Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe werk ’n staat sonder ‘swaardmag’?

My oupa het twee Langenhoven-spreuke teen sy studeerkamermure gehad. Die spreuke het nuwe­ betekenis gekry terwyl ek na die onluste op TV gekyk het hoe winkelsentrums leeggedra en reusepakhuise afgebrand word.

89 winkelsentrums en 45 pakhuise is in KwaZulu-Natal geplunder en afgebrand en 139 skole is beskadig.

Pieter Mulder

“Om af te breek, is geen kuns nie,” is die bewoording van die een Langenhoven-spreuk. Op TV sien ek presies dit. Geboue, skole en ondernemings wat met fyn beplanning oor dekades heen opgebou is, word in een dag afgebreek. Die rede waarom eie skole beskadig word, sal ek nooit verstaan nie.

Die ander spreuk is: “Daar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is dié wat reeds tevore gewys het hulle kan byt.”

By enkele winkelsentrums was die polisie sigbaar. Die plunderende skare het geen ag op hulle geslaan nie. Die polisie het oor die jare heen gewys hulle het geen byt nie. Die skare vrees hulle nie. Hul knor is niks werd nie.

Daar is ’n groot verskil tussen veilig wees en veilig voel. Inwoners voel skielik nie meer veilig in hul buurt ná die onluste nie.

Die polisie sê hulle wou nie mense doodskiet nie – toe doen hulle niks. Daar is baie stappe tussen niks doen en skiet. In ander lande sien ons polisielede met skilde, traanrook, waterkanonne en veiligheidsdraad wat afgerol word.

Talle ontstellende video’s van die plundering het op sosiale media gesirkuleer.

Die video wat my die meeste ontstel het, is van ’n groep mans wat rondbeweeg en skreeu: “There is another one!” Ek het eers nie geweet waarna hulle verwys nie. Toe word dit duidelik. Hulle soek polisielede. Nadat hulle nog ’n polisiebeampte gekry het, plaas hulle hom langs twee ander wat reeds bedremmeld teen ’n muur staan. Die skare skeer met hulle gek en beveel hulle om te sit. Gedwee gaan sit die drie polisielede.

Hoekom het dit my ontstel? Omdat ’n aanval op die polisie eintlik ’n aanval op die staat is.

In staatsleer het ek geleer dat die staat die monopolie op geweld besit.

In die Bybel het ek in Rom. 13 oor die owerheid geleer: “Want die owerheid is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte.

“Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie; want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”

Die wyse waarop die skare teen die drie polisielede optree, bevestig vir my dat die staat sy “swaardmag” verloor het. Uit die video is dit duidelik dat die polisie, as deel van die staat se swaardmag, nie meer die monopolie op geweld besit nie.

Dit het ingrypende implikasies, want mislukte state lyk so. Van so ’n mislukte staat word gesê: “The president is in office,but not in power.

As burgers het ons geleer dat die staatsdiens swak is. As alternatief het ons eie dienste ontwikkel, soos koerierdienste om die poskantoor se werk te doen.

As burgers het ons geleer dat die polisie ons nie teen misdaad kan beskerm nie. As alternatief het ons amper drie keer soveel private veiligheidsbeamptes as polisiebeamptes.

As burgers het ons nou uit die onluste geleer dat die polisie ons nie teen massa-onrus kan beskerm nie. As alternatief vertrou gemeenskappe nou op buurtwagte en eie wapens.

Sihle Zikalala, KwaZulu-Natal se premier, kritiseer buurtwagte en in hierdie tyd probeer Bheki Cele, minister van polisie, gewone burgers ontwapen.

Daar is geen manier waarop gewone burgers in die huidige klimaat dié ANC-voorstelle sal aanvaar nie.

  • Dr. Mulder is ’n voormalige parlementslid en professor.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.