Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe vorder dit met grootste ‘papierpark’?

Hoe vorder planne met die Kaza-oorgrenspark? Dié vraag word deesdae al hoe meer gevra nadat bykans 400 olifante in Bo­tswana en meer as 20 in Zimbabwe “onverklaarbaar” doodgegaan het en konflik tussen mens en wild in Suider-Afrika toeneem.

Elise Tempelhoff

Verskeie bewaringsbewustes is nou ook bekommerd oor die toekoms van olifante in Suider-Afrika omdat Zimbabwe onlangs geskimp het dat hy dit oorweeg om sy groot olifantbevolking uit te dun. Zimbabwe het 85 000 olifante, maar sy natuurreservate kan glo net 55 000 huisves. Botswana het 130 000 olifante en in Suid-Afrika se nasionale parke is daar 24 000.

Al die olifante word deur heinings gekeer om noordwaarts te migreer. Hulle is dus hoofsaaklik in dié drie lande vasgekeer en veroorsaak omgewingsagteruitgang. Hulle breek ook heinings en kom in konflik met mense.

Die sogenaamde oorbevolking van olifante gee aan oningeligtes ’n gulde geleentheid om te ontken dat olifante besig is om uit te sterf.

Hierdie lande in Suider-Afrika is hul laaste vesting, soos treffend beskryf word in The Last Elephants. Die boek is saamgestel deur dr. Don Pinnock, kriminoloog, historikus en omgewingsjoernalis, en Collin Bell, deurwinterde veldgids. Dit het verlede jaar verskyn ná die skokkende uitslag van die Groot Olifantsensus van 2016.

Die uitslag van die sensus – onderneem deur die bewaringsorganisasie Elephants Without Borders (EWB) – is dat daar na raming minder as 450 000 olifante in Afrika oor is. Dr. Mike Chase, hoofnavorser van EWB, sê hulle het in twee jaar 300 000 km oor Afrika gevlieg om die vasteland se olifante te tel.

Daar is na raming minder as 450 000 olifante in Afrika oor.

Die Kavango-Zambezi-oorgrenspark (Kaza) is in 2011 ontwerp juis omdat die skrif vir Afrika se grootwild, en veral sy olifante, toe reeds aan die muur was. Kaza was bedoel om die wêreld se grootste internasionale bewarings- en ekotoerismesone te vorm en sou ook migrasieroetes vir olifante, leeus, wildehonde, luiperds en ander wild oopmaak.

Wild móét migreer – na nuwe voedingsgebiede en waterbronne. In ’n tyd van klimaatsverandering is dit des te meer noodsaaklik dat ons hierdie migrasieroetes vir wild oopmaak.

’n Ooreenkoms tussen Angola, Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe is op 15 Maart 2012 onderteken vir die vestiging van die oorgrenspark. Die Duitse regering het 50 miljoen vir die bewaringsprojek geskenk.

Kaza is veronderstel om onder meer die Hwange- nasionale park in Zimbabwe, die Caprivi-strook en die Okavango-delta in Botswana in te sluit. Omdat 30% van Kaza deel is van Botswana, is dié land die “inwerkingstellingsagent”.

Maar wat het van Kaza geword? Oxpeckers, ’n internetpublikasie, beskryf Kaza as die “wêreld se grootste papierpark”, waar politiekery en magsug planne in die wiele ry. Ernstige vrae behoort aan Botswana se regering gestel te word. Die Duitse regering behoort sekerlik ook te wonder wat van sy skenking geword het.

Meer oor:  Elise Tempelhoff  |  Omgewingsbewaring  |  Olifante  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.