Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoekom Gigaba soos ’n neet klou
Rapule Tabane

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, se probleme bevestig bloot dat hy die volmaakte voorbeeld is van die gemiddelde Suid-Afrikaanse politikus.

Gigaba klou verbete aan sy pos nadat die openbare beskermer (OB) bevind het hy het nie net die etiese kode vir kabinetslede oortree nie, maar ook die Grondwet omdat hy doelbewus onder eed gelieg het. Die OB beveel aan dat pres. Cyril Ramaphosa teen Gigaba optree. Dit kan wissel van ’n blote teregwysing tot afdanking.

Die hooggeregshof het in 2017 bevind Gigaba het meineed gepleeg én die Grondwet oortree. Die uitspraak het gevolg op ’n hofstryd wat Fireblade Avia­tion, wat deur die skatryk Oppenheimers besit word, in 2016 teen die departement van binnelandse sake en ander begin het.

Gigaba het volgehou hy het nié toestemming aan die Oppenheimers gegee om ’n private terminaal by die O.R. Tambo-lughawe te bedryf nie, maar die howe het verskeie kere die teendeel bevind. Die konstitusionele hof het verlede week sy aansoek van die hand gewys om appèl aan te teken teen die bevinding dat hy meineed gepleeg het. Gigaba se aanvanklike appèl teen die uitspraak is vroeër vanjaar in die appèlhof met koste van die hand gewys.

Die konstitusionele hof se bevinding is die einde van die pad vir Gigaba.

Die konstitusionele hof se bevinding is die einde van die pad vir Gigaba. Hy het homself, sy gesin en die regering ook in die verleentheid gedompel deurdat ’n seksvideo van hom uitgelek het. Pleks dat hy verantwoordelikheid vir die video aanvaar, voer Gigaba aan sy foon is gekraak in ’n komplot van politici wat hom wil vernietig.

Al die voorvalle bewys maar net Gigaba se onvermoë om verantwoordelikheid vir sy dade en swak besluite te aanvaar. Hy boots bloot ander politici na wat voorheen in soortgelyke situasies was. Ek verwys spesifiek na politici ná 1994. Voor 1994 was die regering onwettig en hul gedrag kan nie ’n maatstaf vir demokratiese optrede wees nie.

Gigaba is arrogant én desperaat. Hy het twee universiteitsgrade en het homself lank voorgehou as ’n intellektueel wat uit die ANC-jeugliga se range opgang gemaak het en Suid-Afrika se volgende president gaan word. Hy glo sommige “jaloerse” mense wil dié ambisie kelder.

Hy neem eerstens aan dat die ANC nog lank die regerende party gaan wees en tweedens dat hy president sal word.

Hy neem eerstens aan dat die ANC nog lank die regerende party gaan wees en tweedens dat hy president sal word ongeag wat ANC-lede of die res van Suid-Afrika daarvan dink. Dit is hoekom hy aan sy pos bly vasklou. Die toekoms wat hy vir homself sien, hang van sy voortgesette bekleding van ’n politieke amp af.

Dis om presies dieselfde rede dat Jacob Zuma lank ná sy vervaldatum soos ’n neet bly klou het. Dit gebeur nie aldag dat jy iemand soos Nhlanhla Nene kry wat erken hy het gelieg, verskoning vra én bedank nie.

Selfs Patricia de Lille het haar beter as Gigaba gedra. Al het sy aanvanklik geweier om as burgemeester van Kaapstad te bedank ná beskuldigings van haar party en ’n interne ondersoek in die raad, het sy die tekens reg gelees toe dit tyd was om te gaan. Sy het lank genoeg gebly om haar saak te stel, ’n ooreenkoms met Mmusi Maimane te beding en die ergste moontlike verleentheid vir die party te skep. Sy het besef daar is ’n lewe buite die burgemeesterskantoor en die DA.

Maar mense soos Gigaba is te bang om buite die politiek te beweeg. Hulle is nie bereid om ’n CV af te stof en om werk aansoek te doen nie. Of om ’n onderneming of politieke party te begin nie. Ons politici het hulle vir te lank vergryp aan openbare hulpbronne en ken nou niks anders nie. Ek hoop Ramaphosa hou by sy woord en verminder die kabinet met die helfte. Politici moet af en toe uit hul gemaksones geskud word.

) Tabane is City Press se politieke redakteur.

Meer oor:  Malusi Gigaba  |  Politiek  |  Korrupsie  |  Presidentskap  |  Politieke Partye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.