Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe vorder SA ekonomie?
Pres. Cyril Ramaphosa lewer die openingsrede op die onlangse tweede beleggingskonferensie in Sandton.Foto: GCIS

Dit is nou 21 maande sedert pres. Cyril Ramaphosa by oudpres. Jacob Zuma oorgeneem het. Hy het twee doelwitte vir homself gestel: die herbou van die etiese fondasies van die staat en om nuwe lewe in die ekonomie te blaas. JP Landman bekyk die vordering met laasgenoemde doelwit. 

In die sewende maand van sy ampstermyn (September 2018) het pres. Cyril Ramaphosa ’n ekonomiese herstelpakket aangekondig. Dit was duidelik nie voldoende nie. Groei het traag gebly en werkloosheid het vererger. Groei sal vanjaar 0,5% beloop, teenoor 2018 se 0,8%. Die land kort ’n goeie skeut strukturele hervorming om groei te stimuleer. Hoe word daarmee gevorder?

1. Strukturele hervorming

Arbeidsverhoudinge

Die vereiste vir vakbonde om voor ’n staking ’n geheime stemming onder lede te hou, is nou deel van arbeidswetgewing. Vakbonde het hulle daarteen verset en gedreig om dit grondwetlik uit te daag, maar dit het nie gebeur nie. Die jeugloonsubsidie is ook aggressief teengestaan, maar is vir nog tien jaar verleng.

’n Derde heftig bestrede maatreël, die evaluering van onderwysers, is aanvaar. Op 3 September is ’n ooreenkoms met die vakbond Sadou vir ’n gedetailleerde en omvattende gehaltebeheerstelsel in skole gesluit. Dit sal op 1 Januarie 2021 in werking tree en onderwysers sal twee keer per jaar geëvalueer word. Dit weerspreek die aanvaarde siening dat die regering nie beleid kan instel waarmee vakbonde nie saamstem nie . . . Energie en Eskom

Die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) is gefinaliseer. Dit moet saam met die regering se Eskom-planne gelees word. Dis grondverskuiwende beleidsinisiatiewe, want ’n hele sektor (elektrisiteit) wat tans deur ’n regeringsmonopolie oorheers word (Eskom), gaan op sy kop gekeer word.

Sommige verwerp dié beleide as onvoldoende en dat dit nie sal gebeur nie omdat die vakbonde dit nie sal toelaat nie. Die regering is vas van plan om dit in werking te stel en ek meen dit gaan gebeur.

Die IRP- en Eskom-voorstelle sal saam reusebeleggings ontsluit, die rol van die private sektor aansienlik vergroot en sektore soos gas- en windkrag aansienlik uitbrei.

Uitstaande korttermynkwessies is die aanstelling van ’n uitvoerende hoof vir Eskom, magtiging van nuwe kapasiteit van 2 000 MW om beurtkrag te stuit en die finalisering van 17 aansoeke om selfopwekkingslisensies.

Telekommunikasie

Die regering het sy beleid oor spektrum-lisensiëring gefinaliseer en aan die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (Okosa) vir inwerkingstelling oorhandig. Okosa het sy riglyne vir die toewysing van 4G- en 5G-spektrum bekend gemaak.

Samewerking in sektore

Die sukses van die motorbedryf duur voort. Motoruitvoere is reeds 19% hoër as in 2018. Die sukses is te danke aan samewerking tussen die regering en die private sektor, wat in ’n bedryfs- of sektorplan inslag vind. Die motorbedryfsteunplan is onlangs tot 2035 verleng, wat beleidsekerheid skep. Soortgelyke sektorplanne is ontwikkel vir die klere-, die tekstiel-en-leer- en die hoenderbedryf.

Die Public Private Growth Initia­tive (PPGI) onder leiding van Roelf Meyer en Toyota se Johan van Zyl, met volle steun van die regering, strek oor 19 sektore met 43 projekte. Die private sektor het onderneem om oor die volgende vyf jaar R843 miljard te belê op voorwaarde dat geïdentifiseerde­ struikelblokke verwyder word.

Die ooreenkomste bring sakelui en die regering in dieselfde kamer byeen om te werk aan die beleggings wat nodig is om ’n sektor te laat groei en aan die hindernisse wat verwyder moet word. Dit is die geheim agter Japan se sukses, waar Van Zyl tans werk en vanwaar hy die idee na Suid-Afrika gebring het.

2. Visums

Inwoners van nog sewe lande is vrygestel van visums om Suid-Afrika te besoek, wat die totaal op 99 lande te staan bring. Om Ramaphosa se teiken van die verdubbeling van toeriste-aankomste te haal, sal nog meer aandag aan aankomste uit China en Indië gegee moet word. Dit kan deur e-visums bewerkstellig word en die eerste e-visumfasiliteit tree vandeesmaand in werking.

Die geboortesertifikaat-vereiste vir kinders van buitelandse en Suid-Afrikaanse reisigers is afgeskaf. Die president het voorts die teiken gestel dat visums vir geskoolde aansoekers binne ’n week gefinaliseer moet word en hy wil dit eindelik tot een dag beperk.

3. Gemak om sake te doen

Suid-Afrika het sewe plekke gestyg op die globale mededingendheidsverslag (60ste uit 141 lande), maar het twee plekke gedaal op die indeks vir gemak om sake te doen (84ste uit 189 lande). Ramaphosa se teiken vir laasgenoemde is die top-50.

