Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe maak ons met ons erfenis?

Ons sal meer moeite moet doen om ons diversiteit te omarm en uit te leef op maniere wat ons help om nader aan mekaar te beweeg, skryf Leslie van Rooi.

Standbeelde het die laaste klompie jare gereeld onder vandale deurgeloop en opnuut ’n debat oor erfenis laat opvlam. Foto: Getty Images

Suid-Afrikaners vier sedert die begin van September Erfenismaand.

En Donderdag bereik die vieringe ’n hoogtepunt. Dit is Erfenisdag.

Maar wat doen ons met die dag? Hoe verstaan ons ons erfenis?

As iemand wat taamlik geïsoleerd grootgeword het in die 1980’s en 1990’s in die gemeenskap van Upington, was dit my koms as student na die Universiteit Stellenbosch (US) wat my laat besef het dat nie almal op dieselfde manier praat, dink en doen nie. En gou het ek ook besef dat dit iets goed is – iets wat ’n mens maar kan omarm.

Deel hiervan is die besef dat ons kultuurmerkers – die goed wat ons doen en die dinge wat ons vier – dalk ook anders is. Hier praat ek nie net van wat ons kan sien en kan wys nie.

Dit is jou erfgoed wat jou help om jou storie beter te verstaan en wat jou help om sin te maak van jou pad vorentoe.

Ek dink veral aan die merkers wat ons met ons saamdra omdat dit op so ’n manier deel van ons is dat ons dalk nie besef dat dit soms uniek aan ons is nie.

Dit is die aard van ons kultuurskatte. Dit is iets wat jy saam met jou dra sonder om dit soms te besef juis omdat dit iets is wat jy geërf het. Dit kom in baie gevalle reeds vir geslagte lank saam.

Dit is jou erfgoed wat jou help om jou storie beter te verstaan en wat jou help om sin te maak van jou pad vorentoe.

Ons erfenis kom van ons pogings om ons talente te gebruik om vir ons betekenisvolle herinneringe te skep. So help ons erfenis ons om bewustheid en trots by ons te kweek en saam met ander verder te ontdek en uit te leef.

Omarm ons diversiteit

Gedeelde erfenis? ’n Borsbeeld van oudpres. Nelson Mandela by die parlement in Kaapstad. Foto: Getty Images

Soos wat die tyd aanbeweeg het en ek met meer kontekste te doen gekry het – plaaslik, kontinentaal en internasionaal – het ek gou besef dat ons uniekhede nie wegstaan of ons losmaak van die kultuurskatte van ander nie.

Inteendeel, ’n mens vind die heeltyd aanknopingspunte met ander. Deur ons woorde, ons gebare, ons sin vir humor, ons kulinêre skatte, het ons in baie gevalle iets in gemeen met mense in die ander hoek van die wêreld.

As Suid-Afrikaners hoef ons nie ver te reis om dit te verstaan nie. In ons land, as ons dit werklik en eg wil beleef, is ons verskeidenheid sigbaar.

Ons sukkel egter om hierdie verskeidenheid te waardeer en as erfennisskatte te geniet.

Om te deel, beteken nie dat jy iets verloor nie.

Ons land se leuse help ons om iets hiervan te verstaan. !ke e: /xarra //ke, is geskryf in die Khoisan-taal van die /Xam mense en beteken letterlik diverse mense verenig.

So help ook ons nasionale lied, ons nasionale vlag en verskeie ander nasionale simbole ons om te verstaan dat ons inderdaad eenheid in diversiteit het en só kan leef.

Dit help ons ook om ons erfgoed te vier en te deel. Maar meer nog, saam word die erfgoed dan meer en kan dit mense byeenbring.

Want om te kan besef wat jy het en dalk ook wat die waarde daarvan is, is dit noodsaaklik om dit met ander te deel. En om te deel beteken nie dat jy iets in die proses verloor nie.

Inteendeel, om te besef wat jy werklik het help jou om te verstaan juis hoeveel skatte dalk saam is of hoe groot die kultuurerfenis is wat jy gekry het.

Leslie van Rooi

Erfenismaand help ons om dit doelbewus te doen en raak te sien.

Gegewe die onlangse aanpassing van die nasionale Covid-19 vlak van inperking, is ek seker dat ons die geleentheid sal aangryp om die nou reeds wêreldbekende “Jerusalema”-dans te doen en/of om inderdaad ’n vuurtjie aan te steek.

Maar dit kan nie hier ophou nie.

Ons sal meer moeite moet doen om ons diversiteit te omarm en uit te leef op maniere wat ons help om nader aan mekaar te beweeg. Net dalk beweeg ons weg van erfenis wat uitsluit en die erfenis wat so uniek is dat dit nie deur ander raakgesien mag word nie.

Dit is inderdaad hierdie verstaan van erfenis wat ’n persoon soos wyle dr. Danny Titus beliggaam het. Ons is dit aan hom en vele ander voor hom verskuldig om dit te vier en saam uit te leef.

Dit sal immers ’n simboliese monument wees wat deur almal gehuldig kan word.

* Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Leslie Van Rooi  |  Danny Titus  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.