Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe lank voor ons ook sê: ‘We prefer English’?
Gerhard van Huyssteen

So byna tien jaar gelede had ek die voorreg om by die eens glorieryke Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) te werk. Die twee jaar “diensplig” daar was besonder leersaam, nie net ten opsigte van navorsing en tegnologie nie . . .

Ek bevind my in ’n ryke multikulturele en veeltalige omgewing. As taalkundige boei die talige taferele wat voor my afspeel, my eindeloos. Ek sien die uitdagings en interessanthede van Engels as lingua franca. Terselfdertyd probeer ek ’n bietjie van die ander mense se tale leer, om darem ten minste “hallo” en “totsiens” aan my kollegas te kan sê.

My direkte hoof is Kagiso Chikane, eggenoot van die apartheidstrydros eerw. Frank Chikane, wie se voete destyds deur oudmin. Adriaan Vlok gewas is. Sy is ’n waardige vrou; altyd voortreflik geklee wanneer sy uit haar blink Mercedes-Benz klim.

In die eerste paar weke wat ek daar werk, groet ek haar in die verbygang altyd vrolik met ’n Tswana: “Dumela, Mofumahadi Chikane”, gewoon omdat dit die Afrikataal is wat makliker oor my tong rol.

Dan groet sy styf-vriendelik terug: “Good morning, Gerhard.”

Ek vermoed heimlik dat sy dalk nie van die getswanary van my hou nie, dalkies omdat haar moedertaal – as ek reg onthou – Tsonga is.

By die eerste en beste private gesprek wat ons het, vra ek haar uit oor die kwessie.

“Beskou u my as respekloos as ek u in Tswana groet, mevrou?” vra ek in my beste Pretoria-Engels.

“Well, yes, I don’t like it.”

Actually, I would prefer it if you greet and address me in English.

“So, leer my dan om u in Tsonga te groet. Ek leer graag!”

Sy verskuif ongemaklik agter haar lessenaar.

“Actually, I would prefer it if you greet and address me in English.”

En net daar het ek een van die interessantste en insiggewendste gesprekke oor taal.

As selfopgelegde (sover ek kan agterkom) uitgewekenes in die VSA het sy en die eer­waarde eintlik heeltemal verengels.

Selfs ná hul terugkoms na Suid-Afrika het Engels hul huistaal gebly.

“I never speak anything else but English with my children and grandchildren. That is our language now.”

“En met ander Afrikane hier in Pretoria?

“Byvoorbeeld met die pompjoggie by Caltex of die kassier by Spar?”

“Never! That would be a sure sign of disrespect.”

My bek hang letterlik oop: “Hoe bedoel mevrou nou?”

“You see, back in those days, you white people wanted us to speak African languages, far away in the homelands you created for us. That was a way of keeping us uneducated, of depriving us of opportunities. So, if you couldn’t speak Eng-lish, you were a second-hand citizen, and you would receive second-hand treatment. And it is still like that today. If I speak Tsonga with the car ­

guard, I get second-hand treatment. And if I speak English with him, I show him that I respect him as a human in his own right.”

21 Februarie is jaarliks Internasionale Moedertaaldag en daarom is Februarie moedertaalmaand by Afrikaans.com. Gaan lees, kyk en luister gerus op hul webwerf na al die insiggewende perspektiewe.

Maar in my binnekamer wonder ek stil-stil hoe lank dit nog gaan duur voordat Afrikaanse mense ook sê: “We

prefer English, because we don’t want to be second-hand citizens.”

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.