Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoërskool D.F. Malan: Diversiteit net in naam?

Ek het die onlangse gebeure by en debatte oor die Hoërskool D.F. Malan met ’n mate van belangstelling, maar van ’n afstand af, gevolg. Hoewel ek ’n biografie oor D.F. Malan geskryf het, het ek geen bande met die skool nie.

Lindie Koorts

Die skool loop al jare lank deur oor sy naam, maar ek kon my nog nooit voorstel dat sy weerstand wat betref ’n naamsverandering noodwendig kon spruit uit ’n diep bewondering vir D.F. Malan die mens nie. Vir skole wat hulself roem op prestasie, gaan dit gewoonlik oor ’n “handelsnaam” wat hulle opgebou het en jaloers bewaar.

Onlangs reik die skoolbeheerliggaam ’n verklaring uit dat die skool sy naam gaan verander en in ’n onderhoud erken die voorsitter dat die skool se jonger alumni sterk druk uitgeoefen het. Daarvan was ek vooraf bewus, want die alumni het regstappe teen die skool oorweeg en ek is genader om as ’n kundige getuienis oor D.F. Malan as historiese figuur te lewer.

Daarop het ek, onder meer, dieselfde antwoord gegee wat ek al tevore oor onder meer D.F. Malan-verwante naamsveranderinge gegee het: My rol as biograaf is nie om die finale oordeel te vel of regverdiging te gee nie, maar om die betrokke figuur in sy konteks te verstaan en die motivering agter sy dade uit te pluis en te verduidelik. Om heen en weer oor ’n historiese figuur se meriete te debatteer, is selde produktief, want “ware” historiese figure is kompleks.

Malan kan onthou word as taalstryder en kampvegter vir die arm wit mense – en as die man wat apartheid ingestel het. Wanneer ’n historiese figuur vereer word met ’n standbeeld of deur die naam van ’n skool, gaan dit nie oor daardie persoon as mens nie, maar as simbool. Simbole weerspieël ons waardes – en wanneer ’n land soos Suid-Afrika deur ’n groot omwenteling gaan en die waardestelsel daarmee saam, word eertydse simbole bevraagteken.

My raad is dus altyd dat die gemeenskap waarin ’n bepaalde gebou, skool of standbeeld geleë is, self moet besluit of daardie figuur steeds hul waardes verteenwoordig – en ook die simboliek in die breër samelewing in gedagte moet hou.

Op die oog af het dit gelyk of dit is wat die Hoërskool D.F. Malan gedoen het. Daar was geen regsgeding nie, maar konsultasie met die skoolgemeenskap. Dit wou voorkom of die skool eienaarskap van die proses neem, wat vir my positief was.

Totdat die skool binne drie weke­ weer in die nuus beland het nadat ’n groepie leerlinge wat Pride-maand wou vier, geboelie is. Pleks van die boelies aan te spreek, is die slagoffers geblameer. Dit was ’n verspilde geleentheid om jong mense op te voed oor die verskillende vorme van diversiteit, wat soveel wyer strek as ras (waarmee ons samelewing ewig behep is). Diversiteit sluit ook geslag, geloof, taal en seksuele oriëntasie in en is in ons Grondwet verskans.

Dit laat by my die vraag ontstaan: As die skool so vinnig oor die eerste nuwe hekkie gestruikel het, was daar dan hoegenaamd ’n diepliggende waardeverskuiwing wat betref diversiteit en inklusiwiteit? Was die besluit vanweë nuwe insigte en oortuiging of vanweë druk? En wat vertel dit ons van ons breër gemeenskap? Vereenselwig ons onsself met diversiteit en inklusiwiteit vanweë oortuiging of is dit lippetaal vanweë druk? Beroep ons ons op die Grondwet om ons eie belange, soos taalregte, af te dwing, maar ontken ons die ander vorme van diversiteit wat ook verskans is? En watter hoop het ons op ware inklusiwiteit indien dit die geval is?

  • Lindie Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.