Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe ver wil jy dan hê moet jou kinders gaan?

Om met die maan gepla te wees is só uit die mode. Deesdae is almal met Mars gepla.

Ook ons aan die suidelike punt van Afrika het rede op opgewonde oor Mars te wees. Nie net is van ons boorlinge besig om die weg na Mars te baan nie, maar daar is ook van hulle wat sak en pak op die rooi planeet wil gaan bly.

Heinz Mödler

Een van dié wat die weg baan, is die Namibiër dr. Japie van Zyl wat aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het voor hy by Nasa se Mars-span aangesluit het.

Die tegnologie-entrepreneur Elon Musk is nog ’n bekende met Afrika-bande wat sy oog op Mars het.

Musk se plan is glo om sy Vilebrequin-swembroek vir ’n ruimtepak te verruil wanneer hy eendag besluit om vakansie te neem. En ’n ordentlike ruimtepak sal dit ongetwyfeld moet wees, want Musk wil glo permanent Mars toe verhuis.

Lewende wesens op planeet aarde is aangepas om slegs in hierdie planeet se atmosfeer te oorleef.

Hier is nie net genoeg suurstof aanwesig nie, maar ook heers hier ’n optimale atmosferiese druk. En dit is baie belangrik.

Die water in Musk se strandhuis, waar die atmosferiese druk net so oor die 100 kPa is, kook teen 100 ºC.

Op die berg Everest sal hy vind dat water by ’n laer temperatuur begin kook (rondom 70 ºC) omdat die atmosferiese druk daar net in die omgewing van 34 kPa is.

En al is die suurstofinhoud nog dieselfde, sal Musk daar benoud raak, want die parsiële druk van suurstof (wat belangrik is tydens gaswisseling) is laer teen hierdie laer atmosferiese druk.

Wanneer jy 19 km bo die aarde kom, bereik jy die sogenaamde Armstrong-limiet. Op hierdie hoogte is die atmosferiese druk ’n skrale 6 kPa en begin water by liggaamstemperatuur (37 ºC) kook. So ook bloed.

Die gasse wat normaalweg in bloed opgelos is, begin nou borrels vorm (genoem ebullisme) en maak oorlewing onmoontlik.

Elon Musk het glo planne om permanent Mars toe te verhuis.

Op Mars lyk dinge veel erger. Eerstens is daar net ’n katspoegie suurstof aanwesig, want feitlik al die gasse is koolsuurgas.

Ook is die gemiddelde atmosferiese druk op die rooi planeet net 0,6 kPa – laag genoeg vir selfs ’n Tesla- elektriese motor om oor te kook. Musk se ruimtepak moet dus voldoende suurstof en eksterne druk verskaf sodat hy nie versmoor of kook nie.

Maar die ruimtepak beter ook stofdig wees.

Nasa se InSight-tuig het ’n tydjie gelede op Mars op die Elysium Planitia-vlakte geland.

Selfs die klein InSight se landing het die stof laat dwarrel omdat die atmosferiese drukke so laag is. Op die eerste foto wat InSight aarde toe gestuur het, kan die stofpartikels duidelik op die lens gesien word.

Wanneer die stof gaan lê het, word hierdie lens verwyder en dan eers kan die kameras kristalhelder foto’s vir Nasa se plakboek neem en aanstuur.

Die goeie nuus vir ouers wat graag wil hê hulle kinders moet ook eendag by Mars-projekte betrokke raak, is dat hulle nie hul kinders na peperduur private skole toe hoef te stuur nie. Die naaste skool is meer as goed genoeg – vir Van Zyl was dit die Hoërskool Outjo.

Of hoe ver wil jy dan nou hê hulle moet eendag gaan?

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Kinders  |  Maan  |  Mars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.