020. “Does the Pathogenesis of SARS-CoV-2 Virus Decrease at High-Altitude?” Respiratory Physiology and Neurobiology, 277.
  • Bäcker, A. 2020. “Slower COVID-19 Morbidity and Mortality Growth at Higher Solar Irradiance and Eleva­tion.” Voorgelegde manuskrip. Beskikbaar by https://papers.ssrn.com/sol3/papers.cfm?abstract_id=3604729.
  • Blumthaler, M. et al. 1996. “In­crease in Solar UV Radiation with Altitude.” Journal of Photochemistry and Photobiology B: Biology, 39.
  • Uys is ’n medeprofessor verbonde aan die departement statistiek van die Universiteit Stellenbosch, en Van der Merwe is ’n sakeanalis.
Meer oor:  Wes-Kaap  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.