Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe stuit ons al op skool morele verval?

Vorige inisiatiewe om waardes op skoolvlak te vestig, het misluk. Jeanette de Klerk-Luttig kyk na die redes daarvoor en stel voor wat gedoen kan word om die situasie te verander.

Leerlinge by ’n skool in Upington bid voordat hul klas begin. Foto: Getty Images

In Die Burger van 3 September skryf dr. Henry Asia ’n interessante artikel, “Lesse in ubuntu vir almal”, waarin hy wys op die toenemende morele verval, gebrek aan dissipline en toenemende geweld in skole sedert die 1970’s.

Die situasie in skole het vererger ná die Soweto-opstande van 1976, asook die demokratiese oorgang van 1994 en die oorbeklemtoning van menseregte daarna.

Die verhoogde voorkoms van geweld in skole ná 1994 het tot twee waardegedrewe inisiatiewe gelei, die Tirisano-projek (1999) en die Beweging vir Morele Herlewing (2000).

Waarom het die vorige pogings om waardes te vestig nie geslaag nie?

Dr. Asia kom tereg tot die gevolgtrekking dat die vorige waardes-inisiatiewe nie doeltreffend was nie, want navorsing bevestig dat geweld en gebrekkige dissipline in skole sedert 1994 toegeneem het. Die redes waarom die inisiatiewe misluk het, word nie nie uitgespel nie en daarom word daar nie uit vorige foute geleer nie, maar word dit telkens gehersirkuleer.

Die belangrike vraag is: Waarom het die vorige pogings om waardes te vestig nie geslaag nie?

Die edel doel van die Beweging vir Morele Herlewing was om ’n sentrum te wees vir morele herlewingsinisiatiewe wat gemik is op die uitbou van ’n sterk morele gemeenskap.

Dit sou as ’n morele kompas vir ons hele land dien.

Onder die leierskap van oudpres. Jacob Zuma is die eerste konferensie geopen by dieselfde Waterkloof-lugmagbasis as waar die Guptas jare later hul private vliegtuig met huweliksgaste sonder visums en paspoorte laat land het.

Oudpres. Jacob Zuma tussen leerlinge in 2012. Foto: Getty Images

Die uitgangspunt van die beweging is dat ons as ’n nasie uit hoogs morele mense bestaan wat die verskil tussen reg en verkeerd ken en ’n sterk afkeur aan morele agteruitgang en verval het.

Maar die beweging het nooit werklik van die grond af gekom nie, want met iemand soos Zuma, met sy etiese blinde kolle en stukkende morele kompas, aan die stuur, was die kans op morele herlewing gedoem.

Een van die basiese vereistes vir morele gesondheid op elke vlak is sterk morele leierskap.

Skole het ’n pragtige glansblad ontvang waarin tien grondwetlike waardes beklemtoon is wat in skole gevestig moes word, asook strategieë oor hoe dit gedoen kan word.

Die waarde-inisiatief in skole onder die Tirisano-projek, het oënskynlik ’n beter kans op sukses gehad.

Oudpres. Nelson Mandela het dié inisiatief by die Saamtrek-kongres van stapel gestuur en onder leiding van Kader Asmal was talle skerp breine, onder meer dié van Wilmot James, Antjie Krog, Brenda Leibowitz en Hermann Giliomee daarby betrokke.

Al die skole in Suid-Afrika het ’n pragtige glansblad, Manifes oor waardes, onderwys en demokrasie, ontvang waarin tien grondwetlike waardes beklemtoon is wat in skole gevestig moes word, asook strategieë oor hoe dit gedoen kan word.

Maar dit het eenvoudig in liaseerkabinette verdwyn of stof vergader in boekrakke, sonder dat die duur teoretiese oefening enige positiewe verandering in die morele gedrag van leerders gebring het.

Waarom manifes oor waardes nie gewerk het nie

Die situasie in skole het vererger ná die Soweto-opstande van 1976. Foto: Getty Images

Van die talle redes waarom die inisiatief onsuksesvol was, noem ek ’n paar:

• Waardes word nie in ’n vakuum gevestig nie, maar in ’n sosiale netwerk van verhoudings. Kinders en jong mense het waardes met ’n vel om nodig – ouers, onderwysers en ander volwassenes wat die waardes leef. Wanneer leerlinge waardes in verhoudings beleef, internaliseer hulle dit en begin dit ook leef. Waardes smeer dus as’t ware af. Sonder sinvolle verhoudings met positiewe morele rolmodelle kan waardes nie in ons jeug gevestig word nie en ongelukkig is dit hier waar hulle dikwels in die steek gelaat word.

