Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Brandpunt
Hoera! Arthur Nathan is terug

Dis warempel goeie nuus – dat die Mangaung-metro toegangsgeld vir die vervalle Arthur Nathan-swembad slegs met 10% gaan verhoog, soos berig is. ’n Metro wat dié truuk kan uithaal met Arthur Nathan, wat al ’n kwarteeu toe staan en in ’n vieslike hool verval het, kan enigiets vermag.

Gert Coetzee

In ruil mag Mangaung maar die toegangsgeld, wat hy die afgelope 25 jaar nie gehef het nie, met 10% verhoog, selfs al klop dit inflasie. Net soos die styging in toegangsgeld van die Bloemfontein-dieretuin wat einde verlede jaar tot verligting van die diere ook sy hekke gesluit het.

Die moontlikhede is eindeloos. Nou kan die Mangaung-metro selfs die opknapping van die Arthur Nathan wat al in 2015 aangekondig is, deurvoer. Tesame met die aanlê van die kabelkar van die swembad na Nelson Mandela se beeld op Naval Hill wat ook toe met groot fanfare as ’n internasionale trekpleister van toeriste aangekondig is. Die metro kan dit selfs oorweeg om die skemerdames wat snags ingevolge hul oudste beroep ter wêreld die strate hier vir klandisie patrolleer te verwyder, soos in 2015 in die ANC-plan vir opknapping van die buurt beloof is.

Die vraag is waarheen skuif hulle.

Dalk is dit deel van Mangaung se hersiene sakeplan vir 2020-’21, waarin die stukkie oor Arthur Nathan en die dieretuin van vorige jare gespoeg en geplak is, dat die nagwandelendes juis deel van Arthur Nathan se swemmende clientele moet uitmaak sodat danksy hul bydrae tot die (nou hoër) toegangsgeld dit lei tot ’n inkomste-stroom wat die vaartbelynde, kostedoeltreffende metro tot nuwe hoogtes gaan lei. Sowat van elementêre sakevisie is ongekend.

Wat is volgende? Die verwydering van swart vullissakke! Die vul van slaggate! Geen lang gras en onkruid!

The sky is the limit! En wie moet ons bedank? Daar’s een dinges in die grasgroen swembadwater.

The sky is the limit! En wie moet ons bedank? Daar’s een dinges in die grasgroen swembadwater.

As die horde skemervroue in hul baaikostuums in die digbeboude buurt op die swembad toesak, gaan dit neuk om te hou by die vroeë reël van die Arthur Nathan (geopen in 1907 as die Fairview-poel) dat gemengde swemmery (mans en vroue) taboe was.

Tot in 1927 het ’n plaaslike dominee oor hierdie onhebbelikheid gekla, onthul daardie mees vertroude joernalistieke bron (die internet).

Die nuwe klandisiewaarde wat dreig om kop uit te steek sou ook indruis teen die latere stuitige reël dat mans en vroue by die swembad nie nader as ’n sekere afstand van mekaar mag kom nie. Wel proaktief, is dat die sosiale afstand (van Covid-19) in die sakemodel vir nuwe inkomste ingebed is.

Selfs die ondernemingsgees van die Bloemfontein-stadsvaders wat in die vroeë 1900’s die bou van die swembad aangepak het, hou nie kers vas by die visioenêre durf van Mangaung se ANC-stadshoeders, met die dinamiese me. Olly Mlamleli aan die spits, nie.

Die swembad vir die Bloemfontein Corporation (oftewel die munisipaliteit) is nie vir winsbejag gebou nie, maar moes selfstandig wees. “Maar nadat die bad meer as ’n jaar in bedryf was, het dit geblyk allermins die geval te wees. Meningvormers het gebrom dat die swembad in ’n wit olifant ontaard. Min inwoners was daarvan bewus dat die onderdakswembad die heel jaar oop was en het hulle derhalwe in die wintermaande onttrek, is onder meer aangevoer,” skryf Hannes Haasbroek, geskiedskrywer.

Volgens swimhistory.co.za was dit “ ’n ware produk van ingevoerde Britse kultuur aangesien die hele poel bedek is deur ’n dakstruktuur van staal wat teen hoë koste van Engeland ingevoer is”. Dít het later die dak van die Bloemfonteinse mark geword.

Maar hoera! die Arthur Nathan is terug. Danksy ANC-baanbrekerswerk.

Meer oor:  Brandpunt  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.