Op die beleggingskonferensie het hy die Biz Portal bekend gestel, waar ’n onderneming geregistreer kan word en tegelyk kan registreer vir belasting, ’n domeinnaam, ’n SEB-sertifikaat, die Vergoedingsfonds en die Werkloosheidsversekeringsfonds, asook ’n bankrekening kan open. Die doelwit is om ’n onderneming binne een dag te registreer.

4. Beleggings

Daar is ’n kwantitatiewe teiken (R1 200 miljard teen 2023) en ’n institusionele teiken (die vestiging van ’n infrastruktuurfonds). Meer as R660 miljard is op die twee beleggingskonferensies beloof en met nog drie jaar oor lyk dit of die president sy teiken maklik gaan haal.

Reserwebank-syfers bevestig die beleggingsommekeer. In die tweede kwartaal vanjaar het bruto vaste investering met 6% gestyg ná vyf kwartale van dalings. Dis bevredigend dat openbare korporasies en die regering minder belê het, terwyl daar ’n skerp toename in private beleggings was. Kan dit wees dat die verkiesing gefinaliseer moes word voordat ondernemings begin belê het?

Die president is waarskynlik gefrustreerd met die stadige vordering met die infrastruktuurfonds. ’n Uitvoerende hoof is wel in die mediumtermynbegrotingsrede aangekondig (die bekwame dr. Sean Phillips), maar wetgewing word vereis en die tesourie moet dit nog voorlê. Ambisie moet ook getemper word. Die regering sou aanvanklik R400 miljard bygedra het, maar die syfer is nou R100 miljard oor tien jaar. Die wiele van die burokrasie draai stadig en Eskom slurp al die geld op wat vir dié doel aangewend sou kon word.

5. Voorgeskrewe bates

Op 4 November het die minister van finansies dit in die parlement duidelik gestel dat voorgeskrewe bates nie ingestel gaan word nie. Dit sou altyd onwaarskynlik gewees het terwyl die regering onder meer die private sektor probeer lok om aan die Infrastruktuurfonds deel te neem.

6. Inklusiewe hervorming

Strukturele hervorming kan nie net oor die groot sektore en die formele ekonomie gaan nie. Dit moet inklusiewer wees. In die 2018-herstelpakket het die president uit sy pad gegaan om informele, township- en landelike ekonomieë in te sluit. Op die onlangse beleggingskonferensie het hy weer benadruk: “Ons breër strategiese visie is om ekonomiese aktiwiteit in ons distrikte, munisipaliteite en provinsies te kataliseer.”

Daar is groot geleenthede vir ontluikende boere in arbeidsintensiewe bedrywe, soos tekstiele, hoender- en suikerboerdery.

Die regering se beleidsriglyn aan Okosa maak spesifiek voorsiening vir klein ondernemings in swart beheer deur ’n draadlose ooptoegangnetwerk-meganisme (Woan). Dit sal swart deelname aansienlik bevorder.

Die regering het voorts 167 000 eenhede grond wat aan staatsbeheerde ondernemings behoort vir herverdeling vrygestel. Huurkontrakte van 30 jaar vir 1 400 plase is met boere onderteken.

En die punt is?

Die president het dit herhaaldelik duidelik gestel dat die regering streng fiskale en monetêre dissipline sal handhaaf. Dit het gebeur.

Die agteruitgang van Suid-Afrika se fiskale situasie is te wyte aan lae groei en wanbestuur/diefstal by die staatsbeheerde ondernemings; Groot strukturele hervormings in energie en telekommunikasie is aangekondig. Dit sal miljarde in beleggings ontsluit en is aansienlik groeivriendeliker as enigiets in die September 2018-pakket; Groei word ook nagestreef deur beperkings soos visums en die gemak van sake doen aan te pak, en deur sakelui, die regering en arbeid te kry om saam te werk; Spesifieke stappe word gedoen om insluiting te bevorder en ondernemings in swart besit te skep; en die president het die regering se benadering op die beleggingskonferensie opgesom: “Ons het oor die afgelope 18 maande vordering gemaak. Dit was stadig dog noemenswaardig.”

Hy het ’n Konfusiaanse spreekwoord aangehaal: “Die man wat ’n berg verskuif, begin deur klein klippe weg te dra.” Dit is hoe hy regeer.

Uitstaande hervormingsitems

’n Kontrolelys van uitstaande kwessies is nuttig. Dit sluit in: Die drie Eskom-/energieverwante kwessies waarna hierbo verwys is. Daar moet met die ontbondeling van Eskom en optrede oor gas- en windkrag begin word; Die olifant in die kamer is die stabilisering van die regering se skuld. Die minister van finansies het ’n doelwit van ’n primêre balans teen 2022-’23 gestel. Dit sal R150 miljard (R50 miljard per jaar) verg in ’n kombinasie van uitgawebesnoeiings en belastingverhogings. Hy sal in sy begrotingsrede in Februarie duidelik moet aandui hoe hy dié doelwit gaan behaal. Hy het sowat 100 dae; Die president én die finansminister het aangedui ’n private ekwiteitsvennoot word vir die SAL beoog. South African Express verg beslissende optrede. Die SAUK-bestuur moet wys hy kan by die begroting hou;

Uitspraak in die hofsaak oor die mynbouhandves se eens-bemagtig-altyd-bemagtig-dispuut om mynbou-onsekerheid finaal op te klaar; Finalisering van “onteiening sonder vergoeding” om sekerheid oor eiendomsregte te verskaf; en  Versnelling van grondhervorming in stedelike en landelike areas.

* Landman is ’n politieke ontleder. 

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Hervormings  |  Aanpassings  |  Eskom  |  Ekonomie  |  Sa Ekonomie  |  Planne
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.