• Waardes kan nie van bo af aan skole voorgeskryf word nie. Dit behoort van onder af, uit die skoolgemeenskap, deur die leerlinge, onderwysers en ouers self gekies te word, want slegs dan word eienaarskap daarvoor aanvaar. Die tien waardes van die manifes is nie net van bo af voorgeskryf nie, maar hulle is ook heeltemal te veel. Volgens navorsing is die ideale getal waardes wat enige organisasie sinvol kan integreer, tussen drie en vyf.

• Dit is baie moeilik om waardes te vestig in ’n disfunksionele skool. Ongelukkig is die grootste persentasie skole in ons land disfunksioneel. Hoe vestig ’n mens respek in ’n skool waar daar te min toilette is?

Spoeltoilette wat vanjaar by die Madima Primary School naby Sun City in gebruik geneem is. Hoe vestig ’n mens respek in ’n skool waar daar te min toilette is?Foto: Argief

• Wanneer daar nie in leerlinge se legitieme behoeftes, soos die behoefte aan voeding en veiligheid omgesien word nie, is waardevorming byna onmoontlik. Hoe vestig jy verantwoordelikheid wanneer leerlinge honger is en omgee wanneer hulle bang is vir die wreedheid van boelies?

• Om waardes te kan vaslê moet leerlinge positiewe terugvoer kry vir gedrag wat ooreenstem met kernwaardes en hulle behoort negatiewe gevolge te beleef vir gedrag wat daarteen indruis. Ongelukkig kry leerlinge vandag die duidelike boodskap dat jy nie meer verantwoordelikheid vir jou optrede hoef te aanvaar nie en dat daar nêrens meer negatiewe gevolge vir wandade is nie. En dit geld van die wapenskandaal tot afkyk in ’n toets.

• Onderwysers kan nie waardes “onderrig” soos wat hulle ander vakke onderrig nie en dit kan ook nie soos ander vakke “getoets” word nie. Of waardes werklik geïnternaliseer word en as karaktereienskappe geleef word, word deur die lewe self getoets. By waardevorming gaan dit meer oor formasie as informasie, minder oor onderrig en meer oor inoefening van morele gewoontes. Dit is meer soos om ’n musiekinstrument of tennis te leer speel, waar jy eers die basiese note of houe leer waarna jy elke dag moet oefen om dit te kan speel.

• Om waardes in ’n skool te vestig, is kompleks en omvattend. Dit sluit die klimaat en kultuur van die skool, die karakter van die onderwysers, die verskillende verhoudings, die geskrewe en ongeskrewe reëls, rituele en gewoontes en “die manier waarop ons dinge doen”, in. Daarom is daar nie een resep wat vir alle skole sal werk nie, want elke skool se konteks, geskiedenis en werklikheid verskil. Dit is ook geen kitsoplossing of pleister wat jy oor probleme in die skool kan plak nie. Dit behels ’n proses van transformasie van die kultuur van die skool asook van die harte en koppe van mense.

Akademiese oplossing sal nie werk sonder kernwaardes

Dr. Asia se baie idealistiese oplossing vir die probleme in skole vanuit sy inklusiewe filosofies opvoedkundige lens, is ’n demokratiese beraadslagende ubuntu-proses wat sowel robuuste as rasionele redenering en ’n deernisvolle mens-sensitiewe benadering behels.

Ongelukkig is daar in ons land, op verskillende vlakke van die debatte in die parlement en die nuusmedia af tot in huishoudings, weinig voorbeelde hiervan en die rede daarvoor is dat dié ubuntu-proses net kan realiseer wanneer die waardes respek, verantwoordelikheid, verdraagsaamheid en omgee reeds gevestig is.

Sonder dié gedeelde kernwaardes sal geen akademiese oplossing vir die morele probleme in ons skole kan werk nie.

Jy kan nie ’n dak opsit waar daar nog geen fondamente is nie.

Sonder dié gedeelde kernwaardes sal geen akademiese oplossing vir die morele probleme in ons skole kan werk nie.

Die gedeelde waardes is die gom wat ons samelewing aan mekaar bind en ons morele vesel versterk en daarsonder is ons vinnig besig om uit te rafel.

• Dr. Jeanette de Klerk-Luttig is ’n opvoedkundige verbonde aan die kantoor vir morele leierskap aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.


Meer oor:  Nelson Mandela  |  Jeanette De Klerk-Luttig  |  Jacob Zuma  |  Skole  |  Waardes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.