Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe vier ons vanjaar Mandeladag in Suid-Afrika?

In moeilike tye soos dié sal dit Suid-Afrikaners baat om weer te kyk na die voorbeeld wat oudpres. Nelson Mandela vir hulle gestel het, skryf Leslie van Rooi.

Tonele soos dié, waar ’n polisieman ’n vermeende plunderaar in Soweto aankeer, herinner aan die geweld van die 1980’s en 1990’s. Foto: Getty Images

Tonele van onluste wat ons skok, verbaas en laat terugdink aan beelde uit ons pynlike verlede waarvan ons reeds wou vergeet, het Suid-Afrikaners in die afgelope paar dae aangegryp.

Vir dié wat die redelike gemak van die demokratiese bestel ken, is dit veral beelde van vrees wat groot twyfel oor ons land se moontlikhede laat ontstaan.

Die tonele – wat baie Suid-Afrikaners persoonlik beleef – skep ’n gevoel van senuagtigheid omdat ons weet dat ware stabiliteit ’n duur entiteit is wat moeilik verkry word, veral in samelewings met hoë vlakke van ongelykheid, korrupsie, werkloosheid, wetteloosheid en waar hopeloosheid heers.

Dit is tans ’n werklikheid in baie van ons gemeenskappe.

En, te midde van ’n pandemie waarvan die invloed ons hard slaan, is hierdie faktore nog groter. Voeg daarby swak politieke wil en binnegevegte in die regerende party – gevegte wat duidelik nie net in eie geledere bly nie – en ons bevind onsself midde-in ’n tydperk soos dié wat ons tans beleef.

Talle kommentators waarsku ons om nie te geskok en verbaas te wees nie, juis omdat ons weet dat stabiliteit tans self nog ’n moeiliker ideaal is. Ons het hoë vlakke van wetteloosheid, geweld, korrupsie en ’n skoolstelsel wat ons land en sy kinders faal.

Dit is moeilik om hierdie twee beelde bymekaar uit te bring – plunder en die afbreek van ons moontlikhede aan die een kant, en opbou, vrede en versoening aan die ander kant.

Hoe nou gemaak met Mandeladag?

Anders as vorige jare is dit moeilik om te dink dat ons oor enkele dae, op 18 Julie, Mandeladag vier. Die ikoniese Madiba sou op 18 Junie vanjaar 103 jaar oud gewees het. Dié dag word etlike jare reeds herdenk en aan sy nalatenskap gewy.

Suid-Afrikaners, soos mense oor die wêreld heen, gebruik 18 Julie om nie net te dink oor Madiba se nalatenskap nie, maar kry ook die kans om ’n verskil in ander se lewens te maak. Hierdie jaar val die fokus juis op die swaarkry en honger wat deur die Covid-19-pandemie vererger is.

Maar die nalatenskap van Madiba en die oproep tot die viering van Mandeladag blyk vergete te wees in die tonele wat ons die afgelope paar weke gesien het.

Boonop het ons met oudpres. Jacob Zuma se toespraak onlangs beleef dat hy ’n minagtende en verdwaalde poging aangewend het om te klink soos die Madiba wat teen die einde van die Rivonia-verhoor helder toesprake oor ideale en strewes gemaak het.

En dink maar aan die beelde in die strate wat net nie strook met ’n land waarvoor ikone soos Madiba duur pryse betaal het nie.

Dit is dus moeilik om hierdie twee beelde bymekaar uit te bring – plunder en die afbreek van ons moontlikhede aan die een kant, en opbou, vrede en versoening aan die ander kant. Of is dit?

Ons weet hoe om weer te probeer

’n Soldaat in Soweto hou ’n wakende oog oor ’n winkelsentrum. Foto: Getty Images

Dalk is dit tog juis gepas dat ons oor enkele dae Mandeladag vier. Dié van ons wat die noodtoestande, sabotasie, ontplooiing van die weermag en menseslagting op straat in die 1980’s en veral die vroeë 1990’s onthou en dalk selfs beleef het, weet dat ons al voorheen in uiters moeilike situasies was.

Ons ken daardie doodloopstrate en tonele van algehele hopeloosheid wat jou laat wonder of daar ’n môre sal wees en hoe daardie môre sal lyk.

Dit is in hierdie konteks dat ’n ikoon ons keer op keer oortuig het om weer te probeer, om op te staan, om vrede te soek en om ’n nuwe pad te stap.

Maar dit help tog om te weet dat ons in hierdie land tweede kanse ken en weet hoe om weer te probeer.

Dit is veral moeilik vir jonger mense om te verstaan dat ons as nasie al op donker paaie moes omdraai. En dit is ook nie altyd haalbaar om kontekste en gebeure met mekaar te vergelyk nie. En boonop sukkel ons om ikone soos Madiba te midde van die huidige chaos te vind.

Maar dit help tog om te weet dat ons in hierdie land tweede kanse ken en weet hoe om weer te probeer.

Dit help ons om te onthou en te verstaan hoe kwesbaar en dun ons stabiliteit is. Dit help ons om raak te sien dat, onder leiding van korruptes, ons onsself nuwe moontlikhede ontneem het. En dat dit veral die armstes van die armes is wat die kwesbaarste bly en wat veral die rowwe kante van droewigheid beleef.

Leslie van Rooi

As ons leer uit ons geskiedenis – en daar is baie lesse te leer – moet ons ook vir mekaar sê dat die onluste so gou moontlik moet end kry. En dat ons so gou moontlik moet herbou.

En, so word ons gewaarsku, sal ons nuut en anders moet bou. Want ons kan nie dieselfde doen en ander uitkomste verwag nie.

Goedkoop versoening, dieselfde foute wat deur heersers herhaal word, en kortpaaie uit die moeilikheid, bring ons nie ver nie – nie hier nie en ook nie elders nie.

Hierdie omdraai en nuut begin, om die ander pad van moontlikheid te stap, is ook nie vir ons as nasie vreemd nie.

Ons durf nie dieselfde beelde sien en beleef soos ons dit onder apartheid gesien en beleef het nie.

In die voorbeeld van Madiba weet ons hoe dit lyk en wat ons kan doen. Dit is nie iets wat ’n mens goedkoop moet maak nie. Maar dit is ook nie iets wat ’n mens maar net as goedkoop kan verwerp nie.

Ons durf nie dieselfde beelde sien en beleef soos ons dit onder apartheid gesien en beleef het nie. Ons durf dit nie weer waar maak nie. Ons het te ver gekom om op te gee. Ons sal maar weer saam moet staan en saam moet stap. Die alternatief is iets waaraan ons nie wil dink nie.

Ek kan nie aan ’n beter tyd dink as juis nou vir ons om onsself aan Mandela se nalatenskap te herinner nie.

Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Onrus  |  Covid-19-Pandemie  |  Korrupsie  |  Mandeladag  |  Vrede  |  Versoening  |  Apartheid  |  Stabiliteit  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.