Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe nou met geloof by skole?

'n Vraag waarmee talle ouers worstel, is hoeveel godsdiens deel van hul kinders se skoollewe moet uitmaak. Meer nog: wat moet die aard hiervan wees?

Só vra ’n ouer, Sonja Loots, ’n klompie geldige vrae in Rapport oor die “opening” met Skriflesing en gebed van ’n swemgala by ’n laerskool. (Lees gerus haar rubriek op Netwerk24.)

Self het ek al meermale ervaar hoe ’n vreemde teologie aan my kinders opgedis word onder beskerming van die sambreel dat die betrokke skool, volgens ’n besluit van sy beheerraad, ’n Christelike karakter het.

Vraag is watter negatiewe invloed dit kan hê.

Johannes Froneman

Nou moet ons eers duidelik onderskei tussen ’n private skool met ’n bepaalde godsdienstige inslag (Christelik, Moslem, Joods, ens.) en ’n staatskool wat kies, volgens wet, om ’n bepaalde godsdienstige etos te hê. Soos ek verstaan, is dit heeltemal toelaatbaar. Daar is natuurlik ook talle, dalk die meerderheid, staatskole wat nie ’n spesifiek godsdienstige karakter het nie.

Hoe gemaak met die staatskole waar dan wel ’n Christelike karakter gekies is? Dikwels is dit akademies uitstekende skole met goeie dissipline. Dit mag ook die naaste skool aan jou wees en is oënskynlik ’n goeie keuse om jou kinders in te plaas – as daar plek is!

Maar die wyse waarop die Christelike karakter gestalte kry, is dalk problematies. En nou praat ek nie van ouers wat hulself nie met die Christelike geloof assosieer nie. ’n Mens sou kon argumenteer dat hulle tog weet waarvoor hulle hul inlaat en nie kan kla as die betrokke skool in terme van sy etos optree nie.

Die vraag is veel meer kompleks wanneer die ouers nie in beginsel ’n probleem met die Christelike karakter van die skool het nie, maar met die wyse waarop dit gestalte kry.

Kort gestel: Sommige ouers wil in die ou tradisie alles oop- en toemaak met ’n gebed. En voeg dan Skriflesing by terwyl die kinders trippel om te swem. (Hoe voorskoolse kinders se suggestiewe revue-danspassies verduidelik word, is ’n ander vraag.)

Vir sommige ouers is geloof ’n stiller, minder demonstratiewe saak. Een van: “En wanneer julle bid, gaan in jul binnekamer . . .”

Dié ouers is ook bang vir ’n vormgodsdiens wat van aanbidding ’n leë ritueel maak. Hulle is ook sensitief vir ’n skoolweergawe van die uitgediende volksgodsdiens waar die aanname was dat alle volksgenote gelowiges was. Só het kerk en volk in ’n onheilige alliansie verval.

Onderwysers het in dié Christelike skole ’n geweldige verantwoordelikheid en mag. Hulle kry, volgens my ervaring, nie net die taak om godsdiensonderrig volgens departementele sillabus te gee nie, maar maak ook allerlei opmerkings waardeur leerlinge in ’n bepaalde teologiese rigting beïnvloed word.

Ook ouers word onderwerp aan gassprekers (teen taamlike koste) wat hul vreemde teologiese perspektiewe opdis asof dit evangelie is.

Onderliggend aan die probleem is skoolhoofde wat gewoond is om baas te wees en niemand toestemming hoef te vra nie. Verder word hulle omring deur mense wat hul uitkyk deel en wat nie eens dink dat sommige leerlinge en ouers aanstoot neem of ten minste ongemaklik voel oor bepaalde gebruike nie.

Feit is dat nie alle gelowige ouers fundamentalisties oor die Bybel dink nie en dat hulle nie meer glo aan ’n “Christelike skool” soos die “Christelike volk” van ouds nie. Hulle wil dalk meer respekvol teenoor alle mense wees en met minder sekerhede die skool inrig.

Dalk gee dit sommer ook groter diepte as wat die volksteologie van die 1960’s gebied het en steeds aan aanhangers bied.

  •  Prof. Froneman is verbonde aan die Noordwes-Universiteit. 
Meer oor:  Johannes Froneman  |  Mening  |  Skole  |  Godsdiens  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.