Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoekom hierdie Kersgeskenke dan so afskiet?

En daar kry kindwees sowaar weer ’n gevoelige knou, reg op die kennebak. En dít nogal hier vlak voor Kersfees.

Dikwels vra ek myself af of dit enigsins nog die moeite werd is om ’n laaitie in hierdie tyd te wees, want daar word dan deesdae soveel perke geplaas op die wyse waarop hulle hul onskuldige kinderjare moet uitleef.

Nolan Venter

Om vir ses van die bestes in ’n skoolhoof se kantoor te buk is al dekades lank taboe. En daarmee saam die pret om in privaatheid na mekaar se agterstewe te kyk en die sersantstrepe gade te slaan wat deur die rottang nagelaat is. Ai, en het ons nie destyds geskaterlag wanneer ons na daardie bulte op mekaar se sitvlakke kyk nie?

Maar dis oor iets wat laaities baie na aan die hart lê waaroor ek vandag my mond wil uitspoel – speelgoedgewere. My hart, wat einde vandeesmaand al 60 jaar lank klop, het sommer ’n goeie paar slae gemis toe ek nou anderdag lees dat Gun Free South Africa (GFSA) aanbeveel ouers moet wegdoen met speelgoedgewere as geskenke. Ek moes dit ’n tweede keer lees net om sekere te maak my oë trek my nie dalk ’n streep nie.

En ek het my sommer weer in my tiende lewensjaar aan die voetenent van oupa en ouma se koper­katelkooi bevind op Kersoggend met die muwwe reuk van droë mielieblare uit die matras wat nog in die lug hang terwyl ek besig was om my Kerskous op die misvloer uit te pak.

Met oë so groot soos dié van die ontslape Al Debbo het ek oopmond na my geskenk gestaar: twee speelgoedrewolwers, kompleet met holster en lyfband. Soos Ruiter in Swart en Kid Colt uit die destydse prenteboekies het ek daardie dag ewe windmakerig op ons werf rondgestap en ure lank geoefen om my pistole so vinnig moontlik van langs my heupe in ’n skietposisie te kry.

Want hoe lank nog sal die regering kan byhou met die snelgroeiende staatstoelae vir kinders?

Ek het selfs vergeet om, soos gebruiklik, my tande te slaan in daai lekker linnedoek waarin ouma Krismis se doekpoeding gekook het.

Nee kyk, ’n speelgoedgeweer was elke laaitie se droom. Nóóit is gaan slaap voordat behoorlik cowboys en kroeks gespeel is nie. Hetsy met skaap- of beeskakebene of met gewere geskep uit draad of hout.

En was ons die meesters van kamma-kamma-spel! Vele aande is een of twee van ons bloedneus huis toe omdat hy geweier het om te val wanneer hy “doodgeskiet” is.

Dis só jammer dat geweld in hierdie geliefde land van ons nou ’n demper moet plaas op die hedendaagse seunskind se pret en plesier.

Al wat ek hierdie Kersfees voorsien, is ’n magdom laaities wat senutergende tantrums in ons land se vele speelgoedwinkels en langs hul Kerskouse gooi. Sekerlik sal daar genoeg trane wees om ons land se droogte die nekslag toe te dien.

En nou wonder ek watter kinderspeelding volgende jaar in die slag gaan bly. Moet asseblief nie sê nie, ek weet reeds: poppe vir dogtertjies.

Want hoe lank nog sal die regering kan byhou met die snelgroeiende staatstoelae vir kinders?

Meer oor:  Nolan Venter  |  Kersfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.