Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe oorleef die Christelike kerk in ons kontrei?
Wilhelm Jordaan

Hoe meer ek wonder oor die oorlewing van die Christelike kerk in ons kontrei, hoe meer oortuig raak ek dat oorlewing net moontlik is as die kerk kritiese gedagtegange aktief bevorder en minder asem mors op beuselagtigheid soos selfdegeslagverhoudings.

Die kerk is, veral aan jongmense, dit verskuldig om oor ten minste vier sake ernstig gesprek te voer: Dat die Bybel ’n versameling mensewoorde is, geïnspireer deur gelowiges se verstaan van dit wat hulle “God” noem. Wat weggelaat en bygevoeg word in kerklike belydenisse en in die prediking is niks anders as dít nie.

Verder dat die Judaïes-Christelike godsdiens sterk beïnvloed (én verryk) is deur destydse godestories. Dit is oor sake soos God se eienskappe, en die herkoms van idees oor die “seun van god”; die “son van geregtigheid”; “opstanding uit die dood” enso(talryk)voort.

Ook dat dit steeds sinvol is om jou geloof in ’n God te behou, en om byvoorbeeld Jesus se storiematige leerstellings as rigsnoer vir jou lewe te aanvaar omdat stories, as lewende mites, rigtinggewende krag het. Dit is juis wat die Nederlandse predikant Nico ter Linden regkry in sy veelseggende reeks Het verhaal gaat . . . wat sê die ou verhale gaan immer ontdekkend voort.

Dit beteken jongmense moet bekend gestel word aan nuwe, selfs omstrede, denke in kerklike geledere, byvoorbeeld die Nederlander ds. Klaas Hendriks se paradoksale boeke Geloven in een God die niet bestaat en God bestaat niet en Jezus is zijn zoon.

Dan word geloof klein, flitsende oomblikke van ontroering wat uit die verbeelding vloei.

Dan word geloof klein, flitsende oomblikke van ontroering wat uit die verbeelding vloei; verbeelding wat jou verlos van dogmatiese laste.

Laastens moet die kerk jongmense help om te verstaan dat die inherente ooreenkomste tussen godsdienste tot godsdiensverdraagsaamheid kan lei, gedra deur dié insig: Mý godsdiens se kosbaarheid bevestig die kosbaarheid van ’n ander s’n.

Is só ’n vierledige “kategese” in die kerk haalbaar, veral in die Afrikaanse wêreld? Die NG Kerk, byvoorbeeld, het sinodaal besluit “om die weg van openhartige kritiese debat oor geloofsake te volg”. Luister ’n mens egter na die rusietjies in kerklike kringe, die geskinder, beswaddering en praatjies oor “afstigting”, roep, nee, smeek, dié besluit om waar gemaak te word.

Te midde van rigtingloosheid neem spanning en tweedrag in die kerklike lewe toe en dra tot kerklosheid, kerkloosheid en geloofsverlies onder jongmense by. Daarmee saam kom ’n soeke na buitekerklike spirituele vervulling waar die liefdesopdrag en dienende omgee vir mense die middelpunt is eerder as “korrekte” geloofstaal.

Dan word mense se lewens gerig deur iets soos die filosoof C.S. Lewis se “morele wet” van Godverlange eerder as Godsekerheid.

Kommer oor die kerk se voortbestaan vra vir diepstrekkende gesprek tussen gelowiges oor vernuwende denke. Én om langs mekaar, en nie teenoor mekaar nie, voor die misterie van ’n onsienlike Godheid te kniel.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Kontrei  |  Oorlewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.