Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe sien jy dan die raaisel wat jy eintlik is?
Wilhelm Jordaan

Vir al hoe meer mense het dit nodig geword om op ’n “retrêt” te gaan – om in die trant van die Franse woord retraite “terug te gaan”, weg te kom, eenkant te wees en in stilte te mediteer, te peins of spirituele leiding te kry.

Dikwels is die mikpunt die (her)ontdekking van die “ware self”. In die drukgang van te besige lewens en ander kwellings is dié behoefte verstaanbaar. Mits ’n mens ook verstaan dat die “ware self” ’n glibberige begrip is.

Soos Pottie Potgieter dit met komiese erns sê in gesprek met sy vrou in Dana Snyman se Die uwe Pottie Potgieter: “My lam, ek het die hele dag probeer om net myself te wees. Maar nou wonder ek: Wie ís ek as ek myself is.”

Ons maak dit ook moeilik vir mekaar. As jy byvoorbeeld ’n tyd lank swaarmoedig was en nie juis met familie en vriende wou praat nie, word kopskuddend gesê: “Weet nie wat dit met hom is nie. Hy’s nie meer sy ou self nie.” Word dinge algaande beter, sê dieselfde mense met verligting: “Ag dankie tog, nou’s hy weer sy ou self!” Jy is nou soos hulle dit ken en moontlik so wíl hê.

Die vraag is: Moet ’n mens op ’n retrêt gaan om die “self” te vind? Meditering in stilte waar jy op jou eie is, is ’n beproefde manier om perspektief te kry.

Ander kere weer hanteer jy verskonend die opvatting oor die self wat nie jyself is nie: “Jammer oor my tirade. Ek was nie myself nie. Belowe dit sal nie weer gebeur nie.”

Die vraag is: Moet ’n mens op ’n retrêt gaan om die “self” te vind? Meditering in stilte waar jy op jou eie is, is ’n beproefde manier om perspektief te kry.

Tog sê navorsing selfkennis is misleidend wanneer die soeke daarna plaasvind in die isolasie van die afgesonderde “ek” wat eindeloos tob, vrae vra en self die antwoorde probeer vind.

Die Franse dramaturg André Gide het dié bevinding intuïtief aangevoel.

Hy reken die verbete soektog na die ware self is wesenlik ’n nuttelose projek wat jou menswees strem. ’n Wurm wat homself wil leer ken, word nooit ’n skoenlapper nie, meen hy.

’n Vals analogie, sou sommige sê, want ’n mens is nie ’n wurm nie.

Hoe belangrik meditasie ook al is, ontwikkel rigtinggewende selfkennis en ’n dieper ver-staan van jou “self” ook in gesprek met ander mense wat jou onvoorwaardelik aanvaar. Dít gebeur wanneer ander mense waarlik omgee en luister én, wanneer nodig, ’n spieël aan jou voorhou waarin jy iets van die raaisel wat jy is, kan sien.

William Shakespeare, een van die wêreld se knapste “menskundiges”, het dít letterkundig verwoord in sy Julius Caesar waar Cassius aan Brutus sê: “And since you know you cannot see yourself / So well as by reflection, I, your glass, / Will modestly discover to yourself / That of yourself which you yet know not of . . .”

Daaruit kom die self se bekoorlikheid – altyd in beweging en beurtelings vry, ingebind, bedreigd, broos, verward, dubbelhartig, gerusstellend bekend én verruklik onbekend, telkens anders en verrassend nuut.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Selfinsig  |  Meditasie  |  Insig  |  Om Jouself Te Vind
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.