Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoekom steek omgewingsake inligting weg?
Elise Tempelhoff

Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting van 2000 (Paia) is veronderstel om ’n instrument te wees waarmee Suid-Afrikaners toegang tot inligting – die lewensaar van enig demokrasie – kan kry.

Inligting bemagtig mense en bevorder burgerlike deelname.

Dit wil egter voorkom of omgewingsake toenemend in geheimhouding geskied, wat lei tot al hoe meer Paia-aansoeke teen die departement.

Die omgewingsjoernalis Don Pinnock skryf verlede week in Daily Maverick: “As jy inligting van Barbara Creecy, minister vir die departement van omgewingsake, bosbou en visserye, oor beleid en aktiwiteite in die naam van ‘ons’, die mense van Suid-Afrika, wil kry, beproef dit jou geduld tot die uiterste”.

Hy vra waarom inligting van “ons” oor “ons natuur” van “ons” weerhou word en waarom ’n mens deur die burokrasie van ’n Paia-aansoek moet worstel om inligting te kry. Waarom die geheimhouding?

Meesters van die dwaalspoor

Pinnock gee amptenare in Creecy se departement wel krediet en sê dit is nie asof hulle nie kommunikeer nie. Maar, voeg hy by, hulle is meesters daarvan om jou op ’n dwaalspoor te lei.

En moenie dink dit is gratis nie. Al kos dit net ’n paar rand om ’n Paia-aansoek in te dien, is dit eintlik ondenkbaar dat jy vir inligting oor jou omgewing moet betaal. En as jy deur die hele Paia-proses geswoeg het, moet jy wag. Die departement het 30 dae om ’n antwoord te verwerk en kan vir nog 30 dae uitstel vra. Nieregeringsorganisasies (NRO’s) is tot by breekpunt gefrustreerd omdat inligting oor belangrike sake waarmee hulle werk, soos die handel in wilde diere en renosterstropery, van hulle weerhou word.

Michele Pickover, direkteur van die EMS-stigting, sê dié organisasie het sedert Mei 2019 66 Paia-aansoeke by die departement ingedien. Dié NRO is veral betrokke by permitte wat uitgereik word vir die jag van wild wat van die wildtuin af oorloop na die aangrensende natuurreservate.

Regshulp oor jagpermitte

Pickover sê hulle het regshulp ingeroep om inligting oor jagpermitte uit die regering te probeer kry en al R500 000 aan regskoste bestee. Die departement se verweer is telkens dat hy “nie inligting oor derde partye” kan bekend maak nie. Waarom die geheimhouding oor wild wat aan Suid-Afrikaners behoort en deur ’n “derde party” doodgeskiet word?

Dr. Bool Smuts van die Landmark-stigting, wat hom vir luiperdbewaring beywer, is ook op die oorlogspad. Volgens hom word honderde Paia-aansoeke bloot geïgnoreer. Hy meen Paia word misbruik om moontlike korrupsie toe te smeer, uit onbeholpenheid of deur amptenare wat ongemaklik voel oor vrae. Smuts glo die tyd is ryp om die konstitusionele hof te nader oor die manier waarop Paia in die departement van omgewingsake misbruik word.

Waarom die gesukkel om inligting oor ons land se biodiversiteit te kry? Dit is tyd dat amptenare wat hulself as verhewe bo die wet beskou, hul werk begin doen en inligting beskikbaar stel. Ons moet aandring op antwoorde.

  • Tempelhoff is ’n vryskut-omgewingsjoernalis.
Meer oor:  Elise Tempelhoff  |  Omgewingsbewaring  |  Omgewingsake  |  Paia  |  Dwaalspoor  |  Inligting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.