Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe verklaar jy dié obsessie met eilande?
Prof. Hennie van Coller

’n Mens wonder soms waar jou fiksasies vandaan kom. Een van myne is my belangstelling in eilande. Kleintyd het my pa heelwat memorabilia gehad van Boere-krygsgevangenes op St. Helena en Ceylon (Sri Lanka): kunstig vervaardigde messies, houtsneewerk en geskrifte. Ook ’n serp en serpring van half-edelsteen wat generaal Piet Cronjé op St. Helena gedra het.

Dan het ek altyd gewonder hoe dié krygsgevangenes moes voel, afgesonder en ver verwyder van hul geliefdes. Veral wanneer die son verdwyn, herinneringe lewend raak en die koue begin byt op hierdie onherbergsame plekke. En veral gedink aan die Groot Generaal op Elba, energiek besig met sy krygsplanne en later lewensmoeg op Sint Helena as uitgeworpene.

Dalk is my belangstelling in eilande gewek deur die letterkunde. Die stranding van Robinson Crusoe op ’n onbewoonde eiland het my gefassineer. Eers veel later het ek gehoor dat hierdie roman van Daniel Defoe een van die eerste Engelse romans was en nóg later het baie van die ideologiese kwessies my net so geboei, veral ná J.M. Coetzee se herskrywing. Later volg Robert Louis Stevenson se Treasure Island en die onstellende Lord of the flies deur Wil-liam Golding. Dit is waarskynlik aan die laasgenoemde relaas van primitiewe gedrag deur ’n klomp jong seuns te wyte dat my mensbeeld na die pessimistiese neig.

Op hierdie idilliese eiland word die mense stelselmatig eilande vir mekaar.

Louis Paul Boon se meesterlike novelle Me-nuet het drie onderafdelings waarvan “Het eiland” een is. Dit verwys na die hoofkarakter se volstrekte isolasie. Hy, wat smag na die ongereptheid van die natuur, is as arbeider gedoem tot ’n koue en eensame bestaan in ’n wêreld waar die natuur vernietig word, onskuld verlore gaan en gemeensaamheid tussen mense net ’n illusie is. In baie opsigte is dit metafories van die na-oorlogse jare in België.

Ook Karel Schoeman se roman Op ’n eiland handel in wese oor afsondering en die onvermoë van mense om mekaar werklik te deurgrond. Op hierdie idilliese eiland word die mense stelselmatig eilande vir mekaar. Later maak Dan Sleigh se magistrale roman Eilande ’n onuitwisbare indruk, asook Jan Wolkers se vertellings oor Texel, die Nederlandse eiland waar hy hom gevestig het.

Geen wonder nie dat ek eilande opsoek waar ek hulle kan vind: die Griekse eilande (veral Spetses waar ons vir ’n tyd kon bly); die Nederlandse wadde-eilande soos Texel en Ameland, die Duitse Sylt (speelplek van miljoenêrs) naby Denemarke; duisende eilandjies tussen Swede en Finland en Hvar in Kroasië.

Jungiane sal fiksasies en veral fetisje – soos my eiland-obsessie – lê voor die deur van jou kollektiewe onbewuste; daardie psigiese oerpatrone wat ons almal gemeenskaplik het. Wat sou ’n Freudiaan se verklaring wees? ’n Dwingende drang terug na die baarmoeder? Of ’n sterk hang na kluisenaarskap?

Het ek iemand hoor mompel van “soos ’n tipiese ram altyd alleen eenkant toe neuk”?

Meer oor:  Hennie Van Coller  |  Boeke  |  Skrywers  |  Eiland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.