Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe lyk ’n lewe in net 100 voorwerpe?

Op die 100 Artefakte-uitstalling in die US-museum op Stellenbosch was dit interessant om te sien watter objekte die kurator gekies het om die universiteit se verhaal van die afgelope eeu te vertel: Die etensklok van Maties se oudste vrouekoshuis, ’n ou Remington-tikmasjien, ’n Feldmeyer-strykyster uit die eertydse huishoudkunde-departement … ’n Prikkelende versameling, saamgestel onder leiding van die historikus, prof. Matilda Burden.

Die uitstalling laat ’n mens noodwendig wonder wat die 100 objekte van jou eie lewe sou wees. Of selfs net van jou paar jaar as student.

Bo-aan my lys sal die fotostaatmasjien wees. Ek onthou hoe ’n paar van ons een aand oor ’n bier amper tranerig van dankbaarheid geword het omdat ons studiejare so netjies met die koms van fotostaat-tegnologie saamgeval het. Hoe op aarde het ons ouers dit reggekry om sonder fotostate graad te vang? Waar het hulle op die nippertjie voor ’n toets notas in die hande gekry?

Ook hoog op die lys sou die universiteit se ou Univac-rekenaar wees – ’n monster van ’n masjien, groter as ’n Russells-rusbank. Destyds het studente in hul dosyne daar tougestaan om drukstukke van hul kursusopdragte te maak. Jy voer ’n stapel ponskaarte in – 50, 100 van hulle – en hoop en bid vir die beste, want as ’n enkele kaart se ponsgaatjies op die verkeerde plek is, skop die Univac jou projek uit. Die groot stroke afvalpapier van jou mislukte taak was egter ideaal om notas op te maak, en talle Matie-grade is met behulp van daardie skeurvelle verwerf.

Iewers moet daar ’n Volkswagen Kewer wees, ’n Volkskas- of Saambou-spaarboekie, Pentax K1000-kamera (onverwoesbaar!), ’n geel bottel Colgate-sjampoe en ’n pakkie sigarette sonder ’n gesondheidswaarskuwing – Camel aan die begin van die maand wanneer jy geld het, Gauloises vir wanneer sosiale sukses jou bly ontwyk.

Die uitstalling laat ’n mens noodwendig wonder wat die 100 objekte van jou eie lewe sou wees?

Ook op die lys sou ’n C90-kasset wees. Begelei deur ’n “mixed tape” in jou kar kon jy en vier vriende Koeëlbaai binne ’n halfuur haal.

Dan, drie items van studentelessenaars: ’n Baby Ben-wekker, ’n blou Sente vir Sending-spaarbussie en ’n botteltjie BioPlus vir ’n deurnagsessie voor ’n groot eksamen. Ek het een aand uit desperaatheid ’n hele botteltjie weggesluk. Soos ’n baba geslaap.

Dekor? Beslis daardie plakkaat van ’n seemeeu in vlug, met “If you love something, set it free” daarop. (Nié wat jy wou hoor as jou meisie jou pas gelos het nie.) Ook die wêreldbekende plakkaat van die meisie wat wegstap op die tennisbaan en haar rok effens met die een hand lig.

Sport-items sou ’n Super Springbok-rugbybal insluit en ook ’n paar North Star-tekkies, loshande die bedenklikste atletiekproduk van sy era. ’n Vriend het destyds ’n marathon daarin aangedurf. Hy het weke daarna nog mank geloop.

Dan die Tas-troika: ’n bottel Tassenberg, die tweeliter “bom” en daardie formidabele naweekfles met die krulstertjie by sy nek, die “varkie”.

En dis maar net so 20 van die 100.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.