Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoekom ons dié naam moet ken
Prof. Amanda Gouws

Die Italiaanse filosoof Georgio Agamben skryf in sy boek Homo Sacer (1995) dat daar sekere mense is wat buite die wetlike beskerming van die staat leef.

Dit is mense wat byvoorbeeld doodgemaak kan word sonder dat dié wat hulle doodmaak, noodwendig vervolg sal word. Volgens Agamben leef hierdie mense ’n ontblote lewe (bare life).

Dit is die staat wat besluit watter kategorie van mense uitgesonder sal word vir ’n ontblote lewe deur die manier waarop die staat regeer. Sodanige mense leef buite die politieke gemeenskap en hulle lewe is min werd.

Verlede week is ’n swart Amerikaner, George Floyd (46), in Minneapolis, Minnesota, se dood veroorsaak deur ’n wit polisieman wat met sy knie op sy nek gekniel het en hom sodoende versmoor het.

Swart ongewapende mans word gereeld deur die polisie in Amerika doodgemaak, vandaar die Black Lives Matter-beweging.

Hoewel swart Amerikaners kan aanspraak maak op die beskerming van die wet, ontvang hulle blykbaar nie dieselfde beskerming as hul wit landgenote nie.

Hoewel swart Amerikaners kan aanspraak maak op die beskerming van die wet, ontvang hulle blykbaar nie dieselfde beskerming as hul wit landgenote nie.

Verlede week het Herman Eloff ’n meningsartikel op News24 geskryf met die titel “If you’re white and you don’t know the name George Floyd, you are part of the problem”.

In reaksie gaan ’n man met ’n woeste baard wat Afrikaans praat op ’n tirade oor die artikel in ’n WhatsApp-video.

In die video stel hy sekere vrae aan Eloff, onder meer “Ken jy die name van al die haarkappers wat nie nou ’n inkomste het nie?” en “Ken jy die naam van ’n boer wat vermoor is?” Indien nie, is Eloff, volgens hom, deel van die probleem.

Die Suid-Afrikaans gebore televisie-aanbieder Trevor Noah se siening van die Floyd-voorval betrek die probleem van ’n ontblote lewe.

Noah verwys na die sosiale kontrak wat die staat met sy burgers aangaan en wat hulle laat glo dat almal op dieselfde regte en beskerming aanspraak kan maak, maar elke keer wat ’n swart Amerikaner doodgemaak word, is dit duidelik dat die staat sy kontrak met sy swart burgers verbreek.

Rassisme plaas swart mense in ’n kategorie wat hulle wys dat hul lewe nie dieselfde waarde het as die lewe van wit mense nie.

Uit protes teen Floyd se dood het mense onder meer winkels geplunder. Die vraag wat talle Amerikaners vra, is: “Hoe help dit enigsins?” Noah sê egter dis die verkeerde vraag. Die vraag moet wees “Hoe help dit nie?” Hy redeneer dat dit is hoe mense reageer wanneer hulle nie meer hul kant van die kontrak nakom nie, aangesien die staat nie sy kant nakom nie.

Noah verwys ook na ’n onlangse voorval in Central Park, New York, toe ’n jong wit vrou deur ’n swart man gevra is om haar hond aan ’n leiband te sit, ’n vereiste in daardie deel van die park. Sy het onmiddellik uitdagend vir hom gesê sy sal die polisie bel en vir hulle sê ’n swart man bedreig haar lewe – wat sy ook gedoen het.

Noah maak die punt dat sy geweet het dat die polisie haar sou beskerm omdat sy wit is, ongeag die feit dat sy gelieg het. Sy weet die staat het ’n kontrak met haar, maar nie met hom nie.

Rassisme plaas swart mense in ’n kategorie wat hulle wys dat hul lewe nie dieselfde waarde het as die lewe van wit mense nie – of dit nou in Amerika gebeur en of dit hier gebeur.

Dít is die punt wat Eloff probeer maak het. Dit gaan oor die verwerping van rassisme en die idee dat sekere mense se lewe minder werd is as ander s’n. Dit is nie of/of nie, dit is en/en. Ken ons die naam George Floyd, en ken ons die name van ander mense wat in ’n kategorie is wat hulle uitsluit van die staat se beskerming?

  • Prof. Gouws is verbonde aan die departement van politieke wetenskap van die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  George Floyd  |  Amanda Gouws  |  Rassisme  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.