Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoekom is die Smarties dan nou so bleek?

Nou kan jy ook nie meer op ’n Greyhound-bus ry nie. Dié busdiens sluit binnekort.

Dana Snyman

Jy kan ook nie meer ’n Choco­late Log koop as jy lus is vir iets soets nie. Of ’n Caravan. Of ’n Nux. Of een van daai plat, taai Creamy Toffees waarop jy lank gelede byna ’n tand gebreek het. Hulle maak nie meer Creamy Toffees nie en op ’n dag kon jy nie meer ’n Hubbly Bubbly-koeldrank koop nie. Ook nie ’n blikkie Groovy nie.

Die Spur het nie meer ’n salad valley nie en niemand kom lewer meer soggens vir jou melk by die huis af nie, mits jy die leë Dairy Bell-bottel – daardie een met die oranje koeitjie op – met die koepon daarin op die stoeptrappie gelos het.

Volkskas-bank bestaan nie meer nie. Jan Marais se Trust Bank-meisies sal nie meer in daardie mini-rokkies kom nie en jy kan nie meer ’n Nissan 1400-bakkie nuut koop nie. Of ’n kollekteeroproep by ’n tiekieboks maak nie. Of ’n tjek uitskryf. Of ’n telegram stuur. Of oom Lassie se geheuekursus volg, jou spiere met ’n Bullworker oefen, of by Jannie Raath leer klavier speel nie – Jannie Raath, wat glo selfs ’n bobbejaan kon leer klavier speel.

Martino die towenaar kul jou nie meer hier nie en ook nie meer daar nie.

Esmé Euvrard en Jan Cronjé kan nie meer op hul program So maak mens oor Springbokradio vir jou raad vir ’n benoude bors gee en ’n dadelbroodresep met jou deel nie.

Glenda Kemp dans nie meer kaal met haar luislang Oupa nie. Jan Hettema, die tydrenjaer, toets nie meer ’n paar Bata Toughee-skoene oor ’n ruwe terrein in daardie TV-advertensie nie. Martino die towenaar kul jou nie meer hier nie en ook nie meer daar nie.

Jy stap deur ’n winkel en soek vergeefs na party goed: ’n Super Springbok-rugbybal en Aspro-pynpille, Gary Player-mansnesies, North Star-tekkies. En hoekom is die Smarties nou so bleek? Of is jou oë besig om te verswak?

Nêrens meer ’n Outspan-plastieklemoentjie, soos die een wat jou zef oom op sy Anglia se lugdraad het nie. Nêrens meer ’n ou in ’n rooi Coke-baadjie wat ’n duisend-en-tien truuks met ’n jo-jo kan doen nie. Nêrens ’n piepiepot wat Ouma in die nag onder die bed uit trek en sjoeing-sjoeing oor dit hurk nie. Nêrens ’n Putco-bus om voor uit te swaai nie. Nêrens ’n Bonusobligasie of ’n botteltjie Salusa45 om te koop nie. Nêrens ’n telefoongids wat jy later in die vorm van ’n Zoeloe-hut vou nie.

Wie tik nog ’n brief op ’n tikmasjien, wie kyk nog na ’n fliek op ’n VHS-kasset in ’n videospeler op ’n Telefunken-TV-stel?

’n Burgemeester dra nie meer ’n goue ketting nie. ’n Vleuel gooi nie meer die bal by die lynstaan in nie. Nêrens meer ’n kaal meisie met swart sterretjies op haar borste nie en nêrens kry jy daardie afdruk van De Breede- en De Smalle-weg om in jou huis te hang nie. Die John Rolfe-helikopter kan jou nie kom red nie, en die NP bestaan nie meer nie. Frik du Preez sal nooit weer drop, place en score nie. Speel kinders nog toktokkie?

Die lewe is verandering en verandering is die lewe.

Meer oor:  Verandering  |  Dana Snyman  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.