Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe nou gemaak met die weermag?

Spanning in regeringsgeledere ná die omstrede Zimbabwe-besoek het opnuut vrae oor die rol van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) laat ontstaan, skryf Theo Venter.

’n Soldaat by ’n padversperring gedurende die staat van inperking. Daar is swaar op die weermag gesteun ná die uitbreking van die Covid-19-pandemie. Foto: Getty Images

Die besoek van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, aan Zimbabwe en die reaksie op die saamrygeleentheid vir ’n ANC-afvaardiging as deel daarvan, het ’n interessante reeks gevolge gehad.

Eerstens het pres. Cyril Ramaphosa baie streng teen Mapisa-Nqakula opgetree deur te gelas dat sy drie maande se salaris aan die Solidariteitsfonds moet betaal. Dit is waarskynlik die strengste optrede buiten om haar uit die kabinet te laat.

Onder normale omstandighede sou so ’n minister bedank het, maar Trevor Manuel (voormalige minister van finansies) was reg toe hy gesê het dat die ANC sy morele kompas en ankers verloor het.

Mapisa-Nqakula, wat in 2016 ’n persoon op ’n militêre vlug uit die Demokratiese Republiek van die Kongo na Suid-Afrika gesmokkel het, se optrede wys op politieke arrogansie en die vervaging van die grense tussen party en staat.

Sy word egter in dié geval deur die ANC se oordrewe gebruik van die konsepte “kollektiewe verantwoordelikheid” en “politieke ontplooiing” beskerm.

Daar is min twyfel dat die minister polities op baie dun ys beweeg en dat daar beslis ’n terugdruk-proses binne die MK-veteranevereniging is oor wat in die weermag aan die gang is.

Drie ander sake hou egter ook hiermee verband.

Die eerste is die ANC wat die SANW vir sy abba-geleentheid moet vergoed, ’n kwessie wat fyn deur die media en die opposisie dopgehou sal word.

Die tweede is die MK-veteraneliga wat as verlengstuk van die weermag in die politiek betrokke wil raak en genl. Solly Shoke, hoof van die weermag, se uitdruklike opdrag dat geen dienende offisiere aan partypolitieke bedrywighede mag deelneem nie. Hy is hierin sterk deur Thabang Makwetla, adjunkminister van verdediging, ondersteun, wat dui op spanning in die ANC oor dié aangeleentheid.

Derdens is daar die uitlating van oudgenl. Maomela Motau, ’n voormalige hoof van intelligensie in MK, wat MK-veterane vra om wel by partypolitieke bedrywighede betrokke te raak en dus Shoke se opdrag te ignoreer.

Waar laat dit Ramaphosa, Mapisa-Nqakula, die MK-veteranevereniging en die weermag?

Die weermag en geld

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane. Foto: Deaan Vivier

Daar is min twyfel dat die minister polities op baie dun ys beweeg en dat daar beslis ’n terugdruk-proses binne die MK-veteranevereniging is oor wat in die weermag aan die gang is.

Maar is dié politieke druk teen die president gemik? Waarskynlik manifesteer dit alles as gevolg van die finansiële druk wat daar op die weermag uitgeoefen word deur Tito Mboweni, minister van finansies, en die tesourie.

Die weermag se begroting word net soos dié van die meeste staatsdepartemente besnoei en van 2021 sal die weermag nie meer tekorte in die salarisrekening uit sy spesiale verdedigingsrekening kan aanvul nie.

Politieke besluitnemers soos die minister van verdediging kan nie meer tussen die party en die regering onderskei nie.

Hierdie rekening, wat eintlik soos ’n slush fund gebruik is, word in 2021 uitgefaseer. Dit het die weermag tot dusver in staat gestel om die tesourie te ignoreer.

Wat begin het as ’n besoek aan Zimbabwe is nou besig om twee sake duideliker na vore te bring, naamlik dat burgerlik-militêre verhoudings heeltemal skeefloop, dat partypolitiek heeltemal met die regering vermeng geraak het en dat politieke besluitnemers soos die minister van verdediging nie meer tussen die party en die regering kan onderskei nie.

Dit het aanleiding gegee tot ’n deprofessionalisering van die weermag en ’n partypolitieke gedrewe besluitnemingsproses.

Tweedens is die weermag se onderworpenheid aan burgerlike oorsig (die parlement) besig om te verwater en dat senior offisiere dit in die parlement bevestig het met hul uitsprake, soos dat die weermag die besuinigingsvoorstelle van die tesourie ondermyn.

Theo Venter

Nie alleen is daar spanning in die weermag oor burgerlik-militêre verhoudings nie, maar daar is ook duidelike spanning in die regerende party tussen die MK Militêre Veterane-vereniging (MK MVA) en die MK-veteraneliga.

Die liga steun Ramaphosa se optrede terwyl die vereniging, met mense soos Des van Rooyen en Carl Niehaus in sy geledere, oudpres. Jacob Zuma sterk in die openbaar steun.

Boonop is die weermag se mandaat en begroting nie gesinchroniseer nie. ’n Voorbeeld hiervan is die SANW se algehele onvermoë om byvoorbeeld in te gryp in die Isis-krisis in Mosambiek.

Die weermag se 75 000 lede moet beter aangewend word, want soos dinge tans staan, is die weermag besig om ’n ouetehuis te word met troepe met ’n gemiddelde ouderdom van 34 jaar.

’n Kleiner weermag wat ’n verjongingskuur ondergaan, is nou noodsaaklik. ’n Kleiner staande mag met ’n meer aktiewe en bekostigbare reserwemag is die antwoord.

Die SANW het ’n begrotingsgedrewe weermag geword pleks van ’n weermag met ’n bedreigingsgedrewe mandaat.

* Venter is ’n politieke ontleder verbonde aan die besigheidskool van die Noordwes-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.