Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoekom ons nog so bang is vir saamwees

Soms word ons in Suid-Afrika geseën met wonderlike saamwees-oomblikke wanneer ons ietsie proe van die verenigde land waarvan ons almal droom.

Soms kry ons proeseltjies van eenheid, solidariteit en sosiale kohesie in verskeidenheid, ná geskeidenheid, nabyheid, eenheid ten spyte van talle kwellinge. Om dit in Bybelse taal te sê: As die een lid ly, ly al die lede saam; as die een lid geëer word, is al die lede saam bly.

Die onlangse Wêreldbeker-oorwinning was só ’n wonderlike saamwees-oomblik. Tog was daar ook skeptiese stemme wat die vreugde wou demp en die belangrikheid van die nasionale saamwees-oomblik wou relativeer.

Ek dink daar is verskeie redes waarom mense skepties is oor sulke momente. Wanneer mense van verskillende agtergronde saam is, is die risiko groot dat ons, teen ons beste bedoelinge, mekaar kan seermaak. Verkeerde gebare, optrede, woordgebruik en liggaamstaal kan seermaak omdat van ons onderbewuste vooroordele teenoor mekaar daarin skuil.

Op bewuste vlak kan ons teen diskriminasie wees, maar op onderbewuste vlak stoei ons nog met vooroordele en voorveronderstellinge. In die saamwees maak ons mekaar, selfs onderbewustelik, dan seer.

Jare gelede het sommige kerkleiers gesê ons moet versigtig wees met eenheidsinisiatiewe soos gesamentlike aanbidding, want kerke wat nie regtig wil verenig nie.

Daar is ’n tweede rede. Jare gelede het sommige kerkleiers gesê ons moet versigtig wees met eenheidsinisiatiewe soos gesamentlike aanbidding, want kerke wat nie regtig wil verenig nie, kan dit voorhou as bewys dat eenheid reeds bereik is en dat verdere eenheid dus nie belangrik is nie. Diesulkes beskou verkeerdelik die saamwees-oomblikke as sodanig.

Saamwees-oomblikke en eenheidsinisiatiewe is nie die einddoel nie. Die Belydenis van Belhar se logika help ons hiermee. Art. 1 roep ons op tot die aanvaarding van eenheid as tegelyk geskenk en opdrag, as gawe wat reeds voorlopig gevier mag word, én as opgawe wat deurlopend nagejaag moet word.

Art. 2 behels dat mense van verskillende agtergronde wat eenheid vier, en wat tegelyk saamwerk aan groter eenheid, spesifiek saam werk vir versoening.

Dit behels die oorkoming van allerlei vorme van vervreemding en diskriminasie. Ons kan slegs tesame, en nie in isolasie nie, hierdie euwels oorkom.

Art. 3 leer dat ons saam streef na geregtigheid, na deernisvolle, ontfermende, omarmende, helende geregtigheid – veral teenoor die mees weerloses en uitgeslotenes.

Ek vier ons Wêreldbeker-oorwinning voluit. Ons het hierdie hoopgewende saamwees-oomblikke nodig – as brandstof om te leer om mekaar te omarm sonder om mekaar seer te maak. En om saam te werk vir groter en duursame eenheid, versoening en geregtigheid – in rugby en op elke ander lewensterrein.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Kerke  |  Landgenote  |  Saamwees  |  Samesyn  |  Sinodes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.