Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoekom Eskom steeds vuriglik in my gebede is

Wie sal stry dat vanjaar se winter landwyd een van die strafste in dekades is?

En wie sal nie saamstem met die woorde in Eugène Marais se “Winternag” nie? “O koud is die windjie / en skraal. / En blink in die dof-lig / en kaal, / so wyd as die Heer se genade, / lê die velde in sterlig en skade . . .”

Selfs William Shakespeare kon dit nie beter stel nie. Hy kom darem ’n goeie tweede met “Blow, blow, thou winter wind, / Thou art not so unkind / As man’s ingratitude; / Thy tooth is not so keen, / Because thou art not seen, / Although thy breath be rude . . .”

Heel gepas, want ’n tierende, ysige winterwind ruk aan my huis se nokke terwyl ek met afwagting daarna uitsien om op ’n warm elektriese kombers in te kruip.

“The alternative is too ghastly to contem­plate,” soos John Vorster as eerste minister destyds gewaarsku het oor waartoe Suid-Afrika hom sal wend as die wêreld volhard om hom oor sy beleid van afsonderlike ontwikkeling in ’n hoek te druk. Met destyds selfs die bedekte dreigement van ’n kernbom. Hoe absurd klink dit nie nou nie!

Waar in die wêreld behalwe in ons liewe Grap-land is so iets moontlik?

Amper so absurd soos die R350 000 per maand wat Krieket Suid-Afrika – voortstrompelend van die een krisis tot die ander en intussen hernoem na “Crisis South Africa” – se onbevoegde voorsitter per maand betaal is om krieket op te mors, en ten spyte van sy skorsing vanweë wanbestuur en bedrog, steeds kry.

Waar in die wêreld behalwe in ons liewe Grap-land is so iets moontlik?

Maar die winterkoue. Eskom bly in my gebede. Vuriglik. Jou bloed raak mos dun soos die jare aanstap. Ek sal baie geriefies prysgee, maar nie my elektriese kombers nie.

Ek dank die liewe Here elke aand daarvoor as ek op myne inkruip. Nie sonder ’n grief in my hart nie omrede hierdie genadetjie mense wat in haglike toestande leef ook kon toegekom het as miljarde nie gesteel en vermors is nie.

Hy was ’n groot boer en ’n ryk man, maar suinig, wat natuurlik die rede was vir sy rykdom.

Nie dat ek my net op Eskom verlaat nie. ’n Boer maak mos ’n plan. Soos oom Spark Steenkamp, doerietyd van Matjiesfontein in die Noord-Roggeveld, waar dit in die winter tussen man en vrou ryp, selfs al lê jy binneboud.

Hy was ’n groot boer en ’n ryk man, maar suinig, wat natuurlik die rede was vir sy rykdom.

Sy “verwarmer” in die yskoue voorhuis op Matjiesfontein was ’n primusstofie met bo-op die brander ’n ronde plaatjie vol klein gaatjies waardeur blou vlammetjies gesellig gelek het.

Toe ek en my pa op Matjiesfontein oorgeslaap het, het ons soos om ’n braaivleisvuur in ’n sirkel om die brommende stofie gesit.

Toe dit slaaptyd word, het oom Spark vir deugsame ant Joey, my pa se niggie, gesê: “Maak dan daar vir ons ’n warmigheidjie voor ons gaan lê.”

Toe sit sy ’n kastrolletjie met melk op die sto-fie en binne ’n japtrap toe drink ons soet warm Ovaltine, lankal van die winkelrakke af. Twee vlieë met een klap, kan jy maar sê.

Meer oor:  Eskom  |  Johan Van Wyk  |  Koue Weer  |  Koue  |  Winter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.