Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoë punt vir JZ se Zondo Show
Gert Coetzee

Hy weet nie. Hy onthou nie. Ander presidente het ook die familie Gupta geken. Sameswering op sameswering bestaan teen hom. Arme hy is ’n slagoffer van almal wat hul mes onverklaarbaar vir hom in het.

Les bes, staatskaping bestaan nie. Dan sou hy tog – as destydse Nommer Een – daarvan geweet het, getuig Jacob Zuma voor die Zondo-kommissie.

Die truuks van Slagoffer Nommer Een voor die ondersoekkommissie na staatskaping moet as Ontkenning 101: Jakkalsdraaie, boereverneukery en annerlike spioenasie-truuks aan aspirerende swendelaars gesmous word.

Dit is nogal ’n spektakel om te volg hoe Zuma sy gat ál dieper grawe in sy poging om geloofwaardigheid te flous.

Ongelukkig is geloofwaardigheid nes maagdelikheid.

As dit weg is, is dit weg.

En net soos ’n piramideskema werk slagofferskap ook net so lank, dan stort dit in duie.

En net soos ’n piramideskema werk slagofferskap ook net so lank, dan stort dit in duie. Jy kan nie al die mense die heeltyd flous nie . . .

Al bly die slagoffer heeltyd slagoffer. “Die slagoffer-ingesteldheid is kragtig. Die slagoffer is altyd moreel reg; nooit verantwoordelik of aanspreeklik nie, en is vir altyd op simpatie geregtig,” lui ’n spreuk wat opduik as “victimhood” in Google ingetik word. Daar is ook ’n lysie met 11 “tekens” van slagofferskap.

Juis weens die slagoffer-sindroom is Suid-Afrika in die gat waarin dit is.

En grootheidswaan speel ’n rol.

In die geval van Zuma, sou dit beteken slegs hy – en Bruce Koloane oor die Waterkloof-landing – praat die waarheid. Al die ander Zondo-getuies lieg.

Daar is ’n psigologiese term hiervoor.

Sê maar Zuma ly aan die kwaal van politici wat hul eie lotsbestemming met die van die land as ’n geheel verwar, soos John Simpson, BBC-veteraan, in Strange People, Questionable Places skryf.

Met die selfbelangrike egoïs wat groter as die land raak.

Met die verrotting in Suid-Afrika wat oënskynlik onstuitbaar voortwoed en liggelowigheid oor die mooi beloftes van pres. Cyril Ramaphosa wat begin heers, kom die Zuma-vertoning voor regter Zondo as tydige herinnering aan die vordering van die afgelope jaar.

Zuma is uit die kussings gelig. CR het hom vervang en sleutel-aanstellings gedoen. Die Zondo-, Nugent- en Mokgoro-kommissie het hul werk begin doen.

Getuienis hoop op en word geweeg.

Getuienis hoop op en word geweeg.

En die nasionale vervolgingsgesag se nuwe direktoraat vir ondersoeke na hoëprofiel-korrupsie sit oorgehaal en wag op die aanbevelings van veral die Zondo-kommissie wat volgende jaar, hopelik gouer as later, by die president ingedien moet word.

Kom daar nie vervolging nie, is dit finaal. Dan kan die verrotting in die staat van Suid-Afrika (om uit Hamlet te leen) nie gestuit word nie.

Kom daar wel vervolging, soos te wagte is, gaan dit plofbaar wees.

Die juridiese gesag het staatskaping beter weerstaan as die uitvoerende en die wetgewende gesag, maar die druk gaan dan veral op die NVG wees om vervolging te dryf. Die gevaarlig is die NVG, wat in staatskaping uitgekalwer is, het ’n tekort aan deskundiges, veral staatsaanklaers (sowat 600 is oor drie jaar weg).

Gee hom dit toe: Jacob se Zondo Show kry ’n hoë punt uit tien vir prettigheid.

Van die ondersoek na die kontrak van R250 miljoen vir die allerbelangrike “tel” van asbesdakke in die Vrystaat moet ook verwelkomend kennis geneem word. Die truuk is onder die bewind van Ace Magashule, oudpremier van die Vrystaat, bedink. Genoeg gesê.

Kom ons wag en kyk.

Besluit of jy versigtig optimisties of versigtig pessimisties wil wees (soos Pieter-Louis Myburgh, skrywer van Gangster State, op die Vrystaat Kunstefees gesê het).

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Zondo-Kommissie  |  Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.