Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe lyk die toekomsplan?
Dalk was die laaste tyd se onluste ’n wekroep vir Suid-Afrikaners om mekaar werklik raak te sien, nie net in die verskille wat ons verdeel nie, maar ook die toe­koms wat ons verbind. Foto: ISTOCK

Die onlangse openbare onrus en plundery gaan vordering met Suid-Afrika se heropbouprogram na wat beraam word, met ’n hele­ paar jaar vertraag.

Dit, gepaardgaande met die omvangryke uitwerking van die Covid-19-pandemie, vra om ’n nuwe perspektief.

Is die Nasionale Ontwikkelingsplan nog voldoende vir die nuwe werklikhede? Of selfs die 17 volhoubare ontwikkelingsdoelwitte wat in 2015 deur die Verenigde Nasies (VN) geïdentifiseer is wat teen 2030 bereik moet word?

Sommige mense sou kon argumenteer dat dit in die eerste plek nie die beste planne is nie.

Dit is altyd makliker om agterna klippe te slinger. Die moeiliker weg is om hande te vat en saam na oplossings te soek te midde van die diepliggende uitdagings en risiko’s.

’n Pad van versoening

Een van die waardes wat oudpres. Nelson Mandela onderskryf het en wat so deel geword het van die politieke kultuur wat hy geskep het, is versoening. Mandela se keuse om ’n versoeningspad te loop, ontlok vandag steeds verwondering, maar ook kritiek.

Suid-Afrika het vandeesmaand weer die geleentheid gehad om aan Mandela se erfenis te dink.

Dis uiteraard verleidelik om Madiba los te maak van sy tyd, die politieke beweging wat hy gelei het en sy ontwikkeling as mens en politikus.

As ons in hierdie strik trap, word hy as ’n heilige en mitiese figuur voorgehou wat alle politieke en ekonomiese keuses en elke liewe welsynsprojek seën – die beeld van die goedige oupa met ’n kombersie oor die knieë.

Hy was wel meer as dit en daarom is dit vir die meeste van ons uitermate moeilik om hierdie pad van versoening te loop. Hy kon selfs na sy politieke vyande uitreik en saamwerk en sodoende ’n nuwe kultuur vestig.

Oudpres. Barack Obama van die VSA skryf in sy outobiografie, A Promised­ Land, toe hy die Withuis betree het, het lede van die Republikeinse Party doelbewus en verbete sy ekonomiese herstelprogram teengestaan en afgeskiet.

Ten spyte van die feit dat hierdie mense geweet het die VSA is ekonomies op sy knieë, kon hulle as lede van die opposisie eenvoudig nie Obama­ se plan ondersteun nie. Hulle moes eenvoudig terugveg in ’n poging om die land vir die Republikeine terug te wen.

Dié politieke kultuur, wat gegrond is op die on­versoenbaarheid en verskille tussen mense, is ’n baie ander soort kultuur as die een wat Mandela gevestig­ het en wat gegrond is op ooreen­komste of gedeelde doelwitte wat mense kan verbind.

Die eersgenoemde kultuur is een wat die kieme dra van magsongelykheid, van ope gewelddadige konflik en die soort bitterheid en haat wat uiteindelik ontplof.

’n Ander soort leierskap

Suid-Afrika het ’n ander soort leierskap nodig om ’n volhoubare toekoms vir almal – en in die besonder vir ons kinders – te bou.

Dit is in die lê van dié grondslag vir die toekoms waar ons saam koppe (en harte) bymekaar moet sit om nuwe planne te maak – volhoubare planne wat almal in die land insluit en waardeur almal saam die vrugte van die arbeid kan geniet.

Miskien is die laaste tyd se onrus en plundering vir ons ’n wekroep om mekaar raak te sien. Om te besef ons is op mekaar aangewese.

In die VSA kon mense – en spesifiek nie politici nie – glad nie die oomblik raaksien toe ’n draaipunt bereik is nie.

En in daardie draaipunt het Donald Trump verskyn.

In Suid-Afrika kan ons put uit ons ryk erfenis en kultuur. Ons kan sáám kies om ’n ander en moeiliker pad met mekaar te stap.

Dit sal ons generasies lank vorentoe neem.

  • Prof. Nel is die dekaan van die fakulteit teologie van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Reggie Nel  |  Vertraging  |  Armoede  |  Geweld  |  Politiek  |  Plundering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.