Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe lank voor kinders woorde begin vergeet?
Jana Luther

Opgaar ww., het opgegaar; opgegaarde. “Met verloop van tyd tot ’n groot hoeveelheid bymekaarmaak of versamel en vir latere gebruik berg; met verloop van tyd bymekaarmaak of versamel vanweë ’n begerigheid of drang om iets te besit”. (Woordeboek van die Afrikaanse Taal.)

Die ma en pa praat Engels met mekaar. Engels met hul kinders. Die gange van hul huis is Engels. Die kinders hou daarvan. Afrikaans is vir hulle soos die knope in Ouma se knopeblik.

So skryf Rachelle Greeff, eens, in dier voege, in ’n kortverhaal.

Abiekwaboom. Aartappelmietmot. Allerhandegedagtebos, appelliefie.

Baardmannetjie, bergappeltjie, bekertjiesgras en belletjiesheide. Besembiesie. Bergboegoe. Bitterboela.

“Hou die Afrikaanse woord tog so na as moontlik aan die internasionale woord,” pleit iemand dié week op Facebook.

Blinkblaarbos en bloukalossie. Boskapok. Dakgeitjie, dikbeksysie.

Buig-my-nie, deurmekaarbos. Duwweltjiesdoring, droedaskruid. Goggojot, ghallaghielie.

“Hou Afrikaans tog googlebaar.”

Kommetjiegatmuishond. Horingmanslang.

Katjietee, kelkiewyn. Koggelmandervoetkaroo. Kuifkoppikkewyn.

“Maak dit makliker om Afrikaans te skryf.”

Mantelbobbejaan. Lierhoringbees. Laplaploerie.

“Laat ons sonder bronne skryf, laat ons vinniger vertaal.”

Pandoeka. Mieliestronkboorder. Muishondblaar. Noorsdoring, norretjiepatat.

“Ons sukkel.”

Sakaboela. Malkopkewer. Peperbos. Perskalkoentjie, rooistompneus, rooiwanguil.

Wat word van al dié opgaargoed?

Wanneer Ouma nie meer daar is nie? Wanneer Oupa nie meer daar is nie?

Al die houers, al dié flentertjies lap, blikke vol knope, botteltjies, skroefies, moertjies? Rakke, ry op ry.

Boeke, lêers. Koerante, tydskrifte, elk op sy plek, dag en maand deur die jare vergeel. Miljoene knipsels, kaartjies, van toeka se mense, toeka se plekke.

Die letters vervaag. Flarde teks raak weg in groot data.

Hoe lank voor die kinders, hulle kinders, die motgevrete dele van ’n woordeboek wegdoen; digitale lêers verlê, vergeet?

Sal van hulle, soms, nog deur die blaaie sif, soos kinders, kleintyd, deur knope?

Hulle aan letterkombinasies, proe-proe aan klanke verwonder; dinge uit die verlede onthou, ontdek, verbeel; die blik dan weer toemaak, bêre?

Of sal hulle gewoon die swartsakke volstop?

Luther versamel woorde by afrikaans-vandag.co.za

Meer oor:  Bejaardes  |  Taal  |  Afrikaans  |  Woorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.